Friday 27 March 2015

Hi liewe Vriende

Vandag was maar stillerig, net met die gewone huiswerk wat gedoen moes word. Vreeslik eentonig. Ek het darem 'n paar foto's van juwele geneem om te oefen vir 'n photoshoot wat ek volgende week vir 'n vriendin moet doen, wat nuwe juwele vir haar winkel ingekry het.  Ek het dit sommer klaar geredigeer ook.  EK het nou 'n baie beter idee van watter stellings en lense ek moet gebruik.  Die makrolens werk die beste.  Ek het ook nie slegte resultate met my 300mm lens gekry nie.

Ek en Renate het hierdie jaar albei vir die ATKV pluimpies ingeskryf en wonder bo wonder kry ons verlede week briewe dat ons al2 toekennings ontvang op Donderdag, 26 Maart.  Dit was egter nie vir ons moontlik om dit by te woon nie, want Renate het vandag Biologie geskryf.  Nogal 'n lywige vak en baie moeilike werk. Maar,se die reels, as jy nie daar is om jou prys te ontvang nie, verbeur jy dit en staan dit oor tot die volgende jaar.  Tensy jy egter iemand nomineer om dit namens jou in ontvangs kan neem.  Ons het nogal gesukkel om iemand te kry om die gala-aand by te woon, maar gelukkig het ek hierdie wakker vriendin wat 'n neef het wat in Windhoek bly en wie se vrou ook 'n toekenning ontvang.  Sy het dit sommer gou-gou met hulle gereel om ook ons toekennings te ontvang.  Dis ook uitgesaai op die NBC se Afrikaanse Radiostasie en ons het bankvas voor die radio gesit en luister.  Ek het dit ook opgeneem.  Ons het elkeen 'n deelnemerssertfikaat ontvang, wat ek nie dink te sleg is vir 'n eerste poging nie en as mens in gedagte hou dat Renate maar in gr 11 is en teen volwassenes moes deelneem.  Ook nie almal wat deelneem kry so 'n sertifikaat nie.  Ons is dus redelik in ons skik.

More is dit die Shotokan Kus Karate Kampioenskappe in Swakop en ons moet al half 8 daar wees. Dit beteken ons moet al half 6 opstaan as ons wil speling laat vir die mis wat dalk ons rit kan vertraag.  In goeie weer ry mens net 'n halfuur, maar soggens is die mis so dik dat dit jou soms 'n uur of langer neem om die skamele 35km af te le..  Ek vertrou dat sy goed sal doen.  Sy het 'n bruin gordel, maar neem in die Swart gordel afdeling deel.  Al wen sy ook niks, is die ondervinding alleen al die moeite werd.  Sy val net-net in die senior kategorie en dis waarom dit gebeur.  Hulle gaan slegs volgens ouderdom en gewig, en die meeste kinders het teen daardie tyd al swart gordels.  Sy het vir 2 jaar opgehou met karate. Dis hoekom sy nou bietjie agter is. Sy het egter in 1 jaar gevorder van blou na bruin en het ook by die World Cup in Italie verlede jaar 2 silwer medaljes gekry.

Ek moet nou amper vir Renate gaan haal by die skool waar hul Biologie prakties geskryf het vanmiddag.  Ek groet dus tot more.

Lekker middag en aand vir julle
Theresa

+

No comments:

Post a Comment