Thursday 4 May 2017

RAMPE EN BLAPSE EN WAT EK DAARUIT GELEER HET!

Hallo liewe lesers

Ek was lank van die lug af, maar my rekenaar se MS Word is nou uitgesorteer en kan ek weer blog.
Vandag heg ek vir julle 'n stukkie aan wat ek geskryf het.  Hoop julle geniet dit. 
Groete tot volgende keer

Ek dra hierdie griffel van my op aan al my oud VLV vriendinne van Danielskuil.


Agtergrond:
'n Paar jaar terug gesels ek en Facebook vriendin Ellen Botha een dag oor broodbak. Nie die soort brood wat met die hand geknie en dan gebak word nie, maar die soort waar jy al die bestanddele in die broodmaker gooi. Dan meng daai wonderwerk dit self, hy knie en hy laat rys, knie weer af, laat rys weer en bak dan sommer die broodjie. Boonop kan jy hom vra om die brood op 'n spesifieke tyd reg te hê ook! Al wat jou dan te doen staan is om 4 ure later of wanneer ookal, die broodjie uit te haal en te geniet.
Wel, die liewe Ellen bied toe so ewe aan om my te leer broodbak…
Liewe Ellen, lees eers hier, sodat jy kan weet waarvoor jy jou gaan inlaat, sou ek besluit om van jou aanbod gebruik te maak!
Ek het hierdie skets min of meer 22 jaar gelede vir 'n VLV-kompetisie geskryf. Die oorspronklike titel was "Wat die VLV vir my beteken." Ek het 'n biejie aan hom geskaaf en van die laaste paragrawe nuut geskryf, maar in wese is dit dieselfde skets wat ek toentertyd vir die kompetisie ingeskryf het en gewen het. Ek het ook die titel verander. Ek dra dit op aan Tannie Mercia Van der Ryst van Daniëlskuil, wat altyd my VLV-ma was en wie ek gister na 25 jaar weer ontmoet het. Sy was met een van die MSC bote in Walvis en hulle kon afklim. Ons het die hele oggend om gesels: waar is dié en daardie oud lid, wie lewe nog en wie is nie meer saam met ons nie, oor VLV konferensies wat ons jaarliks in die verskillende areas gehou het en waar elke tak sy beste uitgestal het.
RAMPE EN BLAPSE EN WAT EK DAARUIT GELEER HET!
Dit was 'n goeie klompie jare gelede. Die presiese dag kan ek nie onthou nie, maar dit was in Desember 1985. Dit was 'n Sondag en dit was warm. Op dié dag val Manlief met my (hoog swanger met ons tweede) en ons eenjarige dogtertjie in die pad Daniëlskuil toe. Om eerlik te wees, ons het nie eens geweet van die bestaan van so 'n plek nie, laat staan nog waar dit is! Ons moes dit opsoek in Skoonpa se padkaartboek.
Die doel van die ekskursie was 'n werksonderhoud wat Manlief met die plaaslike dokter daar gehad het. Hy (dis nou Manlief) was pas klaar met sy hospitaaljaar in Kroonstad, maar met 6 maande wat moes verloop voor hy vir sy diensplig moes aanmeld, moes ons iewers 'n heenkome vind. Hy was dus op die uitkyk vir locumwerk of ‘n assistentspos vir 6 maande.
Dis toe hoe dit kom dat ons daardie oggend oppad Daniëlskuil toe is. Ventersburg, Winburg, Bloemfontein, Dealesville, Boshoff, Kimberley en Barkley-Wes kom en gaan. By Delportshoop se padpredikant draai ons af om koeldrank te koop en so met die eerste oogopslag van hierdie klein myndorpie, besluit ek in my enigheid dat as Daniëlskuil so lyk, kan Manlief alleen daar gaan bly en werk. Ek gaan terug na my ma toe. Dit voel soos 'n ewigheid voor ons uiteindelik Daniëlskuil binnery en ek 'n sug van verligting kan slaak. Dit lyk heelwat beter as wat ek verwag het. Na die aanvanklike ses maande het ons die praktyk gekoop en uiteidelik elf jaar daar gebly.
Nou ja, gebore en getoë op 'n Vrystaatse plaas, het ek grootgeword in 'n VLU-huis. Dit was dan ook nie lank nie, toe kom die behoefte en ek begin rondvra. "Is hier nie 'n VLU-tak nie?" "Nee, nie VLU nie", hoor ek, "in die Kaap noem ons dit VLV".
En so beland hierdie Vrystaatse kakiebos by die Kaaplandse VLV. Ek vind gou uit hoe talentvol hierdie vrouens van Griekwaland-Wes nou eintlik is. Hulle bak en brou en hekel en brei en doen sommer alles. En ek? Ek kan nie hekel nie, ook nie brei nie. Voor 'n naaimasjien en stoof is ek 'n ongeluk wat wag om te gebeur. Ek kan darem so op 'n manier beet inlê, van blommerangskikking weet ek 'n kleine bietjie-biejtie, ek kan foto's neem en op skool kon ek darem opstelle skryf.
Na so 'n jaar van vergaderings bywoon, begin ek ook deelneem aan die kompetisies. Eers net hier en daar, maar met verloop van tyd en met baie aanmoediging van die ouer lede, kom die selfvertroue om ook onbekende terreine te betree.
Ek gaan neem boeke oor brei- en hekelwerk in die biblioteek uit en daardie winter kry my kinders elkeen 'n handgebreide trui. Die lyfies bietjie kort en moue heeltemal te lank, maar kinders is nie vol fiemies nie. En al moet ek dit nou self sê, met die moue so twee keer omgevou, het hulle glad nie te sleg gelyk daarin nie.
'n Paar jaar later, toe Anchor Gis aankondig dat paasbolletjies (Hot Cross Buns) daardie jaar se geborgde kompetisie is, begin ek drome droom van hoog uitgerysde paasbolletjies en 'n silwer skinkbordtrofee.
Die dag voor die kompetisie bak en brou ek vir 'n vale; ek knie, laat rys, knie weer af, laat rys weer. Bak. Wag. Toe die gaar bolletjies uit die oond kom, swel ek van trots.
Die volgende middag by die saal bekyk ek ‘n ieder en ‘n elk se bolletjies met 'n arendsoog. Niemand s'n lyk naastenby so mooi soos myne nie, en ek weet sommer in my hart der harte, vandag stap ek met die eerste prys weg...
Die vergadering begin en die bolletjies raak vergete. 'n Hele entjie die vergadering in vra die beoordelares 'n spreekbeurt. Ek kyk op van waar ek in die sekretaressestoel sit en sien hoe sy een van my broodjies in haar hand omhoog hou en vra wie dit gebak het. As dit enigsins moontlik is, word my kop nog 'n bietjie groter en die eie-ek maak my wys dat hulle so perfek is dat sy nie kan wag om dit bekend te maak nie. Trots staan ek op om almal se bewondering en gelukwensings te ontvang. O wee, wat ‘n ontnugtering! Asof deur 'n waas hoor ek haar vra: "Hoekom is hulle so geel aan die binnekant?" Van iewers hoor ek myself antwoord met 'n yl stemmetjie: "Moet hulle dan nie so wees nie?" Ek gaan sit vinnig en bid dat die aarde my tog maar moet insluk. Tuis aangekom later daardie middag, vang my oog toevallig die botteltjie op die kombuistafel - dis die borrie, nie die kaneel nie...
'n Paar maande later verskyn daar op die kompetisielys die volgende: FUDGE (blokkies verpak in 'n 500ml fles). En ek droom van vooraf. Resepteboeke word uitgehaal, afgestof en behoorlik bestudeer. Ek verstaan weliswaar nie veel van al die stadiums by die kook van lekkers nie. Hoe belangrik kan sagtebal- en hardebalstadiums tog nou wees? Verder volg ek die resep egter tot in die fynste besonderhede. Ten einde laaste staan die 500ml bottel, gevul met sagterige blokkies fudge, in die yskas.
Die vorige skande nog vars in my geheue, handhaaf ek by die saal 'n lae profiel. Na die vergadering sluip ek nader om die kommentaar te lees. Weer is daar die wrede ontnugtering! Die kommentaar lui as volg: "Die kompetisielys het blokkies in 'n 500ml fles voorgeskryf, nie een fudge met 'n volume van 500ml nie!" Tot vandag toe nog weet ek nie wat gebeur het nie, en om te vra waar ek dan gefouteer het…daarvoor was ek te skaam.
Intussen het ek berus. Die VLV en ook die lewe gaan nie net daaroor of jy kan naaldwerk doen of bak nie. Daar is baie ander gebiede waarop ek my kan uitleef. Wat wel saak maak, is die liefde wat jy daarin stort, en juis daarom dink ek dis hoekom my kinders, ten spyte van al my floppe en brandoffers in die kombuis, glo dat ek die lekkerste lasagne suid van die ewenaar maak. Drie van die vier het al die noordelike halfrond se ware Italiaanse Jakob geproe! Oor my naaldwerkvermoë word steeds soos die graf geswyg.

By die VLV het ek dus nie net geleer broodbak, brei, hekel en naaldwerk doen nie. Wat ek wel geleer het, is die waarde van samehorigheid, liefde vir en aanvaarding van mekaar en die self, maar veral die waarde van vriendskap. Toe my dogter eenkeer in 'n Afrikaanse eksamenvraestel moes aandui waarvoor die afkorting VLV staan, het sy vol selfvertroue geskryf dit is die ”Vereniging van Lewenslustige Vroue”. Sy het 'n punt vir oorspronklikheid gekry by die onderwyser wie se vrou self 'n VLV-lid was.
Hierdie lewenslesse wat ek as jong vrou geleer het, dra ek nou na al die jare nog met my saam en probeer die feilbare ek steeds, om elke dag my lewe daarop te skoei…
Theresa Potgieter
Walvisbaai
 

No comments:

Post a Comment