Wednesday 5 November 2014

Hallo liewe vriende

Vandag is vir my 'n hartseerdag.  My enigste sussie het vandag 23 jaar terug op die pad tussenWinburg en Bloemfontien dood.  Dit het kwaai gereen en 'n vragmotor van voor het verby die voertuig voor hom probeer vergaan en Renate het verby probeer verbygaan by die motor voor haar.  Hulle het makaar glad nie gesien nie.  Sy is op slag dood.

Ek onthou nog die oproep van my ma Danielskuil toe om te se ons moet huis toe kom.  Iets verskrikliks het gebeur.  Renate het verondeluk.  Ek vra nog of sy seergekry het. Toe se my ma sy is dood.

Dis die vinnigste wat ek nog gepak het en ons Winburg toe gery het.  Toe ons daar kom was my ouers nie alleen nie, 'n hele paar vriende en 'n dominee met wie my pa goeie vriende was, was daar.  Maar dit het gelyk asof dit nog nie ingesink het nie.  My pa het nog gese hy wonder waar bly sy so lank, want sy het hulle gebel net voor sy begin ry het.

Ons moes al die begrafnisreelings tref en ons het nie geweet wat om als te doen nie.  Gelukkig het AVBOB darem gehelp.

Dit is ook vandag my vriendin se man se doodsdag.  Hy is verlede jaar na'n jaar se lyding aan pankreas kanker dood.  Ek kom nou net terug nadat ek en sy gaan koffie drink het en sy oor die goeie ou dae gesels het.

Jul kan dus besef dat dit vir my nie 'n lekker dag is nie.  Ek wonder so baie keer hoe dit sou wees as sy geleef het en ons saam kon kinders grootmaak, vriendinne wees, of ons kinders oor die weg so kom, ens.  Maar dis water onder die brug.

Ek het vir julle 'n gedig aan wat ek 'n paar jaar gelede al geskryf het vir haar.

In Memoriam
(Renate Vera Bϋscher   
07/06/1962 – 05/12/1994)

Kleintyd as sussies bymekaargesmyt.
Die verskille tussen ons hemelsbreed
en meestal onversoenbaar
                   onaanpasbaar
                   ontoegeeflik
                   onverenigbaar
Ek, die rustige dromer
Jy, die wilde en kwaai go-getter
Deur sonskyndae en onweersdae
is ons kindertyd verseël
ons grootword gedeel,
en het ons tog geleer
om mekaar lief te kry.

Skielik een dag
‘n oproep
‘n tyding van dood!
Voortydig.
Onverwags.
Eensklaps was jy weg.
Nooit was ons van dieselfde bloed,
maar ‘n deel van my hart uitgeruk.

Hoe kon dit waar wees?
Jy was so jonk...
   so mooi...
Ek was verstom
    verslae
              woedend
Ek was die bloubitterbessiebliksem in vir jou!
Hoe kon jy dit aan my doen?

Hartseer
Trane
‘n Vlekvrye staalbed
Doodsbleek
onder ‘n wit laken lê jy.
Jou liggaam geskend
Onherkenbaar vermink
Arms en bene vergruis
verpulp tot ‘n niksseggende massa.



Ek moes jou uitken.
Ek het na jou gesoek,
maar kon jou nêrens kry
in daardie liggaam
onder die laken nie.
Aanvaarding
Berusting
Só sou jy nie wou leef nie...

Ek staan langs ‘n oop graf,
maar weier om te kyk
hoe jy wegsink in ‘n swart gat.
My oë opwaarts gekeer
terwyl jy stadig, o so stadig
afwaarts sak
dieper dieper dieper
af awer afste

Die horlosie tik
Jare stap aan
Die gemis bly
Die lewe gaan aan...

En as ek saans om 6
die telefoon hoor lui
Dis nou al 19 jaar
verwag ek nog jou stem
“Hallo Sus, hoe gaan dit vandag?”


Theresa Potgieter

Walvisbaai

Groetnis
Theresa


No comments:

Post a Comment