Thursday 16 April 2015

Liewe Vriende

Ons het 'n baie besige paar weke agter die rug.

Eers het ons heerlik langnaweek gehou - van Goeie Vrydag tot Paasmaandag.  Ons as gesin, het die tyd gebruik om saam in die duine te gaan ry en weer 'n slag te soek en te kyk na al die klein diertjies in die woestyn.  Mens het permitte nodig om daar te ry, maar ons was verstom om toergroepe met honderde toeriste raak te loop waar die toeriste die ekosisteem van die woestyn verniel.  Hulle het selfs van die duine uitgeklim, al is daar spesifieke areas gemerk waar mens wel kan duine klim.  Dit lyk vir my asof die toeriste nie omgee hoeveel hulle van die land kan vernietig nie.  Wat my verstand te bowe gaan is dat die toerleiers almal Namibiërs is.  Kan hulle dan nie die mense beter inlig en keer as hul wil uitklim op plekke waar dit verbode is nie. Ons het Saterdag en Sondag vir 'n slag weer die omgewing verken deur die hele Duinegordel van Walvisbaai af tot in Swakopmund en terug Walvis toe te ry.  Vrydag en Maandag was ons maar net rustig en het gerus.

Verlede Dinsdag, na die langnaweek, het ons skool, Walvisbaai Privaat Hoerskool, 'n Woestynfees aangebied.  Die 1ste spanne van Hokkie en al die ander rugbyspanne en netbalspanne was betrokke. Daar is omtrent gesport dwarsdeur tot Saterdagmiddag.  Ons 1ste Hokkie Dogtersspan het 2 wedstryde gewen en 2 gelykop gespeel.  Een van dié waar hulle gelykop gespeel het, was nogal 'n Suid-Afrikaanse skool, Alberton Hoërskool.  Ons het goed vergelyk met hulle en die wedstryd het met 1 elk geëindig.  Die ander drie wedstryde wat hul gespeel het was teen plaaslike spanne van hier en Swakopmund.  Een was gelykop en die ander twee 4-0 en 11-0.  Dit was ook die eerste keer die seisoen dat die dogters kans gekry het om as 'n span saam te speel.  Die seunshokkie het ook goed gevaar.

Hier was verskeie skole uit die Republiek wat teen Namibiese skole kom rugby en netbal speel het. Met party het dit goed gegaan en met ander minder goed.  Maar alles gesien, dink ek nie ons Namibiërs hoef ver terug te staan vir die Suid-Afrikaanse skole nie.  Nie in netbal nie en ook nie by die rugby nie.  Saterdagmiddag toe alles afsluit, was almal vodde.  Die kinders wat deelgeneem het, die toeskouers en al die ouers wat by die verskillende stalletjies en kosstalletjies moes werk.  Daarna dink ek nie het enige iemand veel gedoen, behalwe om die rugby op TV te kyk en 'n vleisie te braai nie, en ek het al voor dit aan die slaap geraak.  Ek het natuurlik weeroorboord gegaan met foto's neem en het die hele week daaraan gewerk en edit.

Hierdie week het die kinders hul eksamenvraestelle begin terugkry en daardeur gewerk.  Ons weet nog nie wanneer die rapporte beskikbaar sal wees nie.  Die skool sluit more om 10 uur.  Dalk kry hulle dit dan.  Ons is nogal nuuskierig oor Renate se rapportpunt, want dit klink of dit baie goed gegaan het.  Sy het bv vir haar 1ste  Biologie Hoër vraestel 100% gekry.  Die onderwyser het glo gesê dat toe hy aan die einde van die vraestel kom, hy moes teruggaan om 'n fout of foute te gaan soek.  Hy kon egter niks kry nie.  Hy was verstom dat die kind vir 'n Hoër vraestel volpunte kry, want dit gebeur nie maklik nie.  In sy 28 jaar van skoolhou was dit die eerste keer wat dit gebeur.  Saam met haar kwartaalpunt van 100% en die prakties en 2de vraestel waar sy saam 6 punte verloor het, is haar Rapportpunt nou 98%.  Vir Science Hoër is haar rapportpunt 92%.  Sy het ook in Afrikaans en Engels, albei eerste taal Hoër opgekom, maar daardie punte, sowel as die Wiskunde en Accounting het sy nog nie die totale punt nie.  Ons voel baie trots.

Ek gaan nou eers weer groet tot 'n volgende keer

Mooi bly
Theresa



No comments:

Post a Comment