Wednesday 12 November 2014

Liewe Vriende

Ek het gisternag weer een van my slapelose nagte gehad.  Ek was drie uur nog wakker en het al 7 uur wakker geword.  Ek het dus net 4 ure slaap ingekry.  Ek is dus vandag nie die skerpste potlood in die pakkie nie.  Ek het nog probeer le tot minstens 9 uur, maar ek kon nie weer aan die slaap raak nie.  Ek het toe maar opgestaan.

Net nadat ek gesort het vanoggend, lui my selfoon onverwags.  Dis  toe my vriendin wat koffie wil kom drink.  Hulle is 2 jaar gelede hier weg omdat haar man by 'n nuwe maatskappy gaan werk het in Pretoria, maar hulle het hul huis gehou en ek het hul pos en so aan aangestuur.  Ek het ook die huissleutels gehad, vir ingeval daar 'n inbraak is (hulle breek baie hier in) en die sekuriteitsmense moes ingaan.  Wel, ons het lekker gekuier en sy het vir my 'n klomp boeke gebring om te lees wat sy klaar gelees het en nie meer wil he nie.  Onder andefe  A Thousand Splendid Suns van Khaled Hosseini wat The Kite Runner geskryf het. Hulle is nou terug van Pretoria af en gaan nou weer hier bly.  Ek is so bly.  My Scrabble partner is terug.  On speel een oggend 'n week, gewoonlik Donderdae Scrabble.  Een week by my en die volgende by haar en ons sorg dat dat daar ook iets lekkers te ete is.  Die een wat kom speel is vir die eetgoed verantwoordelik.   En ja,  sy't ook vir my 'n pakkie met die heerlikste lekkerruikgoed soos handeroom, body lotion, ens gebring.  En dis 'n groot pakkie vol.  Ek was so bly

Vanmiddag het ons weer warm gekry.  Die temp was hoog en vol humiditeit en die sand en wind het vir die vale gewaai. Jy sit met die waaier aan, dan sweet jy nog steeds.  Dit was vrekwarm. Mens kon niks buite in die tuin doen nie, en ek twyfel of enige iets wat ek geplant het, dit gaan oorleef of opkom.  Die mica in die sand waai die plante en struike dood.  Ons moet elke dag al die stuike en ook die huis afspuit.  Dis ook nie snaaks om 2 keer 'n week vensters te was nie.  Daai mica vreet alles op.

Ek het toe maar gesit en boek lees terwyl Elfi op haar rekenaar besig was en Renate geleer het.  Nog steeds Biologie want sy skryf eers Vrydag.Die eksamen moet nou klaarkry.  Die arme kind is klaar. En daar is nog 8 dae oor.  Gelukkig het sy darem 'n lang vakansie om na uit te sien en 'n Karate Gradering.  Ek het 'n lekker boek van John Grisham gelees en hom darem vanmiddag  al klaargekry.

Dis al my nuus vir vandag.

Hoop julle het 'n lekker aand verder
Groetnis

Theresa

No comments:

Post a Comment