Dis 4 uur Maandagoggend en Klaasvakie het vergeet om gisteraand vir my genoeg sand in my oë te gooi sodat ek lekker kon slaap nie en het nou maar besluit op om te staan en iets konstruktiefs te probeer doen. Ek het die skottelgoed gewas en die kombuis netjies gemaak. Dis eintlik heerlik die tyd van die oggend, net so voor die lig deurbreuk en as hy dan deurbreuk is dit soos 'n magiese wonder. Ons wêreld is darem maar 'n ou mooi plek. Ek is net jammer ek het nie die motor gevat en gaan sonsonopkoms foto's oor die duine neem nie. Ek het baie sonsondergangsfoto's oor die lagooon, maar mens het min van die sonsopkoms. Vanaand is dit Blou Maan. As ons dit van hieraf kan sien, neem ek dit definitief af. Hoop net ek kry my settings reg. Dalk pryk daar more 'n foto van die Blou maan op jul skerms. Moet net nie te optimisities wees nie.
Vandag moet Renate weer vir 'n opvolg tandarts toe gaan vir haar draadjies wat afgehaal is. Sy het nou net 'n draad agter om die tande en dit gaan gedurig los aan die een of ander kant. Dus vanmiddag ry ons Swakopmund toe , die slag net vir 'n opvolg en nie om iets te laat regmaak wat weereens gebreek het nie.
Die pad Swakop toe raak al hoe besiger, g'n wonder daar is so baie ongelukke nie, en die pad is vreeslik nou en ons padverbruikers, veral die taksies, weet nie wat die verkeersstrepe beteken nie. Daar word sommer op enige plek langs die pad verby gegaan by 'n ander motor. Dit is een van die paaie met die hoogste ongeluksyfer in Namibië.
Ek het so stuk-stuk geskrywe en weer iets anders goen dat dit sowaar al 8 uur is en ek is nog nie gestort of aangetrek nie. Ek dink ek sal dit maar nou moet gaan doen. Dis skoolvakansie hier by ons, en dan doen ek dit gewoonlik net na Renate skool toe is. Het so gehoop om 'n bietjie in te lê vanoggend, maar nou ja!
Ek het vir julle 'n storie by wat Renate vir die ATKV se griffelkompetisie geskryf het in Graad 7 sommer sodat ons almal weer kind kan voel.
Die sprokieswêreld van musiek
Ek is 'n bevoorregte dogtertjie. Ek besit die gawe om feëtjies te
sien en met hulle
te praat. Ek was nog baie klein toe ek dit agtergekom het.
Ek het op vier begin blokfluit neem en het altyd die lekkerste
geoefen onder die
groot wilgerboom met sy
uitgeholde stam, agter in ons tuin.
Een oggend terwyl ek gespeel het,
was daar skielik om my 'n klomp
skoenlappers met die asemrowendste
en beeldskoonste vlerke wat in die son
geglinster het. Hulle was oral. Ek het hulle van naderby gaan bekyk en amper
uit my vel gespring van blydskap!
Hulle was nie skoenlappers nie, maar
feëtjies!
Een het vorentoe gevlieg en op
die punt van my blokfluit kom sit. Met
haar
fluweelsagte stemmetjie het sy vertel dat hulle musiekfeetjies is en in die holte
van die boomstam bly. Hulle het my gewys hoe hul huis lyk. Dit was pragtig.
Daar was duisende piepklein
feëtjieliggies. Voor die vensters was
die mooiste
gordyne. Elke feëtjie se klere,
gordyne en beddegoed se kleure is verskillend.
Scherzando, die tergfeëtjie, s'n
is lilapers. Staccato, wat altyd trippel,
s'n is
liggeel. Allegro is 'n rooi en vurige feétjie en
Pianissimo is pienk en sag.
Ek is nou al in graad sewe en ek bespeel nou dwarsfluit en viool
ook. Ek
oefen
nog steeds saam met die feëtjies onder die boom. Terloops, daar
bestaan ook ‘n
feëtjiesimfonieorkes.
Ons speel graag Rimsky Korsakov se "Vlug van die Hommelby”,
maar ek moet
erken dat "Die karnaval van die diere" deur die
Fransman, Camille Saint- Saëns,
eintlik my groot gunsteling is. Verskillende diere word uitgebeeld en jy kan
jou
absoluut daarin uittleef.
Vir die olifante gebruik ek die groot basblokfluit . Eintlik
moet dit 'n kontrabas wees, maar ek en die feëtjies is te klein
om so 'n groot
instrumemt te bespeel.
Hulle moet baie hard oefen om in die orkes te kan speel en koningsblou
Madame
Fortissimo laat my toe om saam te oefen. Sy is die dirigent en baie kwaai en
streng. Net die beste is skaars goed genoeg. Sy laat ons oefen en oefen tot dit
perfek is.
Dis eintlik 'n goeie ding, want nou doen ek altyd goed in my
fluit en
viooleksamens, maar nie in klavier nie. My musiektannie het juis nou die dag
gevra hoe dit moontlik is dat ek al my fluite en viool se eksamenstukke so goed
ken, maar nie my klavierstukke nie…
Ek weet nie wat om vir haar te sê nie! Die waarheid gaan vir haar soos 'n
liegstorie klink. Sy hoef in elk geval nie als te weet nie, of hoe? Daarom
bly
ek maar net stil en glimlag liefies vir haar as sy vra...
Die feëtjies het my vertel dat as jy hulle as kind kan sien, jy
hulle vir altyd en altyd
sal kan sien. Ek
dink rêrig-egtig dat ek 'n baie
gelukkige dogtertjie is....en ek kan
nie wag op al die musiekavonture wat ek nog saam met hul gaan
beleef nie...
No comments:
Post a Comment