Tuesday 31 March 2015

Hallo julle almal

Die afgelope naweek was 'n besige paar dae vir ons.

Saterdagoggend het ons al dou voor dag (5 uur) opgestaan om vir Renate Karate toe te vat in Swakopmund.  Dis eintlik nie so ver nie, 35 km, maar mens moet altyd die digte mis op die pad in gedagte hou.  Dit neem in die mis tot 'n uur of langer om die afstand te ry.  As dit mooi weer is, net 'n halfuur.  Maar jy kan nooit vooraf voorspel nie.  Die weer was toe mooi en ons was lank voor half 8 daar.  Gelukkig kon ons toe darem heel voor sitplekke kry in die nuwe sportkompleks.  Dit het goed gegaan met haar.  Dit was die Swakopmund Shotokan Open Champioenships.  Sy het die goue medalje gewen in die kumute afdeling en brons by die Kata.  Ons het seker so 1 uur daar weggekom en het toe gaan pizzas koop om te eet.  Teen half 3 was ons by die huis en het ons maar net rondgesit, behalwe Renate wat nog vir eksamen moes leer en ek wat my 666 foto's wou aflaai op die rekenaar en hulle edit.  Sjoe, dit was harde werk en ek was eers Sondagaand klaar en kon ek dit op facebook pos


Saterdagnag het ons bietjie reen gehad waaroor ek baie bly was.  Toe hoef ons nie die grote tuin Maandag nat maak nie.  Sal dit maar weer more moet doen.

Sondag het lekker rustig aangebreek.  Ons was die heel dag rustig hier by die huis rond en Theo en Elfi het met hulle Macaws gespeel en gesels.  Theo is ook nie eenkeer deur 'n siek pasient uitgeroep nie.  Vyf uur kry hy toe 'n oproep van ons Sekuriteitsmaatskappy.  Daar is by sy spreekkamer ingebreek.  Hulle haal elke keer die venster uit sy spreekkamertjie se raam omdat dit agter is.  Dit is die 4de keer wat dit die jaar gebeur.  Nog nooit voorheen is iets gesteel nie.  Hulle soek laptops en kameras en sulke goed wat hul weer maklik  kan verkwansel.  Die keer egter het hulle die plek omtrent leeggedra.  Die 3 desktop rekenaars is weg, 'n digitale fotoraam, calculaters en allerhande ander goed.  Dit moes al Saterdagnag na die reen gebeur het, want oral was modderspore en die merke van 'n voertuig in die modder  buite die venster wat hul uitgehaal het en netjies teen 'n muur staangemaak is.  Die alarm was aan, maar die sekuriteitsmaatskappy se hul het geen sein ontvang dat die alarm afgegaan het nie.  Ons vermoed dis 'n inside job, want dit lyk of die inbreker presies geweet het waar al die ogies is.  Die hospitaalwag wat rondtes doen, het die uit venster gesien en die sekuriteit gebel Sondagmiddag.  Theo moes lank daar wag vir sekuriteit en die polisie om op te daag en ook om vas te stel wat alles weg is.  Mens kom mos altyd na die tyd agter wat nog weg is.  Gelukkig het ons darem versekering, maar ek is bang hulle begin weier om uit te betaal omdat dit so gereeld gebeur.Theo moes toe nog 'n nagwag ook huur om die oop spreekkamer deur die nag op te pas.

Gister het hulle darem die venster kom terugsit en het ons kwotasies vir die gesteelde goed begin aanvra.  Ons moet ook 'n kwotasie kry vir die Mediese program waarop die hele stelsel, rekeninge en pasient inligting, loop en dis nogal 'n duur storie  So om en by N$20 000 en dalk nog meer, want die ouens wat dit moet kom instaleer en die netwerke weer opstel, vra ook 'n aardige bedraggie.  Ons sukkel egter so om kwotasies in die hande te kry.  Dit lyk asof niemand hier iets wil verkoop en geld maak nie.  En dis van die uiterste belang dat ons die rekenaars en program so vinnig as moontlik weer aan die gang kry.  Dalk as Theo vanaand by die huis kom, het hy al beter nuus.

Renate hou more op met eksamen skryf.  Nogal is Wiskunde haar laaaste vak.  Gister het sy Engels geskryf.  Vandag sit sy al amper sonder ophou voor die boeke om seker te maak sy gaan deur al die Wiskunde. Gelukkig is Wiskunde haar beste vak en kry sy gewoonlik volpunte daarvoor. Ek sal tog bly wees as die eksamen verby is, want dit was 'n besige tyd.  Die eksamen het in die middel van die 1ste termyn geval en het alle buitemuurse aktiwiteite soos normaal voortgegaan.  Dit was nie vir my reg nie.  Hulle het selfs 'n groot sporttoernooi in die middel van die eksamen in Windhoek gehad waarvoor hulle 5 dae weg was.  5 dae waarin daar nie studeer kon word nie.  Toe reen dit boonop en Renate wat vir die 1ste span hokkie daar was en 10 wedstryde moes speel. AGV die reen het die hokkiebaan verspoel en kon hulle net die eerste dag se 2 wedstryde speel.  Sy kon liewer by die huis gebly het en geleer het.  Daar is ook aan hulle studietyd daar belowe, wat natuurlik nie gerealiseer het nie.  Sy moes dus dubbeld so hard werk toe sy teruggekom het.

Theo het nou net tuis gekom en Elfi is besig met aandete.  Ek gaan julle dus eers groet.

Ons praat gou weer
Groete
Theresa

No comments:

Post a Comment