Saturday 2 August 2014

Hi almal

Hier is 'n kor-kort storie vir julle.



'n Bos rose in die middel van die snelweg  

Die vrou met die donkerbril op kom uitgestap uit die blommewinkel met 'n groot bos rooi rose in haar arms.  Om die bos  is 'n kaartjie vasgebind.    'n Oomblik lank staan sy doodstil asof in 'n trans met haar oë hemelwaarts gerig. Dit lyk kompleet of sy bid.
 Sy plaas die blomme liefderyk op die passasiersitplek van haar motor neer en loop om na die bestuurderskant toe. Sy haal haar sonbril af en sit dit in haar handsak, terwyl sy na die motorsleutels soek.  
Dan skielik is dit asof sy onthou wat sy wil doen.  Sy ruk die bestuurdersdeur oop en klim vinnig in die motor.  Sy sit die voertuig in rat en retireer uit die parkeerplek.  Met 'n gesuis van bande jaag sy oor die parkeerplek totdat sy in die straat kom.
Ek is op pad van Walvisbaai af Swakopmund toe en is kort agter haar by die parkeerterrein uit.  Deur die stadsverkeer bly ek agter haar tot ons om die sirkel moet afdraai Swakop toe.  Ek sien dat sy ook op pad is soontoe.  Sy ry 'n redelike spoed, net so dat ek nie nodig het om verby te gaan nie.  Met rukke is ek ver agter haar as daar lorries tussen ons kom. 
Ek het al byna van haar vergeet, toe sy skielik voor my op die pad doodstop sonder om 'n flikkerlig aan te sit, en na die linkerkant van die pad by 'n klein strandjie afdraai.  Aan  die linkerkant is die see nogal onstuimig en is die geraas van branders hoorbaar bo die gedreun van die motors. Regs troon die duine van die Namib bo ons uit.  See en sand net geskei deur die pad wat daardeur loop. Ek draai ook af - meer van skrik as van nuuskierigheid.  Ek bly in my motor sit en sien hoe die vrou uitklim, omloop en die bos blomme uit die motor lig.  Daarmee loop sy reguit na die middel van die teerpad en sit die bos blomme met die kaartjie knielend daar neer.  Sy bly 'n oomblik op haar knieë en ek kan sien dat sy huil.  Dan staan sy op en loop weer na haar motor waar sy lank koponderstebo bly sit, tot sy laterdie motor weer aansluit en stadig terug in Walvis se rigting begin ry.

Toe sy weg is, kry my nuuskierigheid die oorhand.  Ek klim uit en gaan inspekteer die blomme.  Op die kaartjie staan: "Aan my lieflingseuntjie met jou sesde verjaarsdag.  Jy is van ons weggeneem 'n jaar gelede toe jy hier onder die wiele van 'n aankomende motor beland het. Jy het sonder om te kyk oor die pad gehardkoop om op die duine te gaan speel".  Ek retireer saggies, want dit voel vir my asof ek heiligsgrond betree het...
In my motor op pad huis toe besef ek opnuut hoe kosbaar die lewe is en dat dit enige oomblik tot 'n einde kan kom.  Ons moet dus elke oomblik aangryp en voluit lewe.  Carpe diem!

479 woorde
Theresa Potgieter
Durbanville, Kaapstad
12 November 2012

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment