Friday 8 August 2014

Dis vandag Vrouedag en daarom plaas ek hierdie gedig wat ek oor my ma geskryf het.



MA

Jy kyk na my uit die mooi houtraam
met die blou passé-partout om jou foto.
Die kyk in jou oë is deurdringend,
asof jy steeds weet wat ek dink.

Ek het vanoggend  
‘n wit katjiepiering in die tuin gepluk;
dit in ‘n ou blou botteltjie langs jou foto kom sit.
Dis vandag Moedersdag.  
More jou verjaarsdag -
jou sewende  weg van ons!

Ek dink nog baie aan jou
Jy wat nooit gepraat het nie
Eerste Wêreldoorlogbaba
Jong meisie tydens die tweede

Ek wonder en
wil  steeds meer weet
van jou kinderjare as weeskind,
jou jongmeisielewe,
wat jou laat besluit het om te emigreer
uit ‘n verwoeste Duitsland
na ‘n woeste land in die suide…

Ek wil jou so graag vra of jy as kind
ook soms alleen gevoel het .
gedink het dat niemand jou verstaan nie,
nooit regtig na jou geluister het nie
en dat niemand jou ooit regtig wou hê nie.

As ek voor jou foto staan
kyk ek  in jou oë
                 leë oë.
Jy was toe al siek!
Die Parkinsons onmiskenbaar afgeëts
op jou eens passievolle gesig…

Ek sien jou in my geestesoog  
afstap met die paadjie na die dam,
deur die donker bos bloekombome
met hul spierwit stamme en dongroen blare
afgeëts teen die blou winterslug
tussen die laning dennebome deur
op die klippaadjie vol dennebolle en naalde.
Ek sien jou halpad rus op die omgevalle wilgerboom se stam.
terugkom oor die damwal  
onder die Akasiabome deur met hul geel blommetjies.


In ons huis was jy alomteenwoordig.
In die stomende koppie koffie wat my soggens
met ‘n gerusstellende sekerheid begroet het;
in die onmiskenbare patroontjie van die
gehekelde tafeldoek en doilies;
in die rytjie skulpe in die badkamer
wat jou verweerde hande
met soveel liefde en teerheid versamel het.

Jou portret is vandag my herinnering
om na te kyk en te onthou
Elke herinnering weggebêre in sy eie raam
agter ‘n glas van onbereikbaarheid
Die stof van baie jare se vergeet
lê oor elke glas
Wagtend om afgestof te word
Sodat ek kan lag met ‘n traan
En met nuwe onthou kan kyk na gister en eergister
Maar om nooit weer teruggekry te word nie

Mamma,
daar is nog soveel wat ek  wou weet
                                 wat ek jou wou vra
                                 wat ek vir  jou wil vertel…
Nou is dit te laat
Vir ons het die uurglas leeggeloop…
Die herinneringe aan daardie dae
sal soos papierdun viooltjieblare
altyd in my geheue bewaar bly…

'n Lieflike Vrouedag vir elkeen van julle

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment