Thursday 28 August 2014

Bubbles

Liewe lesers
Dis 'n heerlike koel/warm sonnige dag hier by ons.  Geen teken van sand of wind nie.  'n Regte dag om in die tuin te werk.  My strykvrou is vandag weer hier en sy help om die huis skoon te maak.  Ek is dus lekker los vandag.  O, ek haat huiswerk.  Ek weet nie wat ek sou doen as ek net 'n huisvrou moes gewees het nie.  Ek hou nie eers van koek of koekies bak of kos kook nie.  Ek is baie geseënd dat ek dit nie elke dag hoef te doen nie.  Al het ek vir jare kos gekook toe my kinders klein was en ek het geglo hulle moet een keer op 'n dag minstens 1 goeie maaltyd met vleis, 2 groentes en stysel kry.  En ek het dit gedoen, omdat ek moes. Maar my lewe is soveel meer ontspanne vandat Elfi die kookwerk by my oorgeneem het.  Ek sal nou en dan nog 'n tert of koek bak, maar dis nie baie nie.  Gelukkig is my mense nie lief vir soetgoed nie.  Behalwe Renate, maar ons koop by Spar vir 'n vlaskyf of so iets elke nou en dan en daarmee is sy ook tevrede.

Jack lyk 'n bietjie beter noudat hy op behandeling is.  Hy is nog steeds so maer, maar dis asof daar weer lig in sy oë is.  En geniet hy die aandag.  Nou is Renate se voëltjie se beentjie ontsteek.  Die veearts het verlede week sy toonnaels gesny en een dalk 'n bietjie te diep gesny.  Nou kry Biyakuya antibiotika en salf word aan haar voet gesmeer.

My vriendin begin volgende week met 'n kiosk in die middel van die mall waar sy koeke, pasteie en sulke goed gaan verkoop.  Koffie ook.  Ek dink dis 'n goeie idee en hoop dit werk vir haar uit. Maar hierdie laaste twee weke het sy soos 'n besetene rondgehardloop om alles reg en klaar te kry.  Ek hoop dis 'n voorspoedige venture wat sy aanpak.  Die gaping daarvoor is duidelik daar.

Bubbles

Bubbles is ons kleinste  (postuur) katjie en is al 5 jaar oud.  Sy het op 23 Desember 2009 by ons gesin aangesluit, as 2 en 'n half maande katjie.  Die kinders was dorp toe om nog die een of ander laaste ding vir Kersfees te kry toe hulle op 'n troeteldierwinkeltjie afkom, met die katjie daar.  Renate wat toe nog heelwat kleiner was, wil toe die katjie hê.  Dit was 'n tranedal toe die ander sê die katjie is te klein.  Sy noet nog aan haar ma drink, toe die eienaar van die winkel sê sy het nie 'n ma nie.  Hy hou die katjie maar net daar aan.  Hy behoort aangegee te word.  Sulke klein katjies behoort nie sonder 'n ma te wees nie, maar hy het die een of ander slimstorie daaroor gehad.  Hulle koop toe die katjie vir R20-00 en bring haar huis toe.  Toe hulle by die huis kom was ek ballisties dat hulle so 'n katjie gekoop het. Haar ogies was nog nie behoorlik oop nie.  Ek beveel hul toe om die katjie terug te vat petshop toe, maar toe hul daar  kom, is dit toe. Ek was bekommerd oor Renate want sy het net kort te vrede haar katjie aan nierversaking verloor en ek wou nie hê sy moes weer deur die trauma van nog 'n katjie wat doodgaaan  gaaan nie. Toe stuur ek hulle veearts toe met die katjie dat hy kan kyk of ons iets kan doen.  Hy was nie baie optimisties nie, maar heet gesê die kinders kan maar probeer.  Maar nie een van ons weet wat om haar te voer nie, toe lees ons op die internet jy maak so 'n klein weeskatjie groot met Ideal melk en eiergeel en as hul bietjie groter is, Pronutro.  

Ons het 'n paar spuitjies by die spreekkamer gaan haal en so het operasie katgrootmaak begin.  Sy het lekker uit die spuitjie gedrink en het sterker geword, later het ons die pronutro ook vir haar begin gee.  Nou was sy al ' n stewige klein katjie en sy het aangehou sterker word.  Maar sy het nie gegroei nie.  Sy is vandag nog 'n hele stuk kleiner as 'n gewone kat en baie dierbaar.  Almal het haar rondgedra en gecuddle en sy is hondmak.  Sy haal vir niks haar naels uit nie en is baie verdraagbaar. Sy is Renate se skaduwee en as Renate by die skool of in die bad is, sit sy voor die kamerdeur en huil.  As Renate huiswerk doen of leer, sit sy ook by haar.  Doodstil, asof sy weet sy moet haar nie pla nie.  Ons het haar aanvanklik buite toe gevat om te speel, maar later moed opgegee want sy wou nie regtig uit nie.  Seker oor die ander katte nie buitekatte is nie.  Ek het haar as babakat graag as model vir foto's gebruik en het 'n paar goeies gekry.  Sy het dit ewe gedweë toegelaat.  Ek het haar in bakke en blompotte en sulke goed gesit en dan afgeneem.  Sy is seker die enigste kat wat met elke verjaarsdag 'n verjaarsdagpartytjie kry.  Een keer moes ons vir haar 'n prentjie teken en 'n gedig daarby skryf.  Renate bak altyd cupcakes of brownies enBubbles kry 'n blikkie duur katkos.  So ook die ander katte en honde wat daar moet wees.  Dan sit ons om die tafel en sing vir Bubbles en hou makietie.

Bubbles drink nie graag water uit 'n waterbak nie.  Jy moet die kraan op 'n klein skrefie water oophou en dan drink sy so water.  Sy kom roep ons as sy dors is en wil drink,dan moet ons maar die kraan gaan oopmaak.  Sy kom goed met al die ander diere oor die weg, seker oor hulle haar help grootmaak het.

Hier is 'n paar foto's van haar toe sy klein was:
 Hier voer Theo haar met die spuit


 Lekker Pronutropap
 Haar rol as fototmodel
 Hier lê sy bo-op Scab
 My lewe as fotomodel.  Ek het 'n hele klomp kompetisies gewen



Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment