Sunday 5 July 2015

Lanklaas gesels

Hallo liewe vriende

Dit lyk asof ek darem nou aan die gesond word is.  Vandat ek laas met julle gesels het, het ek 2 bloedklonte deur my longe gehad.  Die gevolg is dat ek nou Warfarin moet drink wat die klonte wat nog in die are is, oplos en ook die bloed dun maak.  Vir my maak dit ook duiselig en ek slaan sommer op enige plek flou neer.  En waar ek voorheen nooit koud gekry het nie, is ek nou so koulik dat ek byna gedurig met 'n trui of baadjie sit.

So staan ek een aand met bakke oorskietkos in die waskamer voor die yskas om dit daar te bêre.  Ek het net die deur oopgemaak toe ek voel my kop begin draai.  Voor ek kon vasgryp aan iets om my staande te hou, slaan ek reg op my regterskouer en sy op die teelvloer neer.  Dit was onuithoudbaar seer en ek het gedink ek het iets gebreek.  My skouer of my arm.  Gelukkig is daar toe niks gebreek nie, maar toe sit ek met daardie pyn in my skouer en arm.  Ek het gehuil van pyn so groot as wat ek is.  Agv van die Warfarin mag ek geen spierverslappers of pynpille van enige aard drink nie en die arm mag ook nie gips of 'n stywe verband omkry nie.  Ek het 'n sling gekry wat nie eintlik veel gehelp het vir die pyn nie.  Ek het letterlik 'n week doodstil gesit en so min as moontlik beweeg om die pyn te verminder en letterlik aanmekaar gehuil van die pyn.  Mens kan dit aan niemand beskryf nie.  Na so 3 weke het die pyn draagliker geword en was dit nie meer so onuithoudbaar as ek beweeg nie.  Dit is nou al amper 10 weke of meer, ek is ook nie eintlik seker nie, maar my skouer is nog steeds seer as ek beweeg of iets swaars optel. Tik is ook moeilik want ek moet my arm oplig.  Die pyn gaan tot in my hande en vingers.  Dit is die bicepspier wat so seer gekry het, maar die nagevolge is erg.  Ek tik nog meeste van die tyd met my linkerhand en hier en daar 'n woord met my regterhand.  Maar hy word te gou seer en lam.  Ek kan darem al redelik met die muis op 'n plat oppervlak werk sonder dat dit te seer word.  Nou edit ek maar al my ou foto's.  Wou dit al lankal doen, maar dis 'n tydsame werk en nou het ek die tyd.

Renate-hulle se prefekondervraging en toesprake is hierdie week.  Ek weet nie wanneer die verkiesing is nie, want die eksamen begin al oor 'n week.  Ek verstaan nie hierdie skool se eksamenskrywery so in die middel van 'n termyn nie, want daar is amper 'n maand nog skool na die eksamen verby is.  Ek is gewoond aan eksamen skryf aan die einde van 'n kwartaal of termyn.  En hier gaan die sportoefeninge dwarsdeur die eksamen aan en selfs ligawedstryde word tydens die eksamen gespeel.  In my tyd het alle sport voor die eksamen gestop en daar was nie sprake van wedstryde teen ander skole of tussen swkoolspanne nie.  Hou maar styf duim vas vir Renate vir hierdie eksamen asseblief.  Sy wil graag haar goeie punte van verlede termyn verbeter

Dit was die 2de Julie ons 32ste huweliksherdenking.  As mens daaraan dink is dit al 'n leeftyd lank en het ons 'n hele paar sakke sout in dié tyd opgeeet.  But still going strong.  Ons hoop vir nog 32 jaar.  Ek het vir Theo 'n koffietafekboek oor die soogdiere van Suider-Afrika en hul beskrywings persent gegee en hy het vir my Photoshop Elements 13 bestel, maar dit het ongelukkig nie betyds gekom nie.  Nou het ek darem iets om na uit te sien hierdie week, want dit sal seker darem nie langer as 'n week vat om hier uit te kom nie.  Ek edit nou maar stadig aan die ou foto's want ek wag vir die nuwe program  Ek werk nog al die jare met Photoshop Elements 2 en gebruik Picasa saam met dit om reguit te maak en rooi oe uit te haal.  Picasa doen dit vinnig en pynloos terwyl dit met Photoshop 'n hele operasie is en dit kom nie altyd so goed uit nie.  Moet sê dis vir my lekker om my foto's te edit en 'n lekker stokperdjie.  Die flaminke kom ook nou weer stadig terug en een van die dae kan ek weer by die lagoon gaan sit en foto's van hulle neem.  Ek kamp partykeer sommer 'n hele oggend daar uit met my 600mm lens en driepoot en kry soms die mooiste foto's.

My arm raak nou seer van die getikkery en gaan ek julle eers weer groet.

Tot ons weer gesels, lekker bly

Groete

Theresa