Thursday 8 September 2016

Liewe Vriende

Ons het 'n besige laaste 2 weke gehad, met die reelings vir
Renate se Matriekafskeid  hierdie gewese Vrydagaand.  Die rok was darem al 3 maande terug bestel. Hare en naels en grimering geboek en gedoen. Op die ou einde het die Rolls Royce waarmee sy sou gaan, die gees gegee.  Ons het toe by vriende 'n Range Rover gekry.  'n 2006 model.  Nou nie vintage soos sy wou he, maar sy was tevrede.  Ons het vir  hulle nommerplate met  hulle name en Matreks 2016 op laat maak en dit op die kar gesit.  Die kleur van die nommerplate was die kleur van haar rok

Renate het die oggend van die groot dag, eers gaan ontbyt eet met hulle groep.  Twaalf uur moes ons vir die hare by die Salon wees.  Renate se hare het stunning gelyk.  Daarna is ons na die Hotelkamer wat ons vir die dag bespreek het waar ons haar met Sushi bederf het.  3 uur het sy vir die grimering gegaan.  Die meisie wat dit gedoen het, het 'n goeie job daarvan gemaak.  Sy het beeldskoon gelyk.
Daarna weer terug hotel toe om aan te trek.  Renate het 'n donker perske-kleur rok laat maak en sy het prentjiemooi gelyk, saam met die hare en die grimering.  Die skoene wat ons die hele Windhoek plat gesoek het na, was perfek by die rok.  Die date het betyds opgedaag en ons kon nog self 'n paar foto's neem.  Daarna is hulle na 'n professionele fotograaf vir nog foto's,  Renate het eers laat ingestap by die saal en na die foto's het ons terug gegaan na die hotel waar ons saam met haar en haar metgeself Hot Chocolate gedrink het.  Daarna is hulle in die Range Rover weg saal toe.  Ons was baie trots op hoe mooi ons jongste gelyk het.

Vandag was ook 'n dag van laastes.  Valedictory Day en Renate se laaste skooldag.  Ons het eers saam met die ander ouers en kinders tee en eetgoed genuttig.  Ons is daarna na buite vir die Ankerseremonie en waar die kinders toesprake gehou het oor hulle onderwysers.  Die matrieks het mooi en goed van hul onderwysers gepraat.  Dis 'n tradisie van die skool dat as jy by die skool aansluit, hetsy as leerder of onderwyser, moet jy onder die anker deurstap en die anker slaan.  Al die matrieks het die kans gekry om die anker te slaan.  Menige onder ons het 'n traan of twee afgevee. Die kinders self was ook baie hartseer.  Maar dit was 'n mooi dag en mens voel trots dat jou kind deel van so 'n tradisie en skool kon wees.

Nou le die geswoeg en leerdery vir die eindeksamen voor die deur.  Ek weet dit sal goed gaan met Renate.

Ek groet nou vir eers.

Mooi bly
Groete
Theresa


No comments:

Post a Comment