Tuesday, 31 March 2015

Hallo julle almal

Die afgelope naweek was 'n besige paar dae vir ons.

Saterdagoggend het ons al dou voor dag (5 uur) opgestaan om vir Renate Karate toe te vat in Swakopmund.  Dis eintlik nie so ver nie, 35 km, maar mens moet altyd die digte mis op die pad in gedagte hou.  Dit neem in die mis tot 'n uur of langer om die afstand te ry.  As dit mooi weer is, net 'n halfuur.  Maar jy kan nooit vooraf voorspel nie.  Die weer was toe mooi en ons was lank voor half 8 daar.  Gelukkig kon ons toe darem heel voor sitplekke kry in die nuwe sportkompleks.  Dit het goed gegaan met haar.  Dit was die Swakopmund Shotokan Open Champioenships.  Sy het die goue medalje gewen in die kumute afdeling en brons by die Kata.  Ons het seker so 1 uur daar weggekom en het toe gaan pizzas koop om te eet.  Teen half 3 was ons by die huis en het ons maar net rondgesit, behalwe Renate wat nog vir eksamen moes leer en ek wat my 666 foto's wou aflaai op die rekenaar en hulle edit.  Sjoe, dit was harde werk en ek was eers Sondagaand klaar en kon ek dit op facebook pos


Saterdagnag het ons bietjie reen gehad waaroor ek baie bly was.  Toe hoef ons nie die grote tuin Maandag nat maak nie.  Sal dit maar weer more moet doen.

Sondag het lekker rustig aangebreek.  Ons was die heel dag rustig hier by die huis rond en Theo en Elfi het met hulle Macaws gespeel en gesels.  Theo is ook nie eenkeer deur 'n siek pasient uitgeroep nie.  Vyf uur kry hy toe 'n oproep van ons Sekuriteitsmaatskappy.  Daar is by sy spreekkamer ingebreek.  Hulle haal elke keer die venster uit sy spreekkamertjie se raam omdat dit agter is.  Dit is die 4de keer wat dit die jaar gebeur.  Nog nooit voorheen is iets gesteel nie.  Hulle soek laptops en kameras en sulke goed wat hul weer maklik  kan verkwansel.  Die keer egter het hulle die plek omtrent leeggedra.  Die 3 desktop rekenaars is weg, 'n digitale fotoraam, calculaters en allerhande ander goed.  Dit moes al Saterdagnag na die reen gebeur het, want oral was modderspore en die merke van 'n voertuig in die modder  buite die venster wat hul uitgehaal het en netjies teen 'n muur staangemaak is.  Die alarm was aan, maar die sekuriteitsmaatskappy se hul het geen sein ontvang dat die alarm afgegaan het nie.  Ons vermoed dis 'n inside job, want dit lyk of die inbreker presies geweet het waar al die ogies is.  Die hospitaalwag wat rondtes doen, het die uit venster gesien en die sekuriteit gebel Sondagmiddag.  Theo moes lank daar wag vir sekuriteit en die polisie om op te daag en ook om vas te stel wat alles weg is.  Mens kom mos altyd na die tyd agter wat nog weg is.  Gelukkig het ons darem versekering, maar ek is bang hulle begin weier om uit te betaal omdat dit so gereeld gebeur.Theo moes toe nog 'n nagwag ook huur om die oop spreekkamer deur die nag op te pas.

Gister het hulle darem die venster kom terugsit en het ons kwotasies vir die gesteelde goed begin aanvra.  Ons moet ook 'n kwotasie kry vir die Mediese program waarop die hele stelsel, rekeninge en pasient inligting, loop en dis nogal 'n duur storie  So om en by N$20 000 en dalk nog meer, want die ouens wat dit moet kom instaleer en die netwerke weer opstel, vra ook 'n aardige bedraggie.  Ons sukkel egter so om kwotasies in die hande te kry.  Dit lyk asof niemand hier iets wil verkoop en geld maak nie.  En dis van die uiterste belang dat ons die rekenaars en program so vinnig as moontlik weer aan die gang kry.  Dalk as Theo vanaand by die huis kom, het hy al beter nuus.

Renate hou more op met eksamen skryf.  Nogal is Wiskunde haar laaaste vak.  Gister het sy Engels geskryf.  Vandag sit sy al amper sonder ophou voor die boeke om seker te maak sy gaan deur al die Wiskunde. Gelukkig is Wiskunde haar beste vak en kry sy gewoonlik volpunte daarvoor. Ek sal tog bly wees as die eksamen verby is, want dit was 'n besige tyd.  Die eksamen het in die middel van die 1ste termyn geval en het alle buitemuurse aktiwiteite soos normaal voortgegaan.  Dit was nie vir my reg nie.  Hulle het selfs 'n groot sporttoernooi in die middel van die eksamen in Windhoek gehad waarvoor hulle 5 dae weg was.  5 dae waarin daar nie studeer kon word nie.  Toe reen dit boonop en Renate wat vir die 1ste span hokkie daar was en 10 wedstryde moes speel. AGV die reen het die hokkiebaan verspoel en kon hulle net die eerste dag se 2 wedstryde speel.  Sy kon liewer by die huis gebly het en geleer het.  Daar is ook aan hulle studietyd daar belowe, wat natuurlik nie gerealiseer het nie.  Sy moes dus dubbeld so hard werk toe sy teruggekom het.

Theo het nou net tuis gekom en Elfi is besig met aandete.  Ek gaan julle dus eers groet.

Ons praat gou weer
Groete
Theresa

Friday, 27 March 2015

Hi liewe Vriende

Vandag was maar stillerig, net met die gewone huiswerk wat gedoen moes word. Vreeslik eentonig. Ek het darem 'n paar foto's van juwele geneem om te oefen vir 'n photoshoot wat ek volgende week vir 'n vriendin moet doen, wat nuwe juwele vir haar winkel ingekry het.  Ek het dit sommer klaar geredigeer ook.  EK het nou 'n baie beter idee van watter stellings en lense ek moet gebruik.  Die makrolens werk die beste.  Ek het ook nie slegte resultate met my 300mm lens gekry nie.

Ek en Renate het hierdie jaar albei vir die ATKV pluimpies ingeskryf en wonder bo wonder kry ons verlede week briewe dat ons al2 toekennings ontvang op Donderdag, 26 Maart.  Dit was egter nie vir ons moontlik om dit by te woon nie, want Renate het vandag Biologie geskryf.  Nogal 'n lywige vak en baie moeilike werk. Maar,se die reels, as jy nie daar is om jou prys te ontvang nie, verbeur jy dit en staan dit oor tot die volgende jaar.  Tensy jy egter iemand nomineer om dit namens jou in ontvangs kan neem.  Ons het nogal gesukkel om iemand te kry om die gala-aand by te woon, maar gelukkig het ek hierdie wakker vriendin wat 'n neef het wat in Windhoek bly en wie se vrou ook 'n toekenning ontvang.  Sy het dit sommer gou-gou met hulle gereel om ook ons toekennings te ontvang.  Dis ook uitgesaai op die NBC se Afrikaanse Radiostasie en ons het bankvas voor die radio gesit en luister.  Ek het dit ook opgeneem.  Ons het elkeen 'n deelnemerssertfikaat ontvang, wat ek nie dink te sleg is vir 'n eerste poging nie en as mens in gedagte hou dat Renate maar in gr 11 is en teen volwassenes moes deelneem.  Ook nie almal wat deelneem kry so 'n sertifikaat nie.  Ons is dus redelik in ons skik.

More is dit die Shotokan Kus Karate Kampioenskappe in Swakop en ons moet al half 8 daar wees. Dit beteken ons moet al half 6 opstaan as ons wil speling laat vir die mis wat dalk ons rit kan vertraag.  In goeie weer ry mens net 'n halfuur, maar soggens is die mis so dik dat dit jou soms 'n uur of langer neem om die skamele 35km af te le..  Ek vertrou dat sy goed sal doen.  Sy het 'n bruin gordel, maar neem in die Swart gordel afdeling deel.  Al wen sy ook niks, is die ondervinding alleen al die moeite werd.  Sy val net-net in die senior kategorie en dis waarom dit gebeur.  Hulle gaan slegs volgens ouderdom en gewig, en die meeste kinders het teen daardie tyd al swart gordels.  Sy het vir 2 jaar opgehou met karate. Dis hoekom sy nou bietjie agter is. Sy het egter in 1 jaar gevorder van blou na bruin en het ook by die World Cup in Italie verlede jaar 2 silwer medaljes gekry.

Ek moet nou amper vir Renate gaan haal by die skool waar hul Biologie prakties geskryf het vanmiddag.  Ek groet dus tot more.

Lekker middag en aand vir julle
Theresa

+

Thursday, 26 March 2015

Hallo Almal

Ek was vir 'n lang ruk weg weens siekte, maar dit gaan deesdae met my soveel beter dat ek weer kans sien om met die blog aan te gaan.

Febuarie , 'n jaar gelede het ek skielik vreeslik siek geword.  Ek is in die hospitaal in Swakop opgeneem onder 'n internis, wat elke 3 maande vir 'n week daar kom werk.  Die diagnose was uiteindelik 'n erge superkiem wat ek in my niere opgedoen het, en wat met ekstra sterk antibiotika behandel moes word.  Ek is eers in ICU opgeneem vir 3 dae want ek was bewusteloos.  Daarna vir 3 dae in High care waarna ek toe na 'n gewone skaal geskuif is, waar ek nog 10 dae moes bly, terwyl die antibiotika per drup voltyds aan my toegedien is.  Ek was daarna so swak, ek moes van voor af met behulp van 'n fisioterapeut begin loop en kon nog steeds nie verder as omtrent 10 tree stap sonder om om te val toe ek ontslaan is nie.  Ek moes by die huis verder kom oefen en herstel.Verder het ek ander funksies verloor, soos bv my hand-oog-koordinasie.  Ek kon glad nie skryf nie, nie eers my handtekening nie, en toe ek weer wou begin klavierspeel waarvoor ek baie lief is, kon ek dit ook nie meer doen nie.  Die gebrek aan hand-oog-koordinasie het natuurlik ook gesorg dat ek nie weer so goed kon stap nie.  Ek wou gedurig omval, want my balans was ook aangetas.  So het die stappery darem al hoe beter geraak en kon ek darem al stap sonder om elke paar tree te wil omval.  Dit het ook my vrtmoe om te bestuur aangetas, en het ek 'n paar maal by parkeerplekke in ander motors vasgery.

So het 'n jaar verby gegaan, sonder dat ek ooit kon se dat ek honderd persent gevoel het.  Ek was kort-kort siekerig, al was dit net 'n verkoue of maagaandoening en dan die alewige nierpypontstekings waarvoor geen antibiotika later meer gewerk het nie.  Al het ons elke keer laat toets watter kiem dit dis wat my niere aanval.  Dit is so dat as jy te lank en veel antibiotika drink, dat geeneen meer werk nie.  Ek dink dis wat my gebeur het.

Febrarie hierdie jaar raak ek waaragtig weer siek.  Hierdie keer eers met nierontsteking en daarna heeltemal iets anders.  Ek kry onhuidhoudbare borskaspyne, maar die EKG wys geen hartprobleme of hartaanvalle nie.  Maar die pyn raak al erger.  Dis sulke skietpyne wat voel of dit reg deur jou hart gaan.  Ek le by by die huis met 'n drip en kateder in, maar na 2 dae besluit my man dis weer tyd om hospitaal toe te gaan.  Gelukkig is 'n ander internis by Swakop se hospitaal aan diens en hy is heel bekwaam.  Na ek opgeneem is, laat hy onmiddelik weer 'n EKG vir my hart doen en neem borskasplate.  Op die plate wys daar toe 2 duidelike gaatjies waardeur bloedklonte gegaan het.  Dis toe al die tyd wat met my fout was.  Ek is dadelik op bloedverdunningspille, Warfarin, gesit om my bloed dunner te maak.  Op daardie stadium was ek al so swak dat ek skaars die entjie van die bed tot by die badkamer kan loop sonder om heeltemal uitasem en uitgeput te wees.  Ek kon  ook nie maklik terug in die bed kom nie.  Die dokter het streng instruksies gegee dat ek glad nie uit die bed mag beweeg nie, maar dat die verpleegpersoneel vir my bedpanne bring indien nodig.  Nie dat een van hulle die moeite gedoen het om na hom te luister of die instruksies op die kaart te lees nie.  Ek moes maar elke keer aansukkel badkamer toe met hierdie hengske pyn wat my amper laat flou raak.  Toe ek dit aan hom noem, en hy die verpleegsusters daaroor aanvat, het hulle dit doodeenvoudig ontken.  Ek is seker ek het langer in die hospitaal moes bly oor sy instruksies nie nagekom is nie.  Intussen het die pille begin werk en die bloed dunner gemaak, met die gevolg dat ek permanent erge borspyne gehad het.  Dit voel of 'n trop wilde perde op jou borskas rondtrippel.  Seker soos die dunner bloed deur die are begin beweeg.  Ek het regtig gedink ek gaan dood en al wat die verpleegsters doen is lag. Aan elke pasient word 'n healthcare helper toegewys om jou te help bad ens.  Myne het onmiddelik vir my gese dat sy rugprobleme het en my dus geensins kon help nie.  So het ek 6 dae in die hospitaal gele sonder dat ek eenkeer gewas is, my hare geborsel is of my gesig afgevee is.  Sy het haar nie aan my gesteur nie en was bloot geirriteerd as ek die klokkie lui.  Om by die susters te kla, het ook niks gehelp nie, want hulle glo jou eenvoudig nie en sy het gese dat dit ek was wat nie wou was of skoon nagklere aantrek nie, aangesien dit my so uitput.  Die pyne het darem begin minder raak en nog x-straalplate het gewys dat daat nie nog klonte deur my longe is nie.  Die internis het my na 6 dae ontslaan, omdat my man 'n dokter is en self my bloed kon laat trek en ontleed totdat dit op die gewenste vlakke was,  Ek was so bly toe hulle my in die rolstoel daar uitgestoot het, want ek het tot toe nog nie gedink dat ek sou bly leef nie.  Ek het toe al reeds met moeite vir my man en kinders koebaai-briewe geskryf. Ek wens niemand die behandeling toe wat ek in daardie hospitaal gehad het nie.  'n Siek mens verdien darem beter as dit.  Jou hele Menswaardigheid word aangetas, so erg dat jy self nie meer wil lewe nie.  Ek moes ook soms tot 11 uur die nag wag voor ek my medikasie gekry het en party kere het hul doodeenvoudig nooit eers daarmee opgedaag nie.  Ek het dus ook nie my medikasie op die voorgeskrewe wyse ontvang nie.

Tuis het dit soveel beter met my begin gaan.  Die eerste oggend het my huishoudster 'n lekker bak warm water en seep gebring en my behoorlik gewas en skoon nagklere aangetrek,  Net dit het my al weer lusser vir die lewe gehad.  Die borskaspyne was nog erg, maar darem baie minder erg as in die begin.  Ek is gepamperlang, my medisyne gegee, gewas, toilet toe gehelp en terug en dit het my nog steeds 'n week of langer gevat voor ek weer soos 'n mens begin voel het en my menswaardigheid herstel het.  Dis nou 6 weke later en ek voel 'n nuwe mens.  Ek wil se ek voel beter as wat ek in jare gevoel het.  My handoog-koordinasie is baie, baie beter en ek loop ook beter.  Ek voel nie soos die afgelope jaar of ek die hele tyd wil omval nie.  Ek stap nou al redelike ente sonder om uitasem te raak, eet beter en voel sommer ook baie beter. Ek is nog vir 3 weke afgeboek waarin ek glad nie mag bestuur nie.  Ek kry floutes van die bloed wat te dun raak en dit moet nog heeltemal stabiliseer.  Die vlakke wissel nog baie.  Dis net om die presiese persentasie medikasie te kry om dit stabiel te hou.  Ek het 'n hele paar keer al van die floutes neergeslaan.  Gelukkig is die ergste besering nog net toe ek my hele linkerduim en hand lelik verstuit het soos dit teen die rand van die bad gekap het.  Hier en daar het ek 'n bloukol, maar dis nie erg nie.  Hulle kon glad nie agterkom van waar die bloedklonte gekom het nie, en my man is van mening dat die vorige internis my oorgedoseer het met pille en dat dit die klonte veroorsaak het. Meer as die helfte van my pille is verander en ek drink minder as 'n kwart van die hoeveelheid wat ek voorheen gebruik het.  Ek is ook weer meer helder van verstand en voel nie die hele tyd soos 'n zombie nie.  En daarvoor is ek besonder dankbaar

Verder gaan die lewe aan.  Renate skryf eksamen en oefen hokkie vir 'n groot toernooi wat die skool oor 2 weke aanbied.  Hulle het ook Karate Kuskampioenskappe in Swakopmund hierdie naweek waaraan sy ook gaan deelneem.  Hierdie slag sal dit nie so maklik wees om te wen nie want hulle het die bruin en swart belt divisies saamgegooi.  Sy moet dus met haar bruin belt teen swart belte deelneem.  Maar ek vertrou dit sal goed gaan.  Dis in elk geval goeie kompetisie vir haar en doen sy baie ervaring op.

Ek en my vriendin het vanoggend lekker Scrabble gespeel.  Dit hou mens se brein aktief en aan die gang.  Ons speel in Engels wat nie een van ons se moedertale is nie.  Sy is Duits en ek Duits en Afrikaans.  Dit maak dit nog meer uitdagend en ek leer elke slag 'n paar nuwe Engelse woorde.  My kinders speel dit ook graag, maar in Afrikaans.

Later vanmiddag gaan ek vir my een vriendin foto's van juwele neem wat sy in haar winkel gaan verkoop en op haar webblad wil plaas.  Ek dink ek sal my makrolens moet gebruik en die lig sal net reg moet wees.  Te helder lig laat die juwele te blink op die foto's uitkom en dan lyk dit nie mooi nie.  Mens moet met sagte skakerings probeer werk.  Ek hoop ek kry dit reg want dis nogal moeilik.

Ek dink ek het genoeg geskryf vir die dag en gaan nou eers vir julle totsiens se.  Ek sal probeer om van nou af weer elke dag 'n ietsie te skryf.

Mooi loop
Theresa