Friday 28 November 2014

Hallo Almal

En toe was dit stemdag en die mense het gaan stem.  By die munisipaliteit alleen was die tou meer as 'n kilometer lank.  Ek het foto's daarvan geneem wat ek more of so sal opsit.  Ons het gelukkig nie nodig gehad om te gaan stem nie, want ons is net op 'n werkspermit in die land en net gebore Namibiers kan stem.  Maar die dorp was vir 'n slag stil - doodstil.  Dit was soos 'n spookdorp met geen winkels oop nie.

Vanmiddag het ek, Hannelore en Klara Weinachtsmarkt, Duitse Kersmark, toe gegaan. Daar is allerhande stalletjies wat verskillende goed verkoop en mens kry nogal oulike kersgeskenke daar te koop.  Ek het al my vriende se Kersgeskenke vanmiddag gekoop.  Verder is daar lekker Duitse kos. soos Bratwurst en Aartappelslaai te koop en ons het lekker geeet ook.  Ek het tot vir Theo hulle gebel om vir hulle te kom haal, dan hoef ons nie vanaand te sukkel met kos nie.  Ons het ons ou vriende wat van Pretoria teruggekom het ook daar ontmoet en ons het ure om 'n tafel, saam met ander ou vriende, gekuier terwyl ons geeet en gedrink het.  Dit was baie lekker. Ons het baie langer gebly as wat ons wou en is later huis toe.  Toe ons gaan, toe sien ons die ander maak ook aanstaltes om huis toe te gaan.

Ek is vanaand baie moeg.  Dit was 'n uitputtende middag waartydens ek my beste Duits moes uithaal.

Julle moet lekker slaap
Theresa

No comments:

Post a Comment