Sonde met die Duitsers
Toe ek klein was, was daar 'n
duitse bakkery op die dorp. Die tante het 'n broer gehad. Ons het hom as Herr Lintner leer ken en dis
ook hoe ons hom aangespreek het. Ek kan
nie onthou wat hy vir 'n lewe gedoen het nie, maar wel dat hy viool gespeel
het. Nogal goed ook. In Duitsland was
hy in 'n orkes voor hulle SA toe geëmigreer het. Soms het die Lintners kom
kuier vir 'n naweek en is ons dan op die mooiste vioolmusiek getrakteer. So besluit Herr Lintner een Kersoggend net
voor ons kerk toe ry, dat hy sy viool gaan saamvat om die diens bietjie op te
kikker. Dit was maar 'n klein ou
gemeentetjie en ons het op daardie oomblik vir jare reeds nie 'n orrelis gehad
nie en het gedink dis 'n goeie plan.
Aangekom by die kerk , het hy sy
boekstaander staangemaak met 'n spul musiekboeke daarop en begin speel. In sy sak was sy silwerflessie vol Schnapps
wat ek hom daar sien inglip het, net
voor ons by die huis weggery het.
Die eerste paar goed wat hy gespeel
het was gewyde- en Kersliedere. Iewers
onthou ek, het ek die "Ave Maria" en "Kom herwaarts
getroues" herken. Die priester was die oggend laat en soos die tyd
aangestap het, hoe lekkerder het Herr Lintner begin speel. Vioolspeel is egter harde
werk en natuurlik het die arme man dors geword ook. Eers was die slukkies uit die flessie ver
uitmekaar, maat hoe later hoe kwater.
Die slukke het met kleiner frekwensies begin kom en so ook die musiek
beïnvloed. Hoe meer Herr Lintner van die
Schnapps gedrink het, hoe vroliker het die musiek geword. Toe die priester uiteindelik opdaag en met
die diens wil begin, is ons vioolspeler egter op 'n "roll". Die klanke van "Die Wolgalied",
"Gern hab ich die Frauen geküsst" en ander operette gunstelinge vloei uit die strykstok en dawer deur die
klein kerkie. Op hierdie stadium het 'n
paar mense , onder andere my pa al vir hom gaan sê dat hy nou moet ophou. Die diens gaan begin.
Die Schnapps het egter sy werk
gedoen en hy het eenvoudig geweier en voortgespeel. Teen dié tyd het my ma al
begin lag, nie hardop nie, maar daardie binnelag wat jou hele lyf laat skud en
jou oë laat traan. Ek vra hoekom sy so
lag? Sy kry egter nie 'n woord uit nie
en beduie net ek moet na die priester kyk.
Op sy gesig kon jy die donderweer sien, en soos hy homself probeer inhou, hoe rooier raak
sy gesig. Maar toe Herr Lindner lostrek
met "Finiculi Finicula", was dit vir hom te veel en die bom bars.
"Kry daardie man uit my kerk
uit", bulder hy van die altaar af . Herr Lindler stop waragtig vir 'n paar
sekondes en vra "aber warum doch?" (maar hoekom dan?) en speel
onmiddelik lustig voort. Teen dié tyd lag almal al openlik en dit maak Vader
Ludwig net nog kwater.
Weer bulder hy, "Gooi hom uit.
Ek wil hom nie in my kerk hê nie".
Ek onthou my pa en Oom Richie Kaplan, die eienaar van die kafee, het opgestaan en na Herr Lindner geloop en
saggies met hom gepraat. Elkeen het hom
aan 'n arm beet gekry en hom na die deur se rigting probeer lei. Toe hy egter
agterkom wat aan die gebeur is, ruk hy los en strompel met die paadjie af kansel
toe. Hy gaan staan voor die priester, steek sy vinger amper in die vader se oog
en sê: " Hierdie idioot! Wat weet hy van goeie musiek?".
Toe strompel hy terug, gryp sy
viool, staander en boeke en storm die kerk uit terwyl hy aanhoudend in Duits swets. Nou ja, teen hierdie tyd het almal geskater
van die lag, die arme priester het uitgestorm,
sy toga al halfpad konsistorie toe uitgepluk, en nie weer te voorskyn
gekom nie. Een vir een het die laggende
gemeentelede begin opstaan en uitgeloop.
Buite het almal op die kerk se
stoepie nog vir 'n halfuur of so gesels en gelag voor almal die tog terug huis toe aangepak het. Al het ons nie daardie dag die Woord van God
gehoor nie, was ons harte nog steeds gevul met die Heilige Gees. En soos een ou
oom daardie oggend op die kerk se stoep opgemerk het: " laughter and music are as good for the
soul as a million preaches" . En as God nie wou hê ons moet lag nie, sou
hy ons nie die vermoë gegee het om dit te doen nie. Buitendien, waar in die Bybel staan dat jy
nie in die kerk mag lag nie.
Ons almal is daardie dag huis toe sonder
'n Kersdiens, maar met 'n lied in die hart en 'n glimlag om die mond.
Theresa Potgieter
Walvisbaai
2017
No comments:
Post a Comment