Thursday 11 September 2014

Liewe Vriende

Vandag het ek nie veel nuus nie.  Ons het heeldag na die Oscar-sage gekyk. Wonder of regter Masipa more haar uitspraak sal lewer, maar op hierdie stadium lyk dit vir my of hy Strafbare Manslag gaan kry of dalk'n vry man uitloop.  Wie sal weet

Dit was vanoggend koelerig, maar soos die dag gevorder het, het dit warmer geword.  Dit was eintlik
'n heel lekker  dag.

Renate hulle het vandag 'n nuwe voorgeskrewe boek gekry:  To kill a Mockingbird deur Lee Harper.
Dis vir my vreeslik want dit was in my tweede jaar op universiteit ons voorgeskrewe boek en nogal 'n moeilik een wat baie karaktersketse bevat.  Ek sal haar maar moet help deursukkel deur die boek.  Gelukkig het ek nie so lank gelede weer die boek gelees nie, anders was ek nou clueless.

Ek heg vandag 'n skets aan wat Renate in die eksamen geskryf het en 27/30 daaarvoor gekry het:



Vis of vlees

Bedonnerd
Beneuk
Bemoerd
Altyd vies sonder om te weet vir wie of wat. Ek pas nêrens in nie.

Ek is nog vis nog vlees.  My ma sê as jy nog vis nog vlees is, is jy in jou tienderjare.  Jy pas nie meer by die kinders in nie, maar jy is ook nog nie 'n grootmens nie.  Mens is so tussenin.

My lewe bestaan min of meer in 'n skooltas.
Boeke, handboeke, potlode, penne, liniaal,
wiskundestel.

Ek is vry, maar hoekom voel ek partykeer so ingehok soos 'n voël in 'n traliehok, met nêrens om heen te gaan nie.

Dit is ek? Moeilik. Ongehoorsaam. Foutvinderig.  Soms voel ek nodeloos.  Niks is ooit na my sin nie. Niks wat ek doen of sê is ook ooit na iemand anders  se sin nie.

  
Ek is 'n tiener.  Verlore in hierdie wêreld vol rede en reëls.

Ek wil uit die boks lewe.  Nie toegekram in 'n klein vierkantige boksie nie.

Ek is die reën, die donderslag, die blits.  Ek is 'n spoelsteen in 'n groot maalstroom van kind- en tienerwees,  Glad geskaaf en gevorm  en steeds weet ek nie wie of wat ek regtig is nie.

Ek is somer.  Ek is lente.  Meestal huppel die dag met 'n groot rooi glimlag oor my siel, en spring met rooi tekkies reg dwarsoor die maan.  Ek is winter en herfs, droë, oranje populierblare wasgewaai teen die ogiesdraadheiding.
Ek het 'n i-Pod, 'n Playstation, 'n Wii en 'n selfoon.  Ek Mix-it, sms, Facebook en Whatsapp. Ek het pëlle.

Ek is 'n lappieskombers, 'n hutspot, 'n kaleidoskoop van kleur.
Groenpers droefnis en vlamgeel blydskap wat baklei teen mekaar.

Ek is 'n gevangene. Grootmens vasgevang in 'n kind se liggaam. Ek is 'n eiland omring met mense.

Ek is Renate.
Ek is sestien jaar oud.
Ek is in graad 10.
Ek is mens. 
Ek is alles en niks.
Ek is ek.

Woorde  315

Groetnis tot more
Theresa

No comments:

Post a Comment