Tuesday 18 November 2014

Hi Almal

Dit is ' n vrekwarm dag hier by ons.  Dit voel selfs of die lugversorgers in die huis niks help nie.  Ek het tot my tuinman huistoe gestuur oor die hitte nadat hy darem die plante natgemaak het.

Dinsdae is ek mos bediendeloos en dan doen ons nie veel behalwe tee drink en eet nie.  Elfi is juis nou besig om kos vir aandete te maak.  Ek het vanoggend gelees en vanmiddag vir Renate al haar oefeninge gevra en gehelp om ander goed ook tee leer.  Mens kan net vir haar voorlees, dan onthou sy dit.

Vanaand sal ons seker TV kyk en vroeg gaan slaap.  Of liewer ek sal want ek het gisternag weer sleg geslaap.  Nie meer as 4 ure nie.

Ek heg vandag 'n opstel wat Renate vir die vorige eksamen geskryf het aan. Hoop julle geniet dit!

Groetnis
Theresa

Vis of vlees

Bedonnerd
Beneuk
Bemoerd
Altyd vies sonder om te weet vir wie of wat. Ek pas nêrens in nie.

Ek is nog vis nog vlees.  My ma sê as jy nog vis nog vlees is, is jy in jou tienderjare.  Jy pas nie meer by die kinders in nie, maar jy is ook nog nie 'n grootmens nie.  Mens is so tussenin.

My lewe bestaan min of meer in 'n skooltas.
Boeke, handboeke, potlode, penne, liniaal,
wiskundestel.

Ek is vry, maar hoekom voel ek partykeer so ingehok soos 'n voël in 'n traliehok, met nêrens om heen te gaan nie.

Dit is ek? Moeilik. Ongehoorsaam. Foutvinderig.  Soms voel ek nodeloos.  Niks is ooit na my sin nie. Niks wat ek doen of sê is ook ooit na iemand anders  se sin nie.




Ek is 'n tiener.  Verlore in hierdie wêreld vol rede en reëls.

Ek wil uit die boks lewe.  Nie toegekram in 'n klein vierkantige boksie nie.

Ek is die reën, die donderslag, die blits.  Ek is 'n spoelsteen in 'n groot maalstroom van kind- en tienerwees,  Glad geskaaf en gevorm  en steeds weet ek nie wie of wat ek regtig is nie.

Ek is somer.  Ek is lente.  Meestal huppel die dag met 'n groot rooi glimlag oor my siel, en spring met rooi tekkies reg dwarsoor die maan.  Ek is winter en herfs, droë, oranje populierblare wasgewaai teen die ogiesdraadheiding.
Ek het 'n i-Pod, 'n Playstation, 'n Wii en 'n selfoon.  Ek Mix-it, sms, Facebook en Whatsapp. Ek het pëlle.

Ek is 'n lappieskombers, 'n hutspot, 'n kaleidoskoop van kleur.
Groenpers droefnis en vlamgeel blydskap wat baklei teen mekaar.

El is 'n gevangene. Grootmens vasgevang in 'n kind se liggaam. Ek is 'n eiland omring met mense.

Ek is Renate.
Ek is sestien jaar oud.
Ek is in graad 10.
Ek is mens. 
Ek is alles en niks.
Ek is ek.

Woorde  315


No comments:

Post a Comment