Sunday 24 July 2016

Hallo Almal

Ek het die laaste ruk regtig my blog verwaarloos.  Toe ek nou wil ingaan op die blad kom ek agter ek het my wagwoord vergeet.  Ek weet ek het dit iewers neergeskryf, maar kan nie onthou waar nie.  Ek moes toe deur 'n hele proses gaan om 'n nuwe wagwoord te registreer.  Ek Het nogal gesukkel, maar toe vra ek vir Elfi om my te help.  Binne 3 minute was ek terug op die lug.  Die jongklomp is darem baie handiger met hierdie elektronies goed as wat ons is.

Die jaar stap met vaste tred aan, en hier by ons in Namibia is dit amper die einde van die 2de trimester.  Die eksamen begin more en Renate is al weke besig met die voorbereiding.  Tussendeur is dit universiteits- en beursaansoeke en stawende bewyse vir haar prestasies wat gefotostateer en gewaarmerk moet word.  Sy wil graag volgende jaar gaan medies swot.  Die keuring is baie streng en sy doen nou aansoek by elke Universiteit wat medies aanbied.  Wits en Uni van Kaapstad, het klaar laat weet hulle keur net studente van kleur.  Sy is al as student op Maties aanvaar, maar die keuring vir medies vind eers later plaas.  Dan is daar nog Bloemfontein, Pretoria en UNAM (Universiteit van Namibie)  Hou asb tog maar duim vas dat sy wel gekeur gaan word

Voor verlede week het die skool 'n toneelstuk opgevoer.  Renate het die hoofrol vertolk en sy het ons almal stom en in trane gelaat met haar toneelspel.  Sy het haar rol baie oortuigend gespeel.  Die rol was dié van 'n Matriekmeisie wat al vandat sy klein was, kanker het.  Sy was in remissie en die toneelstuk begin waar sy uitvind dat sy weer kanker het.  Sy beplan met haar vriende 'n roadtrip, terwyl sy nog sterk genoeg is. Eers wil sy nie voortgaan met haar behandeling nie, maar sy kry nuwe insig in die lewe op die roadtrip en besluit om voort te gaan met behandeling.  Dis 'n baie "sad" storie, en sy het haar rol baie oortuigend gespeel.

Dieselfde week was die 8ste JSKA Karate Wereldkampioenskappe in Swakopmund.  Dit was van Maandag tot Saterdagaand.  Renate het in die Kata en Freefighting deelgeneem en 2 vierde plekke gekry.  Sy het ook 'n skeidsregter kursus voltooi.  Namibie het die meeste goue medaljes (49) gewen en oor die algeheel die meese medaljes (92) gewen,  Suid-Afrika was 2de  en Skotland.  Ander lande wat deelgeneem het was onder andere Duitsland, Switserland. Brittanje.  Moet se, ons was almal moeg na so 'n besige week.  Bedags die karate en saans die opvoering van die toneel.

Theo is al die hele naweek in en uit hospitaal toe.  Meeste mense het griep.  Ek hoop nie hy steek aan nie.  Mens sukkel om van die gogga ontslae te raak.  Ek was 2 weke lank regtig siek.

Ek gaan vir eers totsiens sê..
Tot ons weer ontmoet
Theresa

No comments:

Post a Comment