Thursday, 6 November 2014

Hallo vir die 2de slag vandag

Hier is 'n paar foto's uit my "Touches of red" Album














Liewe Vriende

Vandag is ' lekker koel dag sonder wind.  Hoe dit vanmiddag gaan wees het ek nie 'n idee nie, parykeer waai dit al van 1 uur af dat mens dit nie kan waag om uit te gaan nie.

Di ergste hartseer van gister is verby, maar daar bly altyd nog 'n bietjie oor en dis Desember en mens bly dink aan Kersfees en hoe mens so iemand mis by die Kersvieringe. Maar nou genoeg van dit.

Renate blok by die huis vir eksamen en sy gaan net skooltoe om te gaan skryf.  Vandag moet sy egter 12uur daar wees vir ekstra klas in Physics.  Hulle het nie klaargekry met die semester se werk nie en nou is daar ekstra klasse.  En hulle skryf Maandag Physics.

Gisteraand  het sy geleer en ek en Elfi het kos gemaak.  Nadat ons klaargeeet het, het sy weer gaan leer en Theo het haar met 'n paar goed gaan help wat sy nie meer verstaan nie.  Hulle was lank besig en ons het maar TV gekyk Villa Roa die nuus en daarna Binnelanders.  Ek het daarna gelees terwyl Elfi haar diere kos gegee het.  Glo my dis 'n missie op sy eie.  Party kry meelwurms, ander krieke , nog ander gesnyde groente en dan moet die visse kos gegee word  Elke soort sy eie soort kos. Dit neem haar tot 'n uur en 'n half om alles dlaar te kry,

Elfi het gaan kruideniersware koop al 'n uur en 'n half terug en sy is nog nie klaar nie.  Wonder of sy die hele winkel leeg koop of het sy nog afder plekker om na te gaan. Sal maar hoor as sy terugkom

Groetnis en geniet di edag verder

Theresa



Wednesday, 5 November 2014

Hallo liewe vriende

Vandag is vir my 'n hartseerdag.  My enigste sussie het vandag 23 jaar terug op die pad tussenWinburg en Bloemfontien dood.  Dit het kwaai gereen en 'n vragmotor van voor het verby die voertuig voor hom probeer vergaan en Renate het verby probeer verbygaan by die motor voor haar.  Hulle het makaar glad nie gesien nie.  Sy is op slag dood.

Ek onthou nog die oproep van my ma Danielskuil toe om te se ons moet huis toe kom.  Iets verskrikliks het gebeur.  Renate het verondeluk.  Ek vra nog of sy seergekry het. Toe se my ma sy is dood.

Dis die vinnigste wat ek nog gepak het en ons Winburg toe gery het.  Toe ons daar kom was my ouers nie alleen nie, 'n hele paar vriende en 'n dominee met wie my pa goeie vriende was, was daar.  Maar dit het gelyk asof dit nog nie ingesink het nie.  My pa het nog gese hy wonder waar bly sy so lank, want sy het hulle gebel net voor sy begin ry het.

Ons moes al die begrafnisreelings tref en ons het nie geweet wat om als te doen nie.  Gelukkig het AVBOB darem gehelp.

Dit is ook vandag my vriendin se man se doodsdag.  Hy is verlede jaar na'n jaar se lyding aan pankreas kanker dood.  Ek kom nou net terug nadat ek en sy gaan koffie drink het en sy oor die goeie ou dae gesels het.

Jul kan dus besef dat dit vir my nie 'n lekker dag is nie.  Ek wonder so baie keer hoe dit sou wees as sy geleef het en ons saam kon kinders grootmaak, vriendinne wees, of ons kinders oor die weg so kom, ens.  Maar dis water onder die brug.

Ek het vir julle 'n gedig aan wat ek 'n paar jaar gelede al geskryf het vir haar.

In Memoriam
(Renate Vera Bϋscher   
07/06/1962 – 05/12/1994)

Kleintyd as sussies bymekaargesmyt.
Die verskille tussen ons hemelsbreed
en meestal onversoenbaar
                   onaanpasbaar
                   ontoegeeflik
                   onverenigbaar
Ek, die rustige dromer
Jy, die wilde en kwaai go-getter
Deur sonskyndae en onweersdae
is ons kindertyd verseël
ons grootword gedeel,
en het ons tog geleer
om mekaar lief te kry.

Skielik een dag
‘n oproep
‘n tyding van dood!
Voortydig.
Onverwags.
Eensklaps was jy weg.
Nooit was ons van dieselfde bloed,
maar ‘n deel van my hart uitgeruk.

Hoe kon dit waar wees?
Jy was so jonk...
   so mooi...
Ek was verstom
    verslae
              woedend
Ek was die bloubitterbessiebliksem in vir jou!
Hoe kon jy dit aan my doen?

Hartseer
Trane
‘n Vlekvrye staalbed
Doodsbleek
onder ‘n wit laken lê jy.
Jou liggaam geskend
Onherkenbaar vermink
Arms en bene vergruis
verpulp tot ‘n niksseggende massa.



Ek moes jou uitken.
Ek het na jou gesoek,
maar kon jou nêrens kry
in daardie liggaam
onder die laken nie.
Aanvaarding
Berusting
Só sou jy nie wou leef nie...

Ek staan langs ‘n oop graf,
maar weier om te kyk
hoe jy wegsink in ‘n swart gat.
My oë opwaarts gekeer
terwyl jy stadig, o so stadig
afwaarts sak
dieper dieper dieper
af awer afste

Die horlosie tik
Jare stap aan
Die gemis bly
Die lewe gaan aan...

En as ek saans om 6
die telefoon hoor lui
Dis nou al 19 jaar
verwag ek nog jou stem
“Hallo Sus, hoe gaan dit vandag?”


Theresa Potgieter

Walvisbaai

Groetnis
Theresa


Tuesday, 4 November 2014

Liewe vriende

Alhoewel ek gisteraand goed geslaap het het ek blaasinfeksie. Ek is nou op sterk antibiotika en hoop dat dit gou beter sal wees. Dit voel of 'n trein my getrap het.

Renate het Afrikaans geskryf vandag en sy se dit het darem nie te sleg gegaan nie.

Elfi was die hele middag besig om fleece materiaal onder in haar rothokke te sit  Dit help dat hulle die saagsels nie so rondmors nie en hou hulle lekker warm. Met die materiaal sluit sy die saagsels heeltemal uit.

Ek is nou so moeg ek kan nie my oe oophou nie, dus gaan ek nou maar slaap.

Groetnis
Theresa

Monday, 3 November 2014


Liewe Vriende

Ek het gisternag weer nie 'n oog toegemaak nie.  Ek dink ek het my dag en nag omgeruil of dis die pille wat ek vir die Bi-polar disorder drink/  Ek hoop dat ek vanaand darem sal kan slaap want 2 nagte aanmekaar gaan nie vir my werk nie.

Renate het lekker wiskunde geskryf en more is dit Afrikaanse Leesbegrippe, opsommings,briewe, berigte en artikels.  Ek hoop sy skryf lekker want sy is nie so erg oor die tale nie. Haar juffrou het darem vanoggend vir haar gesê dat haar opstel die beste in die graad was.  Dis 'n groot ligpunt, want as sy more bietjie opmors het sy nog taalleer oor en daarmee is sy goed.

Ek gaan julle nie lank ophou vanaand nie.  Ek heg vir julle foto's van die Christuskirche in Windhoek op.
Dis 'n belewenis om dit te besoek.

Groetnis
Theresa













Sunday, 2 November 2014

Goeienaand liewe Vriende

Vandag het ons letterlik, maar letterlik niks gedoen behalwe geslaap, TV kyk. lees, geëet en op Google rondgespeel nie.Net Renate was produktief want sy skryf more 2 vraestelle Wiskumde.  Dis oor die hele jaar se werk en sy het regtig hard geleer. Nou praat sy met haar Boetie oor die foon oor haar nuwe selfoon wat sy Vrydag gekry het.  Foeitog. sy was so opgewonde daaroor. Maar nou moet sy hom leer werk en dis nie so maklik nie, al lyk dit vir my asof sy al klaar weet wat om te doen.

Ek gaan julle op hierdie vroeë noot groet want ek is doodmoeg (Ek het verlede nag weer niks geslaap nie) en wil sommer nou met n lekker boek in die bed gaan klim. Ek lees op die oomblik James Patterson se 11th hour.  Lekker spannend.

Groete en lekker slaap

Theresa

Saturday, 1 November 2014

Hi

Ek is vandag weer vroeg met my blog, want naweekaande is die internet gewoonlik af.  Seker oor al die mense dan op die internet is.  Naweke hier by ons bly maar 'n probleem.  Op 'n Sondag gebeur dit ook.

Vandag was 'n lekker dag en ek en Elfi het toe by my vriendin, Jeaninie en haar ma gaan kuier.  Ons het tee en lekker appelkoek gekry en vreeslik lekker gesels oor alles en nog wat.  Nie een van ons het die tyd dopgehou nie, en ons het nog 'n slag tee gedrink.  Heelwat later kyk ek op my horlosie en sien dat dit al al amper half 4 is.  Ek dag ek skrik my in 'n ander bloedgroep in.  Ons het al kwart voor elf daar opgedaag en nooit opgelet wat die tyd is nie.  Toe ek aankondig dat die al half vier is kon die ander drie dit ook nie glo nie.  Maar ek besluit toe dis net die regte tyd om te ry.  Hoe sê die Engelse mense: Don't overstay your welcome.  Ons is praat-praat daar uit en het nog 'n hele ruk buite staan en gesels.

Toe ons by die huis kom was Theo natuurlik al lankal terug van die werk af en Renate kliphard aan die leeer met Wiskunde.  Elfi is gou Spar toe om 'n paar goed te gaan kry en troeteldierwinkel toe om vir Kai, Die Macaw, 'n speelding te koop.  Syne is al weer aan flardes en hang op genade aan die hok.

Theo is nou weer uitgeroep hospitaal toe en ek weet nie wanneer hy sal terug wees nie en Renate het weer gaan leer.

Jeaninie het vir my Tom Noakes se boek The real meal Revolution geleen en ek gaan sommer nou daaraan begin lees.  Ek wil ook weet van al die polemiek wat hierdie boek veroorsaak het.

Lekker middag vir julle verder

Groetnis

Theresa