Monday 11 August 2014

Goeiemore Almal

Dis 4 uur Maandagoggend en Klaasvakie het vergeet om gisteraand vir my genoeg sand in my oë te gooi sodat ek lekker kon slaap nie en het nou maar besluit op om te staan en iets konstruktiefs te probeer doen. Ek het die skottelgoed gewas en die kombuis netjies gemaak.  Dis eintlik heerlik die tyd van die oggend, net so voor die lig deurbreuk en as hy dan deurbreuk is dit soos 'n magiese wonder.  Ons wêreld is darem maar 'n ou mooi plek.  Ek is net jammer ek het nie die motor gevat en gaan sonsonopkoms foto's oor die duine neem nie.  Ek het baie sonsondergangsfoto's oor die lagooon, maar mens het min van die sonsopkoms.  Vanaand is dit Blou Maan.  As ons dit van hieraf kan sien, neem ek dit definitief af.  Hoop net ek kry my settings reg.  Dalk pryk daar more 'n foto van die Blou maan op jul skerms.  Moet net nie te optimisities wees nie.

Vandag moet Renate weer vir 'n opvolg tandarts toe gaan vir haar draadjies wat afgehaal is.  Sy het nou net 'n draad agter om die tande en dit gaan gedurig los aan die een of ander kant.  Dus vanmiddag ry ons Swakopmund toe , die slag net vir 'n opvolg en nie om iets te laat regmaak wat weereens gebreek het nie.
Die pad Swakop toe raak al hoe besiger, g'n wonder daar is so baie ongelukke nie, en die pad is vreeslik nou en ons padverbruikers, veral die taksies, weet nie wat die verkeersstrepe beteken nie.  Daar word sommer op enige plek langs die pad verby gegaan by 'n ander motor.  Dit is een van die paaie met die hoogste ongeluksyfer in Namibië.

Ek het  so stuk-stuk geskrywe en weer iets anders goen dat dit sowaar al 8 uur is en ek is nog nie gestort of aangetrek nie.  Ek dink ek sal dit maar nou moet gaan doen.  Dis skoolvakansie hier by ons, en dan doen ek dit gewoonlik net na Renate skool toe is.  Het so gehoop om 'n bietjie in te lê vanoggend, maar nou ja!

Ek het vir julle 'n storie by wat Renate vir die ATKV se griffelkompetisie geskryf het in Graad 7 sommer sodat ons almal weer kind kan voel.



Die sprokieswêreld van musiek



Ek is 'n bevoorregte dogtertjie. Ek besit die gawe om feëtjies te sien en met hulle

te praat. Ek was nog baie klein toe ek dit agtergekom het.


Ek het op vier begin blokfluit neem en het altyd die lekkerste geoefen onder die

groot  wilgerboom met sy uitgeholde stam,  agter in ons tuin.


Een oggend terwyl ek gespeel het, was daar skielik om my 'n klomp

skoenlappers met die asemrowendste en beeldskoonste vlerke  wat in die son  

geglinster het.  Hulle was oral.  Ek het hulle van naderby gaan bekyk en amper

uit my vel gespring van blydskap!  Hulle was nie skoenlappers nie, maar feëtjies!



Een het vorentoe gevlieg en op die punt van my blokfluit kom sit.  Met haar

fluweelsagte  stemmetjie het sy vertel dat hulle  musiekfeetjies is en in die holte

van die boomstam bly.  Hulle het my gewys hoe hul huis lyk.  Dit was pragtig.  

Daar was duisende piepklein feëtjieliggies.  Voor die vensters was die mooiste

gordyne. Elke feëtjie se klere, gordyne en beddegoed se kleure is verskillend.  

Scherzando, die tergfeëtjie, s'n is lilapers.  Staccato, wat altyd trippel, s'n is

liggeel.  Allegro is 'n rooi en vurige feétjie en Pianissimo is pienk en sag.  

Ek is nou al in graad sewe en ek bespeel nou dwarsfluit en viool ook.  Ek  oefen

nog steeds saam met die feëtjies onder die boom. Terloops, daar bestaan ook ‘n

feëtjiesimfonieorkes.


Ons speel graag Rimsky Korsakov se "Vlug van die Hommelby”, maar ek moet

erken dat "Die karnaval van die diere" deur die Fransman, Camille Saint- Saëns,

eintlik my groot gunsteling is.  Verskillende diere word uitgebeeld en jy kan jou

absoluut daarin uittleef.  Vir die olifante gebruik ek die groot basblokfluit . Eintlik

moet dit 'n kontrabas wees, maar ek en die feëtjies is te klein om so 'n groot

instrumemt te bespeel.


Hulle moet baie hard oefen om in die orkes te kan speel en koningsblou Madame

Fortissimo laat my toe om saam te oefen.  Sy is die dirigent en baie kwaai en

streng. Net die beste is skaars goed genoeg.  Sy laat ons oefen en oefen tot dit

perfek is.


Dis eintlik 'n goeie ding, want nou doen ek altyd goed in my fluit en

viooleksamens, maar nie in klavier nie.  My musiektannie het juis nou die dag

gevra hoe dit moontlik is dat ek al my fluite  en viool se eksamenstukke so goed

ken, maar nie my klavierstukke nie…


Ek weet nie wat om vir haar te sê nie!  Die waarheid gaan vir haar soos 'n

liegstorie  klink.  Sy hoef in elk geval nie als  te weet nie, of hoe?   Daarom  bly

ek maar net stil en glimlag  liefies vir haar as sy vra...


Die feëtjies het my vertel dat as jy hulle as kind kan sien, jy hulle vir altyd en altyd

sal kan sien.  Ek dink  rêrig-egtig dat ek 'n baie gelukkige dogtertjie is....en ek kan

nie wag op al die musiekavonture wat ek nog saam met hul gaan beleef nie...

No comments:

Post a Comment