Friday, 12 August 2016

Liewe julle

Ek weet nie van julle nie, maar ek geniet dit so om na die Atletiek by die Olympics te kyk, dat al my ander werk agterwee laat.   Ek was veral beindruk met die Ethiopiese meisie wat die 10 000meter gewen het.  Die 2de slag wat sy daardie afstand hardloop en daar wen sy die goue medalje en verbeter die wereldrekord.  Dit wil gedoen wees.

Ons het 'n besige naweek wat voorle.  More ontmoet ons Theo se broer en gesin in Swakop om bietjie te kuier.  Hoop net die weer is lekker en nie vol wind en stof nie.  Ons sal seker die aand gaan eet iewers.

Sondagoggend ry ek en Renate met kennisse van ons Windhoek toe vir 'n funksie waar die wenners van 'n Science Olimpiad bekend gemaak gaan word.  Net die top 10 is uitgenooi vanuit die hele land. Ons moet al Sondagaand daar wees, maar die funksie vind eers Maandagaand plaas.  Dinsdagoggend draai ons weer terug huis toe, sodat die 2 kinders hulle laaste vak, Engels, kan skryf Woensdag.
Die skool sluit ook Woensdag en die rapporte kan Vrydagoggend afgehaal word by die skool.

Ons is redelik haastig om die rapport te kry, want die Universiteite waar sy aansoek gedoen het, soek die Junie-eksamen punte.  Ons het hulle al hoeveel keer laat weet dat ons termyne het en nie kwartale nie, en dat ons kinders nie 'n Julie-eksamenpunt het nie.  En kort-kort kom daar 'n e-pos aan wat dit vra.  Oor en oor van dieselfde universiteite af.  Maar elke keer wat ek bel, kry ek iemand andeers om mee te praat en dié weet natuurlik nie waarvan ek praat nie.  Party van die telefoonnommers lui en lui net sonder dat iemand dit antwoord.  Hoekom gee hulle telefoonnommers as kontaknommers uit, as hulle weet daar is niemand wat daardie foon gaan antwoord nie.  Ek is al skoon geirriteerd.

Ek groet nou maar weer
Tot volgende keer
Theresa
theresa@afol.com.na

Thursday, 11 August 2016

Liewe Lesers

En daar begin die Olimpiese spele met 'n openingseremonie wat ver agter die voriges staan.  Ek weet nie of dit net ek is nie, maar die Opening was afgewater en ek het my dood verveel.  En toe ons amper by Namibie kom, besluit die dekodeerder om te reset.  Woerts en als was weg.  

Renate het vandag Science geskryf en doen more die prakties.  Dan is daar net nog Engels oor volgende Woensdag, en dan 'n kort vakansie, voor die eindeksamen begin.  Ek het egter 'n idee dat Renate deur die vakansietjie gaan leer.

Die Matriekafskeid is die 2de September en die rok begin vorm kry.  Ons gaan more vir die 4de keer pas.  Die snit en kleur pas haar baie goed.

Theo se broer en vrou en 1 dogter is op die oomblik in Swakopmund.  Ons sal hul seker Saterdag sien.  Sondagoggend vertrek ek en Renate Windhoek toe.  Sy moet 'n prysuitdelingsfunksie bywoon vir die Accounting olimpiade (ek dink dis wat dit is) waar sy een van die finaliste is.  Ons moet Sondag al daar wees, al is die funksie eers Maandagaand.  Hulle is 2 kinders van ons skool wat in die die top is, en hulle moet self teenwoordig wees.  Ek en die ander meisie se ma het besluit om saam te ry. En sy ken Windhoek beter as ek.  Sal tien teen een verdwaal en nie weet waar om heen te gaan nie. Ons ry dan Dinsdagoggend weer terug.

Die weer by is so tussen koud en warm.  Baie bewolk, maar niks reenwolke nie.

Lekker dag vir julle almal verder

Totsiens
Theresa 

Saturday, 30 July 2016

Hallo liewe Lesers

Ons het die laaste paar dae baie koud gekry.  Vanoggend was dit vriesend koud, maar nou al bietjie warmer.  Renate het hokkie gespeel vanoggend teen Windhoek Gimnasium.  Hulle het 1-4 verloor. Daarna het ons en vriende na 'n nuwe koffieplek gegaan en iets geeet.  Die plekkie is baie oulik en behoort aan 'n vriendin van my.  Hulle kos was uit die boonste rakke.  Ons sal defnitief weer soontoe gaan.

Die grootste drywende biblioteek is in ons hawe al vir 2 weke, die LOGOS HOPE  Woensdagmiddag het ek en Renate besluit om self te gaan kyk, want almal vertel hoe groot en goedkoop die boeke daar is.  Ons moes omtrent 'n kilometer ver parkeer en stap tot by die boot.  Maar dit was die moeite werd.  Ek het nog nooit so 'n groot boekwinkel gesien nie en met derduisende boeke.  Die boeke word in units geprys en 30 units is N$100-00.  Boeke wat gewoonlik om en by die 500 rand kos, koop jy vir 150N$.  Daar is ook baie spesiale aanbiedinge.  Ek en Renate is met 2 groot sakke daar uit.  As die LOGOS HOPE iewers in 'n hawe naby julle te lande kom, gaan maak defnitief daar 'n draai.  Dis is asemberowend!!

Renate het griep en moet leer, want dis al die 2de week van haar eksamen.  Sy sê haar kop voel soos 'n sif.  Maandag skryf sy Afr Opstelle en Dinsdag en ek dink Woensdag ook, Wiskunde.  Die res van haar rooster weet ek nog nie, maar die Afr 1ste vraestel en mondeling en die Biologie 2 vraestelle is darem al verby.

Tussendeur is dit Matriekafskeid reelings.  Skoene soek is nou op ons prioriteitslys.  Die rok is darem al aan die gang en sy moet more vir die tweede keer gaan pas.  Die haar, naels en grimering afsprake is al gemaak.  Ons moet net iewers 'n proeflopie inpas vir die hare en grimering.

Ek gaan nou soos 'n dassie in die son sit en bak en na Luciano Pavarotti luister.  Ek groet julle dus vir eers.

Lekker dag
Theresa

Sunday, 24 July 2016

Hallo Almal

Ek het die laaste ruk regtig my blog verwaarloos.  Toe ek nou wil ingaan op die blad kom ek agter ek het my wagwoord vergeet.  Ek weet ek het dit iewers neergeskryf, maar kan nie onthou waar nie.  Ek moes toe deur 'n hele proses gaan om 'n nuwe wagwoord te registreer.  Ek Het nogal gesukkel, maar toe vra ek vir Elfi om my te help.  Binne 3 minute was ek terug op die lug.  Die jongklomp is darem baie handiger met hierdie elektronies goed as wat ons is.

Die jaar stap met vaste tred aan, en hier by ons in Namibia is dit amper die einde van die 2de trimester.  Die eksamen begin more en Renate is al weke besig met die voorbereiding.  Tussendeur is dit universiteits- en beursaansoeke en stawende bewyse vir haar prestasies wat gefotostateer en gewaarmerk moet word.  Sy wil graag volgende jaar gaan medies swot.  Die keuring is baie streng en sy doen nou aansoek by elke Universiteit wat medies aanbied.  Wits en Uni van Kaapstad, het klaar laat weet hulle keur net studente van kleur.  Sy is al as student op Maties aanvaar, maar die keuring vir medies vind eers later plaas.  Dan is daar nog Bloemfontein, Pretoria en UNAM (Universiteit van Namibie)  Hou asb tog maar duim vas dat sy wel gekeur gaan word

Voor verlede week het die skool 'n toneelstuk opgevoer.  Renate het die hoofrol vertolk en sy het ons almal stom en in trane gelaat met haar toneelspel.  Sy het haar rol baie oortuigend gespeel.  Die rol was dié van 'n Matriekmeisie wat al vandat sy klein was, kanker het.  Sy was in remissie en die toneelstuk begin waar sy uitvind dat sy weer kanker het.  Sy beplan met haar vriende 'n roadtrip, terwyl sy nog sterk genoeg is. Eers wil sy nie voortgaan met haar behandeling nie, maar sy kry nuwe insig in die lewe op die roadtrip en besluit om voort te gaan met behandeling.  Dis 'n baie "sad" storie, en sy het haar rol baie oortuigend gespeel.

Dieselfde week was die 8ste JSKA Karate Wereldkampioenskappe in Swakopmund.  Dit was van Maandag tot Saterdagaand.  Renate het in die Kata en Freefighting deelgeneem en 2 vierde plekke gekry.  Sy het ook 'n skeidsregter kursus voltooi.  Namibie het die meeste goue medaljes (49) gewen en oor die algeheel die meese medaljes (92) gewen,  Suid-Afrika was 2de  en Skotland.  Ander lande wat deelgeneem het was onder andere Duitsland, Switserland. Brittanje.  Moet se, ons was almal moeg na so 'n besige week.  Bedags die karate en saans die opvoering van die toneel.

Theo is al die hele naweek in en uit hospitaal toe.  Meeste mense het griep.  Ek hoop nie hy steek aan nie.  Mens sukkel om van die gogga ontslae te raak.  Ek was 2 weke lank regtig siek.

Ek gaan vir eers totsiens sê..
Tot ons weer ontmoet
Theresa

Monday, 6 June 2016

Liewe Lesers

Ek was baie lank terug op die blog.  Ek vra om verskoning daarvoor. Hierdie jaar is besig om met ons weg te vlieg.

Dis Renate se laaste skooljaar en  daar is so baie goed wat gedoen moet word.  Die Matriekafskeidrok se kleur en snit is uitgesorteer en die lap is gekoop  En was dit n stryd om die regte kleur te  kry  Nou net die skoene  en die hare. Ek dink sy gaan baie mooi lyk.

Hìerdie naweek wat Donderdag al begin het met 2 skoolbusse vol op pad Keetmanshoop toe vir die jaarlikse Privaatskole Sportnaweek.  Renate speel hokkie en het huĺle 4 wedstryde gewen en 2 gelykop gespeel.  Vanaand sal hul terug by die huis wees, en more is dit weer skool.  Renate spring weg met n Afrikaanse Olimpiade more.

Theo en Elfi is besig om hokke vir hulle pappegaaie te bou  . Hulle het n hele paar broeipare gekry.  Hulle wil met die voels teel.

Theo jnr het einde Maart verhuis na Turkye.  Hy gee klas by n instituut vir tale in Instanboel.  Engels en Spaans.  Hy geniet dit baie, met Wattsapp kan mens hom elke dag kontak sonder dat dit baie kos. Hy kry gratis verblyf, vervoer, hy kan dus lekker

Ek gaan nou afsluit.  Hoop julle het n lekker week.

Groetnis

Theresa Potgieter

Sunday, 20 March 2016

Liewe Vriende

Ons het gister Swakopmund toe gery vir die Coca Cola Privaatskole Atletiekbyeenkoms.  Renate het aan die spiesgooi dogters o/19 deelgeneem en haar afstand was ver genoeg om vir die Namibiese Atletiekkampioenskappe te kwalifiseer.  Sy en ons is vreeslik trots dat sy so goed gedoen het.  Sy het 'n paar jaar terug opgehou met spiesgooi toe die atletiek te veel tyd van haar Karate-oefeninge gevat het.  By die interhuis hierdie jaar egter byeenkomshierdie jaar egter, gooi sy toe per ongeluk 'n afstand wat haar in die streekspan kry.  

Ons het al van Vrydag af 'n langnaweek.  Maandag is dit by ons Indepedence day (afhanklikheidsdag) soos hulle dit hier noem en dus het ons 'n ekstra vakansiedag.  Volgende naweek is Paasnaweek en  die drie dae tussenin het ons skool se kinders 'n midterm break tot na Paasmaandag.  Renate is baie bly oor die afdae, want nou kan sy al haar werk inhaal, Theo is ook bly oor die paar dae, dan kry hy kans om sy batterye weer te laai.

Basil, ons rescue Maccaw is nou darem oor al haar vrese.  Sy het vir Elfi aangeneem en verdra ons darem al naby haar.  Vandat sy reg eet,het sy ook gegroei en is nou 'n mooi groot voel.  Sy praat 'n hond uit 'n bos uit en so leer ons nuwe baba African Gray en Rooi Maccaw baie woorde by haar.

Theo het vir hom 'n wit Maltese poedel gekoop.  Hy is versot op haar.  Toe ons haar gekry het, kon sy skaars eet en toe het hy met puppy milk wat ons by die veearts gekry het, met 'n bottel gevoer 4 na 5 keer per dag.  Die hondjie se naam is Billa.

Ek self het verlede naweek op 'n kat haarbal gegly en my regter knie bitterlik seer gemaak.  Dit vat glo weke om beter te word, intussen klop die pyn deur my hele been.  Ek bid maar dat die pyn gou draaglik word.

Ek wens julle 'n lekker naweek toe en vir die wat vir die Paasnaweek wegglip, voorspoedige reis.

Groete
Theresa


Monday, 14 March 2016

Hallo Almal

Ek was lank afwesig van my blog, maar ek sal  nou probeer om meer kere iets te kom neerpen hier.

Desember was, seker soos julle s'n, ook bedrywig.  Die dorp was so besig dat mens jou inkopies al voor die 16de moes doen as jy sane wou bly.  Hordes mense wat jou vasdryk en vorentoe druk, is nie een van my gunsteling bedrywighede nie.  Ek was hierdie jaar die early bird en was vroeg in Des klaar gekoop wat nodig is. Geskenkies ook.  Ons koop elkeen net een geskenk vir die persoon wie se naam jy uit die hoed getrek het .
My ver Kaapkinders, Inge en  Theo, kon ook net vir 'n week kom.  Jinne, ek verlang so baie. Hierdie jaar gaan ek def Kaap toe vir 'n behoorlike kuier.

Toe die skole weer heropen het, was dinge al weer rustig, net reg vir die dolle gejaag van 'n onder hoofdogter se ma.  Daar moes kaartjies gemaak word vir elke onderwyser, vir die wat verjaar en klomp ander goed en die al ewige boeke oortrek.  Jippie dis my laaste jaar. Moet darem se Renate het self baie van haat boeke oorgetrek.

Renate het by die Kleure atletiek 2de gekom met die spiesgooi en so gekwalifiseer vir die Nationals.   Hierdie naweek wat kom neem sy deel aan die Coca Cola Uitnodigings byeenkoms in Swakopmund.  Die Nationals is ook in Swakop die jaar.  'n eerste, groot byeenkomste word gewoonlik in Windhoek gehou, maar daar is blykbaar restourasie wat gedoen moet werk.

Verder gaan dit maar soos dit gaan as jy 'n kind op skool het.  Rondry, gaan haal, wag, ens.  Maar ek doen dit met graagte.  Renate werk so verskriklik baie en haar akademie is ook tops.  Ons is baie trits op haar.

Intesen het ons drie nuwe diere gekry,  Basil, 'n blou en goud Maccaw, 'n African Gray en 'n Malteserhondtjie.  Hulle is baie woelig en hou ons heeltyd aan die gang.

Ekgroet eers vir vandag
Groete
Theresa