Tuesday 26 August 2014

Hallo liewe lesers

By ons is dit 'n heerlike rustige vakansiedag en niemand doen iets nie.  More bars mens weer as jy alles moet inhaal way jy nie vandag gedoen het nie.  Maar dis more se probleme. Uiteraard is hier nie eintlik nuus nie, behalwe dat Theo vir ons middagtyd enorme T-Bone steaks met 'n sampioensous gebraai het.  Mens was net lus om daarna te gaan lê en lekker te dut.

Vandag sit ek 'n ou skets op wat ek al in 2005 geskryf het, maar nog net so van toepassing is vandag;
Dit was net nadat ons in Walvisbaai aangeland het.



Die saak met die bank

Wat het geword van Bank/kliënt vertroulikheid.  Of is ek verkeerd as ek
nie wil hê my finansiële toestand, of eerder die gebrek daaraan, moet die hele dorp vol lê nie.  Solank ek my skuld betaal en my verpligtinge nakom, kan ek nie insien met wie dit enigsins iets uit te waai het nie.

So doen ons aansoek by 'n groot finansiële instelling vir 'n huislening.  Die bankverteenwoordiger kom sien ons nogal by die huis om die aansoekvorms vir ons te voltooi..  Ons is kwansuis sulke geëerde kliënte - bank ak 25 jaar by hulle en nog 'n klomp ander snert waarmee hulle ons heuning om die mond wil smeer.  Ek moet darem  erken dat dit soms lekker en baie handig is.   Hulle sal glo  nie daarvan droom om ons te laat inkom bank toe om sulke gewone goed soos aansoekvorms vir 'n lening in te vul nie.

Een middag kom daar toe 'n bank-vrou, “gecollar en getaai”, by ons aan huis.  Ons praat oor die weer en al die ander niksseggende goed waarvan mens  praat as jy 'n gesprek aan die gang wil kry en aan die gang wil hou.  Ons is mos geleer dis nie goeie maniere om met die intrapslag oor geld te praat nie.  Sy waarskynlik ook, want sy praat ewe lekker saam.

Dis egter nie lank nie, toe móét ons daaroor praat.  Dis dan die hele doel van haar besoek. "How can we help you" is mos hulle slagspreek.

En ons praat oor geld, al het ons ma's ons geleer dat dit baie "common" is om daarooor te praat. "Sorry, Ma", sê jy hier in jou binneste, en praat maar aan.

Uiteindelik kom ons ooreen op 'n bedrag, maar die hulpverlenende hand wil net doodseker maak ons vra vir genoeg, en skuif uit haar eie die bedrag waarvoor aansoek gedoen word, met so driehonderd duisend op.   Ons weet voor ons heilige siele dat ons nie die paaiemente op die verhoogde bedrag kan bekostig nie.  Ons noem dit vir haar.  "Ag," sê sy, "dis nie 'n probleem nie.  Julle gebruik maar net soveel van die lening as waarmee julle gemaklik voel en kan bekostig om terug te betaal".

Nou wonder ek net, hoeveel hulp is daar in ‘n wortel wat so reg voor jou neus gehang word.  Agt uit elke tien mense sal waarskynlik dink:  "wat de hel, as hulle dink my kredietwaardigheid is soveel, hoekom dit nie maar gebruik nie".  En wanneer die "paw-paw" dan die "fan strike", word daardie helpende hand die hand wat jou hulpvraende bak hande, wegklap.  Hulle het jou mos reeds gehelp, al dan nie.  Wat dan?......

Ewenwel, so vra ons baie mooi en ordentlik dat dit asseblief maar stil gehou moet word.  "Dis vanselfsprekend", word ons gerus gestel.  Ons wil nie hê die huisagente moet ons oorval nie, verduidelik ons verskonend, en veral moet hulle nie weet waarvoor die lening goedgekeur word nie.  Dan is dit bykans onmoontlik om 'n laer aanbod as die gevraagde prys te maak, en nog moeiker om te onderhandel.  Want watter agent gaan nou sy kliënt aanmoedig om te "settle" vir minder, as hy weet waarvoor die koper deur die bank as kredietwaardig verklaar is.

Verstaan nou mooi, dis nie asof ons daarop uit is om 'n "bargain te strike" nie, maar as ons in die proses  'n paar rand kan spaar, hoekom nie?  Almal doen dit en niemand is op die ou einde slegter daaraan toe nie .

Kry ek vanoggend die oproep.  "Mevrou, die lening is toegestaan.  Baie geluk".  "Dankie", sê ek beleef en baie dankbaar.  "Mevrou, wat moet ons vir die huisagente sê.  Hulle bel aanmekaar om te hoor of die lening al goedgekeur is".  Ek is stom-verbaas, om net daarna te wil ontplof.  "Hoe weet hulle van die lening", wil ek beheersd weet.  Want ek weet, sowaar as wat ek ek is, dat ek vir niemand iets daarvan gesê het nie.  En ek weet dat Manlief nooit iets sou gesê het nie.  Die kans is normaalweg baie groter dat ek iets sal uitlap, maar hierdie keer is ek onskuldig.  "Nee Mevrou, ek weet regtig nie", word ek opreg meegedeel.

Ons beëindig die gesprek en ek plaas die gehoorstuk baie ordentlik (en sag) op die mikkie terug.  Moet egter nie dat die uiterlike beheersdheid jou mislei nie, want binne kook dit so dat ek voel of ek enige oomblik kan ontplof.

Ek sit voor die lessenaar en tel tot 10.  Toe tot 20 en daarna 30, maar dit help net mooi niks nie.    Die storm in my wil nie bedaar nie.  Ek tel en tel en tel (glo my, nie seëninge nie), en na 'n paar honderd, begin ek effe kalmeer. 

Ek besluit om die wyse ding te doen.  Ek sal daaroor slaap.  Ek weet dat as ek nou enige huisagent in die hande kry, is sy haar voortbestaan nie seker nie.  En wie weet wat anders ek haar nog  kan aandoen of toesnou .... Nee, ek sal wag tot more.

Dinge werk egter nie altyd uit soos ons hulle beplan nie.  Net voor vyf lui die telefoon en dis niemand anders as `n huisagent nie.  Dié wil ewe weet wat ons nou gaan doen (dis nou oor 'n huis waarna ons gaan kyk het, maar nog nie oor kan besluit nie, omdat daar vir ons doeleindes 'n kamer kort).  Ek vermoed (nee, weet) dis hulle agentskap wat die sondebok is met die bellery na die bank, en ek antwoord ewe sarkasties dat ek nie meer seker is of ons enige iets met hulle of die huis gaan doen nie.  Die arme vrou is skoon verboureerd en weet nie wat aangaan nie.  Ek laat nie op my wag nie en lig haar summier in.  Sy weet van niks nie, sê sy,  maar sal met haar baas daaroor praat.

Dis nie lank nie en die foon lui weer.  Hierdie keer weet ek dis die skuldige - die eienaar van die agentskap by wie die huis in die mark is.  Ek is reg hoor ek, toe ek antwoord. 'n Baie verskonende stem groet my terug.  "Ek is so jammer, maar verstaan nie wat aangaan nie."  Ek stip die punte van my misnoë aan haar uit. "Nee," sê sy, "ek het nog nooit die bank gebel oor jou aansoek om 'n lening nie".  Uitgevang!!  "O, maar jy weet van die aansoek.  Wie't vir jou gesê," bombardeer ek haar.

Sy's vas.  Ek kan dit hoor.  Stilte.  Nog stilte.   Ek weet nou moet sy haar antwoord baie versigtig benader en baie goed formuleer..   Die verteenwoordiger van die bank kom soms daar by hulle, en omdat sy weet ons is kliënte van daardie  bank, het sy toevallig teenoor haar genoem dat sy vir ons huise wys en dat daar 'n moontlikheid is dat ons in een van die huise belangstel.  Die bankvrou noem toe,  natuurlik ook  heel toevallig, dat sy besig is om met ons aansoek te werk.  Maar, sê sy wat die agente-vrou is, die bank het sy nooi gebel nie.   Die heel toevalligste natuurlik,  die bankvrou is niemand anders as ons helpende hand nie.

Nou toe nou.  Wie glo 'n mens?  Die bankvrou wat sê sy word geterroriseer met oproepe, of die agente-vrou wat sê sy't nooit gebel nie.  Eintlik maak dit nie saak nie.  Hulle moet maar onder meaar uitbaklei wie wat gesê of gedoen het.

Hoe dit ookal sy, die vertrouensverhouding tussen 'n bank en sy kliënt, kan net deur die  bank of een van sy verteenwoordigers geskend word en ons kan vir niemand anders as die bankvrou kwaad wees nie.  Al die ander, die agente, die bankvrou se werkgewers en ons, is onskuldige slagoffers van haar los mond.

Nou wonder ek …Hoeveel mense weet wat is ons bankbalans?   Hoeveel weet hoeveel ons maandeliks op wat ook al spandeer of nie spandeer nie?  Wonder jy nie ook nie?...


Theresa Potgieter
Walvisbaai
4 Oktober 2005

Groetnis
Theresa

1 comment:

  1. Penfed Credit Union gee tans lenings uit, Penfed Credit Union is 'n tuiste en 'n plek van finansiële oplossing vir u. As u wil hê dat al u finansiële probleme iets van die verlede is en u ook al u staande skulde wil konsolideer, moet u kontak met: https://www.facebook.com/Katherine.Hernandez.017/ Bemarkingsbestuurder by Penfed Credit Union.
    E -pos: penfed_creditunion@yahoo.com

    Hulle gee 'n persoonlike lening van tot R450,000 of 'n Direct Plus -lening van tot R15,000,000, afhangende van watter besigheidslening u versoek. Ek is 'n begunstigde, en u staan ​​ook 'n kans om 'n wenner te wees.
    Kontak: https: //www.facebook.com/Katherine.Hernandez.017//

    ReplyDelete