Thursday, 18 May 2017

Sonde met die Duitsers

Toe ek klein was, was daar 'n duitse bakkery op die dorp.  Die  tante het 'n broer gehad.  Ons het hom as Herr Lintner leer ken en dis ook hoe ons hom aangespreek het.  Ek kan nie onthou wat hy vir 'n lewe gedoen het nie, maar wel dat hy viool gespeel het. Nogal goed ook.   In Duitsland was hy in 'n orkes voor hulle SA toe geëmigreer het. Soms het die Lintners kom kuier vir 'n naweek en is ons dan op die mooiste vioolmusiek getrakteer.  So besluit Herr Lintner een Kersoggend net voor ons kerk toe ry, dat hy sy viool gaan saamvat om die diens bietjie op te kikker.  Dit was maar 'n klein ou gemeentetjie en ons het op daardie oomblik vir jare reeds nie 'n orrelis gehad nie en het gedink dis 'n goeie plan.

Aangekom by die kerk , het hy sy boekstaander staangemaak met 'n spul musiekboeke daarop en begin  speel. In sy sak was sy silwerflessie vol Schnapps wat ek hom daar sien inglip het,  net voor ons by die huis weggery het.

Die eerste paar goed wat hy gespeel het was gewyde- en Kersliedere.  Iewers onthou ek, het ek die "Ave Maria" en "Kom herwaarts getroues" herken. Die priester was die oggend laat en soos die tyd aangestap het, hoe lekkerder het Herr Lintner begin speel. Vioolspeel is egter harde werk en natuurlik het die arme man dors geword ook.  Eers was die slukkies uit die flessie ver uitmekaar, maat hoe later hoe kwater.  Die slukke het met kleiner frekwensies begin kom en so ook die musiek beïnvloed. Hoe meer Herr Lintner  van die Schnapps gedrink het, hoe vroliker het die musiek geword.  Toe die priester uiteindelik opdaag en met die diens wil begin, is ons vioolspeler egter op 'n "roll".  Die klanke van "Die Wolgalied", "Gern hab ich die Frauen geküsst" en ander operette gunstelinge  vloei uit die strykstok en dawer deur die klein kerkie.  Op hierdie stadium het 'n paar mense , onder andere my pa al vir hom gaan sê dat hy nou  moet ophou. Die diens gaan begin. 

Die Schnapps het egter sy werk gedoen en hy het eenvoudig geweier en voortgespeel. Teen dié tyd het my ma al begin lag, nie hardop nie, maar daardie binnelag wat jou hele lyf laat skud en jou oë laat traan.  Ek vra hoekom sy so lag?  Sy kry egter nie 'n woord uit nie en beduie net ek moet na die priester kyk.  Op sy gesig kon jy die donderweer sien, en  soos hy homself probeer inhou, hoe rooier raak sy gesig.  Maar toe Herr Lindner lostrek met "Finiculi Finicula", was dit vir hom te veel en die bom bars.
"Kry daardie man uit my kerk uit", bulder hy van die altaar af . Herr Lindler stop waragtig vir 'n paar sekondes en vra "aber warum doch?" (maar hoekom dan?) en speel onmiddelik lustig voort. Teen dié tyd lag almal al openlik en dit maak Vader Ludwig net nog kwater.

Weer bulder hy, "Gooi hom uit. Ek wil hom nie in my kerk hê nie".  Ek onthou my pa en Oom Richie Kaplan,  die eienaar van die kafee,  het opgestaan en na Herr Lindner geloop en saggies met hom gepraat.  Elkeen het hom aan 'n arm beet gekry en hom na die deur se rigting probeer lei. Toe hy egter agterkom wat aan die gebeur is, ruk hy los en strompel met die paadjie af kansel toe. Hy gaan staan voor die priester, steek sy vinger amper in die vader se oog en sê:  " Hierdie idioot!  Wat weet hy van goeie musiek?".

Toe strompel hy terug, gryp sy viool, staander en boeke en storm die kerk uit terwyl hy aanhoudend in Duits swets.  Nou ja, teen hierdie tyd het almal geskater van die lag, die arme priester het uitgestorm,  sy toga al halfpad konsistorie toe uitgepluk, en nie weer te voorskyn gekom nie.  Een vir een het die laggende gemeentelede begin opstaan en uitgeloop.

Buite het almal op die kerk se stoepie nog vir 'n halfuur of so gesels en gelag  voor almal die tog terug huis toe aangepak het.  Al het ons nie daardie dag die Woord van God gehoor nie, was ons harte nog steeds gevul met die Heilige Gees. En soos een ou oom daardie oggend op die kerk se stoep opgemerk het:  " laughter and music are as good for the soul as a million preaches" . En as God nie wou hê ons moet lag nie, sou hy ons nie die vermoë gegee het om dit te doen nie.  Buitendien, waar in die Bybel staan dat jy nie in die kerk mag lag nie.

Ons almal is daardie dag huis toe sonder 'n Kersdiens, maar met 'n lied in die hart en 'n glimlag om die mond.

Theresa Potgieter
Walvisbaai
2017



Thursday, 4 May 2017

RAMPE EN BLAPSE EN WAT EK DAARUIT GELEER HET!

Hallo liewe lesers

Ek was lank van die lug af, maar my rekenaar se MS Word is nou uitgesorteer en kan ek weer blog.
Vandag heg ek vir julle 'n stukkie aan wat ek geskryf het.  Hoop julle geniet dit. 
Groete tot volgende keer

Ek dra hierdie griffel van my op aan al my oud VLV vriendinne van Danielskuil.


Agtergrond:
'n Paar jaar terug gesels ek en Facebook vriendin Ellen Botha een dag oor broodbak. Nie die soort brood wat met die hand geknie en dan gebak word nie, maar die soort waar jy al die bestanddele in die broodmaker gooi. Dan meng daai wonderwerk dit self, hy knie en hy laat rys, knie weer af, laat rys weer en bak dan sommer die broodjie. Boonop kan jy hom vra om die brood op 'n spesifieke tyd reg te hê ook! Al wat jou dan te doen staan is om 4 ure later of wanneer ookal, die broodjie uit te haal en te geniet.
Wel, die liewe Ellen bied toe so ewe aan om my te leer broodbak…
Liewe Ellen, lees eers hier, sodat jy kan weet waarvoor jy jou gaan inlaat, sou ek besluit om van jou aanbod gebruik te maak!
Ek het hierdie skets min of meer 22 jaar gelede vir 'n VLV-kompetisie geskryf. Die oorspronklike titel was "Wat die VLV vir my beteken." Ek het 'n biejie aan hom geskaaf en van die laaste paragrawe nuut geskryf, maar in wese is dit dieselfde skets wat ek toentertyd vir die kompetisie ingeskryf het en gewen het. Ek het ook die titel verander. Ek dra dit op aan Tannie Mercia Van der Ryst van Daniëlskuil, wat altyd my VLV-ma was en wie ek gister na 25 jaar weer ontmoet het. Sy was met een van die MSC bote in Walvis en hulle kon afklim. Ons het die hele oggend om gesels: waar is dié en daardie oud lid, wie lewe nog en wie is nie meer saam met ons nie, oor VLV konferensies wat ons jaarliks in die verskillende areas gehou het en waar elke tak sy beste uitgestal het.
RAMPE EN BLAPSE EN WAT EK DAARUIT GELEER HET!
Dit was 'n goeie klompie jare gelede. Die presiese dag kan ek nie onthou nie, maar dit was in Desember 1985. Dit was 'n Sondag en dit was warm. Op dié dag val Manlief met my (hoog swanger met ons tweede) en ons eenjarige dogtertjie in die pad Daniëlskuil toe. Om eerlik te wees, ons het nie eens geweet van die bestaan van so 'n plek nie, laat staan nog waar dit is! Ons moes dit opsoek in Skoonpa se padkaartboek.
Die doel van die ekskursie was 'n werksonderhoud wat Manlief met die plaaslike dokter daar gehad het. Hy (dis nou Manlief) was pas klaar met sy hospitaaljaar in Kroonstad, maar met 6 maande wat moes verloop voor hy vir sy diensplig moes aanmeld, moes ons iewers 'n heenkome vind. Hy was dus op die uitkyk vir locumwerk of ‘n assistentspos vir 6 maande.
Dis toe hoe dit kom dat ons daardie oggend oppad Daniëlskuil toe is. Ventersburg, Winburg, Bloemfontein, Dealesville, Boshoff, Kimberley en Barkley-Wes kom en gaan. By Delportshoop se padpredikant draai ons af om koeldrank te koop en so met die eerste oogopslag van hierdie klein myndorpie, besluit ek in my enigheid dat as Daniëlskuil so lyk, kan Manlief alleen daar gaan bly en werk. Ek gaan terug na my ma toe. Dit voel soos 'n ewigheid voor ons uiteindelik Daniëlskuil binnery en ek 'n sug van verligting kan slaak. Dit lyk heelwat beter as wat ek verwag het. Na die aanvanklike ses maande het ons die praktyk gekoop en uiteidelik elf jaar daar gebly.
Nou ja, gebore en getoë op 'n Vrystaatse plaas, het ek grootgeword in 'n VLU-huis. Dit was dan ook nie lank nie, toe kom die behoefte en ek begin rondvra. "Is hier nie 'n VLU-tak nie?" "Nee, nie VLU nie", hoor ek, "in die Kaap noem ons dit VLV".
En so beland hierdie Vrystaatse kakiebos by die Kaaplandse VLV. Ek vind gou uit hoe talentvol hierdie vrouens van Griekwaland-Wes nou eintlik is. Hulle bak en brou en hekel en brei en doen sommer alles. En ek? Ek kan nie hekel nie, ook nie brei nie. Voor 'n naaimasjien en stoof is ek 'n ongeluk wat wag om te gebeur. Ek kan darem so op 'n manier beet inlê, van blommerangskikking weet ek 'n kleine bietjie-biejtie, ek kan foto's neem en op skool kon ek darem opstelle skryf.
Na so 'n jaar van vergaderings bywoon, begin ek ook deelneem aan die kompetisies. Eers net hier en daar, maar met verloop van tyd en met baie aanmoediging van die ouer lede, kom die selfvertroue om ook onbekende terreine te betree.
Ek gaan neem boeke oor brei- en hekelwerk in die biblioteek uit en daardie winter kry my kinders elkeen 'n handgebreide trui. Die lyfies bietjie kort en moue heeltemal te lank, maar kinders is nie vol fiemies nie. En al moet ek dit nou self sê, met die moue so twee keer omgevou, het hulle glad nie te sleg gelyk daarin nie.
'n Paar jaar later, toe Anchor Gis aankondig dat paasbolletjies (Hot Cross Buns) daardie jaar se geborgde kompetisie is, begin ek drome droom van hoog uitgerysde paasbolletjies en 'n silwer skinkbordtrofee.
Die dag voor die kompetisie bak en brou ek vir 'n vale; ek knie, laat rys, knie weer af, laat rys weer. Bak. Wag. Toe die gaar bolletjies uit die oond kom, swel ek van trots.
Die volgende middag by die saal bekyk ek ‘n ieder en ‘n elk se bolletjies met 'n arendsoog. Niemand s'n lyk naastenby so mooi soos myne nie, en ek weet sommer in my hart der harte, vandag stap ek met die eerste prys weg...
Die vergadering begin en die bolletjies raak vergete. 'n Hele entjie die vergadering in vra die beoordelares 'n spreekbeurt. Ek kyk op van waar ek in die sekretaressestoel sit en sien hoe sy een van my broodjies in haar hand omhoog hou en vra wie dit gebak het. As dit enigsins moontlik is, word my kop nog 'n bietjie groter en die eie-ek maak my wys dat hulle so perfek is dat sy nie kan wag om dit bekend te maak nie. Trots staan ek op om almal se bewondering en gelukwensings te ontvang. O wee, wat ‘n ontnugtering! Asof deur 'n waas hoor ek haar vra: "Hoekom is hulle so geel aan die binnekant?" Van iewers hoor ek myself antwoord met 'n yl stemmetjie: "Moet hulle dan nie so wees nie?" Ek gaan sit vinnig en bid dat die aarde my tog maar moet insluk. Tuis aangekom later daardie middag, vang my oog toevallig die botteltjie op die kombuistafel - dis die borrie, nie die kaneel nie...
'n Paar maande later verskyn daar op die kompetisielys die volgende: FUDGE (blokkies verpak in 'n 500ml fles). En ek droom van vooraf. Resepteboeke word uitgehaal, afgestof en behoorlik bestudeer. Ek verstaan weliswaar nie veel van al die stadiums by die kook van lekkers nie. Hoe belangrik kan sagtebal- en hardebalstadiums tog nou wees? Verder volg ek die resep egter tot in die fynste besonderhede. Ten einde laaste staan die 500ml bottel, gevul met sagterige blokkies fudge, in die yskas.
Die vorige skande nog vars in my geheue, handhaaf ek by die saal 'n lae profiel. Na die vergadering sluip ek nader om die kommentaar te lees. Weer is daar die wrede ontnugtering! Die kommentaar lui as volg: "Die kompetisielys het blokkies in 'n 500ml fles voorgeskryf, nie een fudge met 'n volume van 500ml nie!" Tot vandag toe nog weet ek nie wat gebeur het nie, en om te vra waar ek dan gefouteer het…daarvoor was ek te skaam.
Intussen het ek berus. Die VLV en ook die lewe gaan nie net daaroor of jy kan naaldwerk doen of bak nie. Daar is baie ander gebiede waarop ek my kan uitleef. Wat wel saak maak, is die liefde wat jy daarin stort, en juis daarom dink ek dis hoekom my kinders, ten spyte van al my floppe en brandoffers in die kombuis, glo dat ek die lekkerste lasagne suid van die ewenaar maak. Drie van die vier het al die noordelike halfrond se ware Italiaanse Jakob geproe! Oor my naaldwerkvermoë word steeds soos die graf geswyg.

By die VLV het ek dus nie net geleer broodbak, brei, hekel en naaldwerk doen nie. Wat ek wel geleer het, is die waarde van samehorigheid, liefde vir en aanvaarding van mekaar en die self, maar veral die waarde van vriendskap. Toe my dogter eenkeer in 'n Afrikaanse eksamenvraestel moes aandui waarvoor die afkorting VLV staan, het sy vol selfvertroue geskryf dit is die ”Vereniging van Lewenslustige Vroue”. Sy het 'n punt vir oorspronklikheid gekry by die onderwyser wie se vrou self 'n VLV-lid was.
Hierdie lewenslesse wat ek as jong vrou geleer het, dra ek nou na al die jare nog met my saam en probeer die feilbare ek steeds, om elke dag my lewe daarop te skoei…
Theresa Potgieter
Walvisbaai