Sunday 28 December 2014

Liew Vriende

Dis die laaste dag van die langnaweek en meeste mense moet more weer werk.  Dan is daar die gelukkiges wat nog op vakansie is.  Geniet dit gate uit.  Theo werk ook more weer.  Dis dan een van die tye wat ek dankbaar is ek het nie 'n voltydse werk nie.  Ek ag myself baie gelukkig.

Gister het ons weer rustig deurgebring by die huis en die kinders het vir ons lekker kos gemaak.

Die weer is die laaste tyd so mooi dat mens nie kan glo dat die stof ooit so gewaai het nie.  Ek dink die mense op die strand geniet die lekker warm weer.  Die strand is tjok en blok vol.  Dit lyk asof daar nie 'n plek vir 'n muis  is nie.

'n Baie goeie vriendin van my van Uniondale is die naweek oorlede.  Ek is baie hartseer daaroor.  Ons gesin was nogal heel geheg aan mekaar en het graag oor en weer  gekuier.  Sy was ook die leidster van ons Engelse leeskring.  Sy was voorheen 'n prof by Wits, voor sy op Uniondale kom aftree het.  Sy was 'n besondere mens wat graag ander gehelp het.  Ons gaan haar baie mis.  Sy laat net 1 dogter na.

Ek het vandag  nie so baie nuus nie, dus groet ek maar
Theresa

No comments:

Post a Comment