Goeie more aan almal op hierdie heerlike sonnige oggend met geen sweempie van gisteraand se koue nie,
Ek sou veel eerder langs die see wou gaan ry, 'n paar mossels uitduik om 'n mosselpotjie mee te maak, selfgs swem want die water is op 'n warm dag nie heelgtemal so koud nie, Net koue genoeg om jou lekker koud te maak,foto's gaan neem en nog vele ander dinge waaraan ek kan dink. Nou is dit Maandagoggend en almal weet wat dit vir 'n huisvrou beteken: Die wasgoed staan hemelhoog. die beddens moet skoon oorgetrek word en die huis moet vir 'n slag van bo tot kant skoongemaak word. Met al ons diere moet ons dit in elk geval elke dag doen, maar oor 'n naweek lê ons bietjie sleg en dan is Maandae erger. Renate skryf nog eksamen vir die volgennde 2 weke, maar die week darem net Afrikaans vandag en Biologie Donderdag. Sy het soos 'n besetene oor die naweek vir Biologie geleer want dis hordes werk. Vandag se skool is nie meer soos toe ons skool toe gegaan het nie. Die werk en die druk het 10x erger geword.
Ek was vanoggend by die bakkery om gou brood te koop, toe bedien die ou bakker my self. Met sy meelbestrooide klere en chefhoed het hy my reg tot in my kinderjare gevat. Ons was Duitsers en my ouers was met die duitse bakker bevriend. Ons het altyd op 'n Sondag na kerk by hulle aufsnitt (koue Vleise) gaan eet en dan mog ons in die kombuis speel en aan al die lekker dinge vir die koekies proe. Daarna het ons of gebly vir middagete of hulle het na ons toe op die plaas gekom vir die middag maal. Die bakker het elke strooptyd vir my en my sussie 'n streepsakkie vol koring gevra want hy wou vir ons elkeen 'n broodjie bak. Klokslag 2 dae daarna was hy altyyd daar met die broodjies en het ons alte lekker geëet. Ek was al 'n groottmens toe ek besef het, hy het die koringkorrels vir sy hoenders gevoer en gekoopgte meel gebruik om 2 broodjies te bak om 2 dogtertjies se harte bly te maak. En die laat my nou aan 'n storie dink wat oor die spesifieke Duitsers handel. Dit het op 'n Kersoggend gebeur.
Sonde met die Duitsers
Toe ek klein was, was daar 'n
duitse bakkery op die dorp. Die tante het 'n broer gehad. Ons het hom as Herr Lintner leer ken en dis
ook hoe ons hom aangespreek het. Ek kan
nie onthou wat hy vir 'n lewe gedoen het nie, maar wel dat hy viool gespeel
het. Nogal goed ook. In Duitsland was
hy in 'n orkes voor hulle SA toe geëmigreer het. Soms het die Lintners kom
kuier vir 'n naweek en is ons dan op die mooiste vioolmusiek getrakteer. So besluit Herr Lintner een Kersoggend net
voor ons kerk toe ry, dat hy sy viool gaan saamvat om die diens betjie op te
kikker. Dit was maar 'n klein ou
gemeentetjie en ons het op daardie oomblik vir jare reeds nie 'n orrelis gehad
nie en het gedink dis 'n goeie plan.
Aangekom by die kerk , het hy sy
boekstaander staangemaak met 'n spul boeke daarop en begin speel. In sy sak was sy silwerflessie vol schnapps
wat ek hom daar sien inglip het net voor ons by die huis weggery het.
Die eerste paar goed wat hy gespeel
het was gewyde- en Kersliedere. Iewers
onthou ek, het ek die "Ave Maria" en "Kom herwaarts
getroues" herken. Die priester was die oggend laat en soos die tyd
aangestap het, hoe lekkerder het Herr Lintner begin speel. Vioolspeel is egter harde
werk en natuurlik het die arme man dors geword ook. Eers was die slukkies uit die flessie ver
uitmekaar, maat hoe later hoe kwater.
Die slukke het met kleiner frekwensies begin kom en so ook die musiek
beïnvloed. Hoe meer Herr Lintner van die
schnapps gedrink het, hoe vroliker het die musiek geword. Toe die priester uiteindelik opdaag en met
die diens wil begin, is ons vioolspeler egter op 'n roll. Die klanke van
"Die Wolgalied", "Gern hab ich die Frauen geküsst" en ander
operette gunstelinge vloei uit die
strykstok en dawer deur die klein kerkie.
Op hierdie stadium het 'n paar mense , onder andere my pa al vir hom
gaan sê dat hy nou moet ophou. Die diens
gaan begin.
Die Schnapps het natuurlik sy werk
gedoen en hy het eenvoudig geweier en voortgespeel. Teen dié tyd het my ma al
begin lag, nie hardop nie, maar daardie binnelag wat jou hele lyf laat skud en
jou oë laat traan. Ek vra hoekom sy so
lag? Sy kry egter nie 'n woord uit nie
en beduie net ek moet na die priester kyk.
Op sy gesig kon jy die donderweer sien, maar soos hy homself probeer
inhou, hoe rooier raak sy gesig. Maar
toe Herr Lindner lostrek met "Finiculi Finicula", was dit vir hom te
veel en die bom bars.
"Kry daardie man uit my kerk
uit", bulder hy van voor af in die kerk . Herr Lindler stop waragtig vir
'n paar sekondes en vra 'aber warum doch" (maar hoekom dan) en speel
onmiddelik lustig voort. Teen dié tyd lag almal al openlik en dit maak Vader
Ludwig net nog kwater.
Weer bulder hy, "Gooi hom uit.
Ek wil hom nie in my kerk hê nie".
Ek onthou my pa en die eienaar van die kafee het opgestaan en na Herr
Lindner geloop en saggies met hom gepraat.
Elkeen het hom aan 'n arm beet gekry en hom na die deur se rigting
probeer lei. Toe hy egter agterkom wat aan die gebeur is, ruk hy los en
strompel met die paadjie af kansel toe. Hy gaan staan voor die priester, steek
sy vinger amper in die vader se oog en sê:
" Hierdie idioot! Wat weet
hy van goeie musiek?".
Toe strompel hy terug, gryp sy
viool, staander en boeke en storm die kerk uit terwyl hy aanhoudend in Duits
swets. Nou js, teen hierdie tyd het
almal geskater van die lag, die arme priester het uitgestorm, sy toga al halfpad konsistorie toe uitgepluk,
en nie weer te voorskyn gekom nie. Een
vir een het die laggende gemeentelede begin opstaan en uitgeloop.
Buite het almal op die kerk se
stoepie nog vir 'n halfuur of so gesels en gelag voor almal die tog terug huis toe aangepak het. Al het ons nie daardie dag die Woord van God
gehoor nie, was ons harte nog steeds gevul met die Heilige Gees. En soos een ou
oom daardie oggend op die kerk se stoep opgemerk het: " laughter and music are as good for the
soul as a million preaches" . En as God nie wou hê ons moet lag nie, sou
hy ons nie die vermoë gegee het om dit te doen nie. Buitendien, waar in die Bybel staan dat jy
nie in die kerk mag lag nie.
Ons almal is daardie dag huis toe sonder
'n Kersdiens, maar met 'n lied in die hart en 'n glimlag om die mond.
Mooi bly tot more en 'n lekker werksdag vir more. More le diewasgoed nie meer soos 'n berg waaroor moet kom nie en is van dit al gestryk ,
Groetnis
Theresa
No comments:
Post a Comment