Sunday, 14 September 2014



EK ONTHOU…
(vir my Ma)

Onthou jy hoe ons,
eens lank, lank  geleë,
gekyk het na 
die reënbogies 
op ‘n nat krap  se rug
en dié op die vlerkies van ‘n  vlieg,  
die waterman se trane aan die kraan,
die diepste gaatjies en skeure
waar die skaduwees bedags
wegkruipertjie speel,
die piep-piep kleinste blommetjies langs die pad;   
gewonder het hoe hy dit regkry om só klein te wees
en dit tog reg te kry om te oorleef.

Onthou jy hoe ons
saam met die son en die maan gedans het
om  skielik stil te staan uit verwondering
vir ons eie uitbundigheid;
geluister het hoe die wind met die blare gesels
en tussenin die gekoer van ‘n duif,
sagte murmerklanke wat ons verbeeldings
op ver paaie laat loop het;
wierrook gebrand het tot ons koppe seer was van die reuk
en ons laggend buitentoe moes vlug vir vars lug.
Alles ‘n groot psalm en
alles knetterend van die lewe.

Ek onthou…
hoe die blink van kindwees
op Paasfees en Kersfees ook
in jou oë sy lê kom kry het;
hoe ons saans op die stoep gekyk het
hoe die maan skewebek trek vir die sterre;
die matjie voor die kaggel
waar ek aan jou knie gesit het,
terwyl  jy jou eenvoudige lewensfilosofieë
oor my uitgegiet het…

Soos sonstrale wat tussen
die donker blare van ‘n boom deurbreek,
só onthou ek die mooi van my jeug.
Dit wás mooi,
maar  dit het tog verbygegaan.
Nou is alles net ‘n herinnering,
‘n rigsnoer vir die toekoms
in die dae wat nog soos wind oor die horison gaan kom, en
vir die aande wat ‘n maan en sterre sal hê
wat lyk soos sproetjies van die nag….


Saturday, 13 September 2014

Liewe Vriende

Vandag is ek darem voos rugby gekyk.  Eers die Springbokke wat teen die Kiwi's verloor en vandmiddag die Wp teen die Lions. My moed is skoon in my voete.

Theo is hierdie naweek aan diens by die hospitaal en het ons 3 ander nie veel gedoen nie.  Hy was amper die hele dag daar en net vir kort rukkies by die huis, voor hulle hom weer uitroep.Soms wonder ek of als die moeite werd is.  Gedurende die week werk hy hom vodde en dan word hy nog in die nagte minstens 1 keer uitgeroep.  Oor naweke roteer hulle darem en is hy net so elke 4de of 5de naweek aan diens, maar is dan so moeg dat hy nie lus het om iets te doen nie.  Al wat hy doen is werk en slaap.

Elfie is besig om haar spinnekoppe te versorg en visse kos te gee en Renate is met een of ander Science projek besig.

Ek het nie nog nuus nie, dus sluit ek maar af met 'n gediggie van Ita Froneman:



Dream catcher

catch me a dream
before it slips like water through my grasp
whisper clear thoughts in my ear
oh wind of the sea
before it sighs
sinking empty to bottomless heart
oh catch me a dream
where mountain wolf soars
hear the call of his soul
touching my spirit
to waken my muse
oh catch me this dream
place of open spaces
where sea softly sighs
and fill my heart
with dreams caught
© Ita

Groetnis
Theresa

Friday, 12 September 2014

Liewe vriende

On het weer vanoggend die Oscar-sage gekyk.  Ek is darem bly hy is op die vuurwapen skuldig bevind.  Ek wonder wat sy vonnis gaan wees, nou moet ons wag tot 13 Oktober.  Dit was vir my verstommend dat sy borgtyd verleng is,want ek het nie gedink die regter gaan dit toestaan nie. Volgens my het hy goeie rede om te vlug, want hy gaan def tronkstraf kry.  Ek dink nie regtig hy gaan 'n opgeskorte vonnis kry nie.

Ek het ook vanoggend probeer om by my vriendin te gaan kuier, maar plaas ek bel eers.  Toe kom wk voor dooiemansdeur te staan.  Ek was nogal vies vir myself.

Na middagete het ek en die kinders die fliek The Fine Step op kanaal 103 gekyk.  Dit was 'n lang maar pragtige fliek oor perde.  Ons het dit vreeslik geniet. Soos my skoonma altyd sê 'n mooi skoon fliek.

Verder het ek nie regtig nuus nie, dus plaas ek weer vir julle 'n gedig:



'n Ma

' n Ma sal haar hart vashou
oor wat net'n entjie verder
buite die seepbel wêreldjie lê en wag
en al die lag, huil en leef daaraan verbonde

Maar sy sal haar ook verwonder
aan die volronde geluk van die oomblik
en besluit om dit versigtiggies tussen
die watte van haar hart weg te pak

...iets wat haar soos 'n klokkie
se gerinkel aan 'n stukkie towertyd  kan herinner
toe dit gevoel het jy raak
aan die ewigheid self.
 
©Theresa Potgieter
Walvisbaai
 23/7/2014

Groetnis
Theresa

Thursday, 11 September 2014

Liewe Vriende

Vandag het ek nie veel nuus nie.  Ons het heeldag na die Oscar-sage gekyk. Wonder of regter Masipa more haar uitspraak sal lewer, maar op hierdie stadium lyk dit vir my of hy Strafbare Manslag gaan kry of dalk'n vry man uitloop.  Wie sal weet

Dit was vanoggend koelerig, maar soos die dag gevorder het, het dit warmer geword.  Dit was eintlik
'n heel lekker  dag.

Renate hulle het vandag 'n nuwe voorgeskrewe boek gekry:  To kill a Mockingbird deur Lee Harper.
Dis vir my vreeslik want dit was in my tweede jaar op universiteit ons voorgeskrewe boek en nogal 'n moeilik een wat baie karaktersketse bevat.  Ek sal haar maar moet help deursukkel deur die boek.  Gelukkig het ek nie so lank gelede weer die boek gelees nie, anders was ek nou clueless.

Ek heg vandag 'n skets aan wat Renate in die eksamen geskryf het en 27/30 daaarvoor gekry het:



Vis of vlees

Bedonnerd
Beneuk
Bemoerd
Altyd vies sonder om te weet vir wie of wat. Ek pas nêrens in nie.

Ek is nog vis nog vlees.  My ma sê as jy nog vis nog vlees is, is jy in jou tienderjare.  Jy pas nie meer by die kinders in nie, maar jy is ook nog nie 'n grootmens nie.  Mens is so tussenin.

My lewe bestaan min of meer in 'n skooltas.
Boeke, handboeke, potlode, penne, liniaal,
wiskundestel.

Ek is vry, maar hoekom voel ek partykeer so ingehok soos 'n voël in 'n traliehok, met nêrens om heen te gaan nie.

Dit is ek? Moeilik. Ongehoorsaam. Foutvinderig.  Soms voel ek nodeloos.  Niks is ooit na my sin nie. Niks wat ek doen of sê is ook ooit na iemand anders  se sin nie.

  
Ek is 'n tiener.  Verlore in hierdie wêreld vol rede en reëls.

Ek wil uit die boks lewe.  Nie toegekram in 'n klein vierkantige boksie nie.

Ek is die reën, die donderslag, die blits.  Ek is 'n spoelsteen in 'n groot maalstroom van kind- en tienerwees,  Glad geskaaf en gevorm  en steeds weet ek nie wie of wat ek regtig is nie.

Ek is somer.  Ek is lente.  Meestal huppel die dag met 'n groot rooi glimlag oor my siel, en spring met rooi tekkies reg dwarsoor die maan.  Ek is winter en herfs, droë, oranje populierblare wasgewaai teen die ogiesdraadheiding.
Ek het 'n i-Pod, 'n Playstation, 'n Wii en 'n selfoon.  Ek Mix-it, sms, Facebook en Whatsapp. Ek het pëlle.

Ek is 'n lappieskombers, 'n hutspot, 'n kaleidoskoop van kleur.
Groenpers droefnis en vlamgeel blydskap wat baklei teen mekaar.

Ek is 'n gevangene. Grootmens vasgevang in 'n kind se liggaam. Ek is 'n eiland omring met mense.

Ek is Renate.
Ek is sestien jaar oud.
Ek is in graad 10.
Ek is mens. 
Ek is alles en niks.
Ek is ek.

Woorde  315

Groetnis tot more
Theresa

Wednesday, 10 September 2014

Liewe Vriende

Dit was 'n mistige more wat in 'n lieflike dag ontaard het.  Die son skyn, die wind waai nie,  dus waai die sand nie en dis lekker warm.  Mens het lus om soos 'n akkedis op 'n klip in die sonnetjie te gaan lê.

My vriendin. Hannelore, het my gisteraand gevra om vanoggend saam met haar Swakopmund toe te ry.  Sy moes oogarts toe en toe ons daar kom, doen die man sommer die prosedure in sy spreekkamer.  Sy het in 2010 'n lensoorplanting gehad en nou het daar vog opgebou sodat dit so waterig lyk.  Met die laser was dit 10 minute was sy uit.  Al wat anders was is haar pupil vreeslik vergroot is.  Sy moet nou 'n paar dae 'n donkerbril dra as sy uitgaan in die skerp son en dit behoort binne 2 dae weer reg te wees.

Daarna het ons gaan ontbyt eet by 'n kwekery.  Ons het mense daar ontmoet wat ons ken en na 'n rukkie het hulle geloop, toe kry ons 'n briefie wat sê ons moet ons ete geniet, hulle het klaar daarvoor betaal.  Hoe vriendelik tog. Ons het lank in die kwekery rondgedwaal en na die mooi plante gekyk wat nie die wind hier in Walvis sal oorleef nie.  En ek wil tog so graag 'n mooi tuin hê, maar hier is dit ons nie beskore nie.  Net as jou goed mooi begin groei, waai die ooswind alles stukkend.  Dit help om 'n muur om jou erf te hê, maar stukkend waai hy hulle.

Daarna het  ons 'n vriendin van haar gaan opsoek en lekker gekuier, sommer by haar winkel. Toe het ons gaan kyk watter flieks wys, ons was lus vir fliek, maar alles het toe al reeds begin wys.  Toe sien ons die Spook vanUniondale wys die naweek, nou gaan ons def probeer om te gaan. 

Dit was toe al laterig, half 4, toe besluit ons maar om huis toe te kom.  Die pad was sleg besig met omtrent 30 lorries.  Die pad tussen Walvis en Swakop word nie verniet die pad van die dood genoem nie,

Ek was so 4 uur by die huis.  Elfi het geslaap en Renate is besig om haar huiswerk te doen.  Gelukkig het sy vandag geen buitemuurse aktiwiteite aan die gang nie.  Ons beplan 'n rustige aand van TV kyk en niks doen nie.

Ek gaan vandag die foto's van Renate-hulle se team kata by die Wêreldkampioenskappe opsit.  Elke  beweging van die 3 kareteka wat optree moet absoluut gelyk wees.  Renate is die een links agter.





















 Hulle het omtrent net 15 min geoefen en toe 'n silwer medalje gewen, wat ek nogal dink is goed aangesien daar oor die 30 lande was wat deelgeneem het.

Julle moet mooi bly tot more
Groetnis
Theresa


Tuesday, 9 September 2014

Naand Almal

Dit was vandag koud hier al het die son geskyn.  'n Geniepsige windjie het heeldag gewaai.
Hoop dit gaan goed by julle en dat julle 'n lekker dag gehad het.

Vandag het ek nie veel om te vertel nie.  Vanoggend was ek lank op FB en het gedigte gepos en ook 'n paar  geskryf.  Vanmiddag het Renate 'n hokkiewedstyd aangehad wat ek gaan kyk het.  Dit was 'n wedstryd tussen die res van die skool en die matrieks.  Almal wat nie hokkie kan speel nie word ook nader getrek om te speel en van reels nakom is daar nie veel sprake van nie. Eintlik was dit 'n onooglike wedstryd en baie deurmekaar, want die kinders het met gewone klere gespeel en jy kon nie uitmaak by watter span elkeen nou eintlik behoort nie.  Maar vir die kinders was dit groot pret.  Die res van die skool het 1-0 gewen tot die matrieks se verleentheid.

Aan die einde van Mei en begin Junie het Renate die geleentheid gehad om saam met Shotokan Karate se Nasionale span Duitsland en Italie, te besoek.  Sy het 2 silwer medaljes verower by die team kata en fighting.  Namibie het algeheel 2de gekom na Italie wat die toernooi aangebied het.  Ons is baie trots op haar. Daar le nou nog 2 kompetisies vir haar oor hierdie semester, een is 'n internasionale wedstryd teen SA en die ander een is NAKU waar al die soorte style karate teen mekaar deelneem.

Ek sit 'n paar foto's op van haar individuele fight op,  Sy is die een met die bruin belt en ek groet sommer daarmee

Krediet vir Konrad Knouds vir die foto's
Mooi dag vir julle more
 Terni, Italie















Monday, 8 September 2014

Hallo julle

Vanoggend was 'nn deurmekaar oggend hier in die Potgieter-huis.  Die tyd het mos aangeskuif terug na SA tyd, maar ongelukkig skuif mens se innerlike horlosies nie aan nie.  Almal was baie vroeg al gecollar en getie en nêrens om heen te gaan nie.  En ek was so vaak, daai ekstra uurtjie se slaap sou die verskil gemaak het.  My rug was vanoggend effens beter, so dat ek darem redelik maklik kon beweeg, maar ek het op die ou end maar pille gedrink, want die pyn is 'n knaende pyn.  Dit hou nie op nie,

Vanoggend het ek Renate se foto's vir haar klaar geprint en halfpad of die bord geplak.  Toe sy van die skool af kom, het die onderwyseres besluit dat die foto's nie uitgestal sal werk nie,maar net oor die monitor gewys sal word, want die uitstalruimte in die saal is te min.  Ek was nie baie gelukkig nie,hulle kon vroeer laat weet het, dan was al die moeite nie verniet nie.  En dit kos tyd om alles mooi te plak en te merk waar elke foto moet kom, sodat hulle mooi inpas op die bord.  Gelukkig het ek dit met Prestik geplak, sodat mens die bord weer vir iets anders kan gebruik, al is dit nou nie vir die foto's nie.  Die bord kom al so lank saam met ons.  Dit was die Science Fair bord en allerhande uitstallings s'n.  Ek het eintlik my geld goed bestee om daardie bord destyds te laat maak.

Renate het weer vreeslik vrolik van die skool af gekom en het aanmekaar gepraat vir 2 ure lank oor alles en nog wat - sy wil gym om haar kuite mooi te kry vir  die matriekafskeid (dis eers oor 2 jaar), ook oor hoe haar rok en date vir die matriekafskeid moet lyk, van hoeveel huiswerk daar is en honderde staaltjies oor die onderwysers.

Ek self was die heeldag besig om foto's te sny en in te pas op 'n bord.  Daar was vanoggend werklik net genoeg tyd om dit klaar te kry.  Elfi moes die kuideniersware gaan koop, want ek was bang ek kry nie klaar nie.  En dit alles verniet.  Op 'n stadium moes Elfi ook inspring en help.

Hoop julle het more 'n lekker dag vol seen en emmers vol lag en vreugde

Groetnis
Theresa