Monday 22 September 2014

Frankfurt am Mein

Liewe Lesers

Hier was dit 'n stil dag met nie veel om te doen nie.  Ek het bykans die hele dag sit en boeklees.  Dis 'n interessante boek, maar mens moet kophou met al die karakters.  Ek het daarom nie veel om oor te skryf nie, maar plaas 'n gedig wat ek geskryf het.



ONTHOU JY

Onthou jy hoe ons,
eens lank, lank  geleë,
gekyk het na…
die reënbogies 
op ‘n nat krap  se rug
en dié op die vlerkies van ‘n  vlieg,  
die waterman se trane aan die kraan,
die diepste gaatjies en skeure
waar die skaduwees bedags
wegkruipertjie speel,
die piep-piep kleinste blommetjies langs die pad  
en gewonder het hoe hy dit regkry om só klein te wees
en dit tog reg te kry om te oorleef.

Onthou jy hoe ons…
saam met die son en die maan gedans het
om  dan skielik stil te staan uit verwondering
vir ons eie uitbundigheid,
geluister het hoe die wind met die blare gesels
en tussenin die gekoer van ‘n duif,
sagte murmerklanke wat ons verbeeldings
op ver paaie laat loop het,
wierrook gebrand het tot ons koppe seer was van die reuk
en ons laggend buitentoe moes vlug vir vars lug.
Alles ‘n groot psalm en
alles knetterend van die lewe

Ek onthou…
hoe die blink van kindwees
op Paasfees en Kersfees ook
in jou oë sy lê kom kry het;
hoe ons saans op die stoep gekyk het
hoe die maan skewebek trek vir die sterre;
die matjie voor die kaggel
waar ek aan jou knie gesit het,
terwyl  jy jou eenvoudige lewensfilosofieë
oor my uitgegiet het…

Soos sonstrale wat tussen
die donker blare van ‘n boom deurbreek,
só onthou ek die mooi van my jeug.
Dit wás mooi,
maar  dit het tog verbygegaan.
Nou is alles net ‘n herinnering,
‘n rigsnoer vir die toekoms
in die dae wat nog soos wind oor die horison gaan kom, en
vir die aande wat ‘n maan en sterre sal hê
wat lyk soos sproetjies van die nag….

Theresa Potgieter
10-05-2010
Walvisbaai




Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment