Wednesday 24 September 2014

Hallo Almal

Vandag was weer 'n heerlike sandvrye dag by ons.  Die suidewind het wel gewaai, maar dit pla my nie.

Vanoggend  het ek voortgelees aan my boek Watching your back van Karen Rose.  Dis 'n lekker riller en spanningsverhaal. Maar dit het amper 700 bladsye en ek trek maar by 356.  Ek het dus nog 'n entjie om te lees.  Tussenin lees ek Siener in die Suburbs van PG du Plessis en To kill a mocking bird van Harper Lee.

Vanmiddag was dit die Senior tee by die Lutherse (Duitse) kerk en ek is met 'n vriendin soontoe wat my saamgenooi het.  Dit was nie die eerste keer wat ek by so 'n okkasie was nie.  Ek raak al 'n instelling daar.  Die Duitse Kerk hou elke 2 maande vir hul senior lidmate 'n middagtee en koek en drinkgoed.  Daar is nogal 'n hele klomp en hulle word by ouetehuise en self hulle eie huise opgelaai om die geleentheid by die woon.  Die pastoor het 'n mooi kort preek gehou en daarna het ons gesing.  Een van die dames het ook 3 dramastukkies wat sy self skryf saam met die pastoor opgevoer.  Dit het die mense lekker laat lag. Later toe dit klaar was, het ek en Hannelore gehelp om die koppies te was en weg te pak.  Die stoele en tafels moes ook weer op hul gewone plekke terug.  Ons was pootuit toe ons daar weg is, maar die middag was lekker.  Vir my is dit 'n heerlike kans om my Duits te oefen, want ek wil dit graag weer vlot praat.  Ek het Duits grootgeword en toe met 'n Afrikaanse man getrou.  Nou is my Duits glad nie meer so goed nie.  Ek verstaan en lees dit nog vlot, maar die praat is 'n ander saak.  Ek het iewers gelees as jy 'n taal vir 10 jaar nie praat nie, verleer jy dit.  Of dit waar is, weet ek nie.

Julle moet 'n lekker aand verder hê
Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment