Monday, 20 October 2014

Goeienaand liewe Vriende

Vandag was 'n helder sonskyndag sonder wind en sand. 

Vanoggend het ek 'n skets geskryf wat ek op Facebook geplaas het, en nogal goeie kommentaar gekry het daarop, so ek is baie "chuffed" met myself soos die kinders sou sê.  Verder het ek met 'n 2de skets begin, maar toe val ek vas en weet nie wat om verder te skryf nie.  Ek sal die storie weer moet hoor voor ek hom kan klaarskryf.  Dis 'n storie wat 'n vriend van ons een aand aan tafel vir ons vertel het van toe hulle gaan kamp het,en ek het sommige van die detail vergeet.

Vanmiddag gaan ek en Elfi weer 'n fliek  kyk oor 'n baseball speler.  Dit klink nogal mooi.  Renate leer want sy skryf more 'n Science toets en sy is baie op haar senuwees daaroor.  Maar ons weet dit sal goedgaan soos gewoonlik.

Elfi  maak tong vir vanaand.  Ek kan nie wag dat dit etenstyd word nie.  Tong is vir my een van die lekkerste vleise wat jy kan kry, veral met so 'n bietjie mosterd by.

 Ek plaas hier vir julle die skets wat ek vanoggend  geskryf het.



Sonde met die Duitsers 2

Dieselfde Duitse mense waarvan die man die Sondag in die kerk viool gespeel het tot hy onder die invloed was, het menige prettige oomblikke in ons lewens veroorsaak.

Dit was weer 'n Sondag.  Toe ons so deur die laning populierbome huis toe ry, merk ons al die bakkie op wat voor die deur staan.  Dis winter en 'n  besonder koue Vrystaatste oggend.  Die windjie waai geniepsig.  Pa sê hulle kan wag, laai ons by die agterdeur af en gaan bêre eers sy kar in die garage. 

In die huis gekom, gaan sluit Ma die voordeur oop sodat sy die Lindners kan inlaat, want die windjie kan nogal  koud op die stoep waai.  Op die stoep wag 'n eienaardige prentjie haar in.  Herr Lindner in 'n pak asof hyself nou net van die kerk af kom.   Die tannie sit op 'n hopie toegevou in haar warmste klere , omvou van 'n paar komberse en daar  is ook  twee Weimeranerhonde.

Daar word heen en weer gegroet en my ma nooi hulle om saam met ons iets te eet.  "Nee,nee" sê Herr Lindner. Hulle wil by die huis kom,  Dis nog ver Wepener toe.  Hulle was in Parys om sy broer te besoek en nou is hulle op pad terug.  Hulle wou net kom oë wys en dan vinnig weer in die pad val, maar 'n koppie koffie sal welkom wees. Die honde drink ook koffie, laat hy so terloops val, terwyl dié in Ma se voortuin speel en hul persentjies daar los.  Ek sien ma is vies, maar sy sê niks. 

Die honde word geroep en almal gaan sitkamer toe.  Nou moet julle weet, Ek en my sussie was skaars in daardie sitkamer toegelaat, wat nog van ons honde.  Nou ja, die twee Weimeraners is ook in en gaan sit op hulle hurke aan hul baas se sye.
Intussen het Pa ingekom en die groetery begin van voor.  Pa gaan sit ook en vra uit oor die honde en die boerdery.. So hoor ons hy het hulle al twee jaar en hulle is sy trots.  Hy ry tot Johannesburg en Duban toe om met hulle te skou, so opreg is hulle geteel.  Ma staan op om die koffie te gaan maak, maar met 'n houding wat aan die wëreld wys hoe sy oor die honde voel. Sy vra ewe sarkasties of die honde ook hulle koffie in koppies neem.  Gelukkig toe darem nie,  'n Hondebak sal reg wees antwoord Herr Linder, met melk en drie lepels suiker  vir elkeen.
Ek staan op om vir Ma te gaan help koffie maak.  Toe ek haar  sien,  sien ek die Duiste humeur slaan duidelik deur.  Sy skel en vloek in Duits, min of meer dat sy in haar lewe nog nooit vir 'n hond 'n koppie koffie moes maak nie. Later bedaar sy darem en gee so 'n halwe glimlag.  En waar dink Herr Lindner gaan die honde hulle koffie drink, want dit gaan beslis nie in haar sitkamer wees nie. Hy't seker gesien hier kom oorlog as hy dit sou waag om iets te sê.
Toe die koffie klaar gemaak en gereed staan om binnetoe gedra te word gaan roep sy Herr Lindner om sy honde te bring om hulle koffie in die kombuis te kom drink.  Op die vloer.  Gelukkig het hy geen aanmerking daaroor gemaak nie.
Na  die koffiedrinkery stap ons saam met hulle buitentoe om hul af te sien.  Herr Lindner maak die passasierskant van die bakkie  oop.  Almal van ons dink dis vir die tannie, maar nee, daar spring die 2 honde in en sit asof hulle al jare voor in 'n bakkie ry.
Die tannie moet agterop.  Vandaar die komberse wat so om haar gevou was, besef ons nou.  Sy was nie meer so jonk nie en redelik groot en het gesukkel om op die bakkie te klim.  Maar Herr Lindner was gewoond daaraan en net 'n paar drukke en stote op haar agtereinde en sy was op.   Gelukkig was daar nog komberse op die bakkie en sy maak haar gemaklik.  Sy vou die komberse om haar.  Gelukkig is daar vir haar 'n redelike dik kussing om op te sit.  Toe sy gemaklik is, span Herr Lindner die bak se seil oor haar en haak dit aan die hakke vas.  "So ja. Nou is sy gemaklik en ons kan maar ry."  Hy klim in sy bakkie en daar ry hulle .
Vir 'n lang ruk het nie  Ma of Pa iets gesê nie. Na 'n ruk sê Pa so ewe droogweg  hy hoop nie dis hoe hulle Johannesburg en Durban toe  ry met die honde nie.
Toe begin Ma giggel en ons bars almal uit van die lag. Verbeel jou, die honde voor in die bakkie en die tannie agterop terwyl dit eintlik anders om moes gewees het.  Wat 'n skande!
Hierdie staaltjie het ons vir jare bygebly  Elke keer wat my pa en ma met die bakkie dorp toe is, het my pa ewe galant gevra of sy graag voor of agterop die bakkie wou sit en dan het hulle weer  geskaterlag tot hul uitasem was.

Hoop julle het dit geniet

Lekker aand verder
Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment