Tuesday 2 September 2014

Goeiemiddag julle

Dis 'n kouerige dag hier by ons.  Dit het tot gemisreën vanmiddag toe ons vir Renate by die skool gaan haal.  Dis maar die eerste dag van skool en die kind het al klaar soveel huiswerk dat dit haar al die hele middag aan die gang hou.

Ek is baie trots.  Sy het vir verlede semester eksamen 1ste op die Top 10 gestaan.  Dis 'n groot prestasie, maar sy het besonder hard daarvoor gewerk.  Nou vir die volgende semester wat voorlê - langer as 3 maande.  Teen daardie tyd is die kinders al flou gewerk en dan begin die eksamen eers.Maar daardie brug sal ons oorkom as ons daar kom.

My skuifdeur se  wieletjies bo en onder was stukkend en die alluminium-mense het vandag eers hier opgedaag om dit reg te maak.  Ek het al moed opgegee dat enige iemand sal kom om dit te kom regmaak.  Hulle het ook die skuifsifdeur hier weg om nuwe gaas oor  hom te gaan trek.  Die katte krap hom elke somer stukkend as mens die skuifdeur ooplos en net die gaasdeur toe hou.  Hulle wil buitentoe, maar ons wil nie hê hulle moet nie, want hier raak die katte weg as hulle te ver van die huis af dwaal.

Ek het vir die kinders 'n Vlakoek bestel by Kokketoor, maar dit het toe vanoggend nie opgedaag nie, maar sal moreoggend daar wees.  Hulle was baie teleurgesteld, want hulle is glo baie lus vir die koek.

Ek plaas vir julle een van gedigte oor die winter wat verby is.




Winter

'n Stofrooison
op die horison    
Kaal takke teen die lug
Blare fladder in die koue
Die note van 'n klavier
maak die koue draagbaar voor die kaggel
waarin 'n vuur brand

Die volgende oggend vind jy insekte fyn
met wind wat deur die bome suis
'n voëltjie wat sing

©Theresa Potgieter
Walvisbaai
25/7/2024


Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment