Saturday 30 July 2016

Hallo liewe Lesers

Ons het die laaste paar dae baie koud gekry.  Vanoggend was dit vriesend koud, maar nou al bietjie warmer.  Renate het hokkie gespeel vanoggend teen Windhoek Gimnasium.  Hulle het 1-4 verloor. Daarna het ons en vriende na 'n nuwe koffieplek gegaan en iets geeet.  Die plekkie is baie oulik en behoort aan 'n vriendin van my.  Hulle kos was uit die boonste rakke.  Ons sal defnitief weer soontoe gaan.

Die grootste drywende biblioteek is in ons hawe al vir 2 weke, die LOGOS HOPE  Woensdagmiddag het ek en Renate besluit om self te gaan kyk, want almal vertel hoe groot en goedkoop die boeke daar is.  Ons moes omtrent 'n kilometer ver parkeer en stap tot by die boot.  Maar dit was die moeite werd.  Ek het nog nooit so 'n groot boekwinkel gesien nie en met derduisende boeke.  Die boeke word in units geprys en 30 units is N$100-00.  Boeke wat gewoonlik om en by die 500 rand kos, koop jy vir 150N$.  Daar is ook baie spesiale aanbiedinge.  Ek en Renate is met 2 groot sakke daar uit.  As die LOGOS HOPE iewers in 'n hawe naby julle te lande kom, gaan maak defnitief daar 'n draai.  Dis is asemberowend!!

Renate het griep en moet leer, want dis al die 2de week van haar eksamen.  Sy sê haar kop voel soos 'n sif.  Maandag skryf sy Afr Opstelle en Dinsdag en ek dink Woensdag ook, Wiskunde.  Die res van haar rooster weet ek nog nie, maar die Afr 1ste vraestel en mondeling en die Biologie 2 vraestelle is darem al verby.

Tussendeur is dit Matriekafskeid reelings.  Skoene soek is nou op ons prioriteitslys.  Die rok is darem al aan die gang en sy moet more vir die tweede keer gaan pas.  Die haar, naels en grimering afsprake is al gemaak.  Ons moet net iewers 'n proeflopie inpas vir die hare en grimering.

Ek gaan nou soos 'n dassie in die son sit en bak en na Luciano Pavarotti luister.  Ek groet julle dus vir eers.

Lekker dag
Theresa

No comments:

Post a Comment