Saturday 2 August 2014

HalloJulle

Ek hoop almal is gelukkig met die weersomstandighede wat hul het. By ons is die Oosweer eers weer verby en is daar 'n kleine stekie koue in hierdie mooi wintersoggend . Vandag skryf ek oor Toon:

THE QUEEN OF THE POTGIETER HOUSEHOLD



Toon het 'n interessante geskiedenis.  Elfi  se lieflingshondjie, Zulanie, 'n 22 jarige miniatuurworsie is op 3 Februarie 2012 oorlede en sy was baie hartseer.  Ons het egter besluit om nie dadelik 'n nuwe hondjie te koop nie, want so 'n hondjie is nooit soos jy hom wil hê nie, want hy is maar net nie die een wat dood is nie.

So het Februarie omgegaan en Valentine's day het gekom en gegaan.  Die dag na Valentine's day daag die SPCA by my man met 'n hondjie met 'n rooi strik om die nek op..  Vol verskonings want die vorige dag was te besig.  Die hondjie is deur iemand aangekoop vir Elfi vir Valentine's day en die enigste voorwaarde is dat haar naam Toon moet wees.  Dis toe 'n Maltese Poedeltjie en sy lyk heel opreg, nie asof daar ander bloed by betrokke was nie.  Toe Theo met die hondjie by die huis kom was dit liefde met die eerste oogopslag.
Die twee was mal oor mekaar.  







Toe sy die hondjie na die veearts vat vir haar nodige inspuitings en histerektomie, het die veearts nogal die hondjie onthou en die interessante storie vertel.  Toon is gevind in die woestyn, ontwater en het skaars nog gelewe,  en sy kon nie meer loop nie want die velle onder haar voete was weggebrand deur die warm woestynsand. Daar was ook blase onder haar voete.

Nou vra ek jou wie gooi 'n hond in die woestyn weg?  Watter wrede manier om van 'n hond ontslae te raak

Toon het gou maats gemaak met die ander 2 honde en die4 katte en hulle leef in vrede saam.  Toon lê graag by Elfi onder 'n kombersie en sy is mal oor die honderokkies wat mens vir hulle kan koop.  Sy het al 'n groot versameling.  As Elfi nie tuis is nie, is haar lêplek bo-op my stoel se ruglening of onder my voete.

Toon is nou 'n gelukkige  en gesonde hondjie met 'n haredos wat skrik vir niks.  Elfie mag nie haar hare sny nie,dit laat sy nie toe nie want sy is bang daarvoor.  Dit sal seker so mettertyd oorgaan.  Sy moet egter soms vasgedruk word om die   hare om haar ogies te knip anders kan sy ooginfeksies kry.  Toon hou van speel en goed gaan haal wat vir haar gegooi word en sy is mal daaroor om in die tuin te speel.  Dan gooi sy sulke S'e van lekkerkry.  

Toon slaap natuurlik by Elfi, soos ons ander diere ook elkeen by hul base slaap, maar Toon slaap in Elfi se arms.

Ek dink dis 'n groot geluk  dat Toon by ons uitgekom het, ander mense sou ook goed vir haar geweet het, maar ek weet nie of sy so 'n soulmate soos Elfi sou kry nie.






Blessings
Theresa

No comments:

Post a Comment