Tuesday 27 December 2016

Liewe Lesers

Sjoe, die Oujaar se uurglas is besig om uit te loop en ons vat nie grond nie.  Hoop julle almal het 'n Geseende Kersfees gehad en dat julle 'n lekker tydjie met julle geliefdes gehad het.  Nou nog net die laaste stukke Nuwe Jaar toe.

Ons het 'n verskriklike besige tyd gehad.    Renate se eindeksamenpunte het die 21ste uitgekom. Ons was die 20ste genooi vir die Departement van Onderwys se perskonferensie in Windhoek  vir die bekendmaking van die uitslae.  Die beste 5 kandidate in die Higher vakke en die beste 10 in Lower vakke. Ek en Renate is toe met die shuttle wat van hier af Windhoek toe ry en terug gery en vir 2 aande in 'n gastehuis gebly.  Ons het met dieselfde shuttle weer teruggekom Walvis toe.

Ons het geweet Renate gaan goed doen in die eksamen, want sy is 'n harde werker, maar sy het ons sprakeloos gehad.  Sy is deur die Minister van Onderys aangewys as nr 1 in Namibie.  Ons is so trots op ons ou laatlammetjie.  Na die bekendmaking van die uitslae het die pers en NBC (Televisie) haar gepeper met vra en onderhoude.  Sy was uit haar vel van geluk en het aanhoudend  geglimlag.  By my het die trane van dankbaarheid en trots gevloei.  Mens kan nie vir 'n ander  beskryf hoe dit voel om so trots te wees nie.

Nou wag ons om die uitslag van die Mediese keuring te hoor.  Dis senutergend, dié gewagtery. Sy  is by al die universiteite wat Medies aanbied op 'n waglys.  Die uitslag van die keuring word eers in die nuwe jaar bekendgemaak.  Hou tog asb vir haar ook duimvas.

Ons oudste kinders het nie vir Kersfees huis toe gekom nie, dus was dit net ek en Theo met Elfi en Renate.  Theo is nog in Turkeye, maar hy het 'n kersete gemaak het vir hom en sy meisie. Inge het saam met haar geliefde en sy ouers Kersfees gehou in die Kaap.  Ons het hierdie jaar nie geskenke uitgeruil nie, maar het 'n regte Christusfees gehou.

Ek wens julle almal 'n Voorspoedige Nuwe jaar toe.  Mag 2017 vir julle inhou als wat mooi en goed is, vrede, vreugde, gesondheid, blydskap, emmers vol lag en tonne liefde.

Ek groet vir  eers.
Mooi bly
Theresa

No comments:

Post a Comment