Baie groot skole het tradisies wat daardie skool juis so spesiaal maak. Ons skoool het 'n Ankerslaanseremonie. Die anker hang tussen twee pale en as iemand iets besonders bereik het, soos bv om oorsee aan sport deel te neem of in of uit die skool gaan, kan die anker slaan. Dis gewoonlik aan die einde van die termyn. Gister was ek bevoorreg om dié Ankerseremonie by te woon. Renate kon die anker slaan omdat sy vir karate in Terne, Italie was en 2 silwer medaljes gekry het. My hart het geswel van trots en die trane het vlak in my oe gesit. Dis darem 'n wonderlike ding as mens se kinders presteer en hul word deur die skool ook daarvoor beloon. Ek was so trots.
Theo het sy nuwe wiele, 'n Jeep Rubicon, Donderdag gekry en hy is baie opgewonde. Ongelukkig is hy op roep by die hospitaal hierdie naweek anders het ons sweerlik iewers heen gery. Ons het darem gisteraand Swakopmund toe gery om take-aways te gaan koop. Die diens was besonder laks en ons het byna 'n uur vir ons pizza gewag, terwyl die by Debonairs hul ribbetjies en by Fish aways hul vis binne 15 minute gekry het. Die pizza was nogal koud ook, maar ek het besluit om nie te kla nie , want as hul hom moes oormaak sou dit dalk nog 'n uur geneem het. Ek het hom toe maar by die huis in die mikrogolf kom warm maak.
Gister was vrekkoud. Veral die aand, mens het gevoel of jy sommer 2 of 3 warm goed oormekaar kan aantrek, Die nag ook, maar ek het lekker snoesig geslaap met die hond tussen my bene en die kat agter my rug. Vanoggend is 'n mooi dag, nie te warm of te koud nie, maar net reg.
Elfi het gaan kruideniersware en kos vir die papegaaie koop. Ek is so dankbaar dat sy dit doen, want ek haat inkopies doen. Als wat sy moet bring kom nou nie altyd presies of glad nie hier uit nie, maar dit maak nie saak nie. More is nog 'n dag, Ek is ontsteld want die mica in die woestyn sand is, het Elfi se gesig vreeslik gebrand. Nou het sy sulke seer rooi merke op haar gesig wat nogal pynlik is. Dit lyk ook rou, En sy het so 'n mooi vel. Gelukkig het sy nog nie skade aan haar gesig van die vorige kere wat dit gebeur het nie ,maar dit was nog nooit so erg soos hierdie keer nie.
Volgende naweek is 'n vrouefunksie waar hul 3300 gaste verwag, met 'n spreker uit Suid-Afrika. Dit is ten bate van die KMR. Teen 250N$ behoort hulle darem genoeg geld in te samel om 'n ruk te hou. Ek gaan ook, hier gaan so min aan dat mens maar elke kans aangryp as hier iemand kom optree. En dan gaan die wat kla hier is nooit iets nie, te besig of het iets anders aangehad. Ai, sal ons ons ou mensdom ooit verstaan.
Renate is in Windhoek vir hulle hokkie semi-finale. Ons hoop so hulle wen, maar die Windhoek skole is goed. Hulle het soveel meer geleenthede om teen goeie spanne te speel. Ons het maar 5 of 6 wedstryde in die liga en die spanne is baie swak. Hulle kry dus nooit die kans om hul eie krag te meet teen ander skole nie en verloor altyd teen spanne van Suid-Afrika of oorsese toerspanne wat hier kom speel. Nie ver nie, maar darem. Hulle het doodeenvoudig nie die ondervinding nie. Dus hou ons styf duime vas dat hulle hierdie slag deurkom want hulle het al gewen teen die skool waaarteen hulle vandag speel. Vanaand laat kom hulle seker weer met die bus huis toe. Ek is altyd so bekommerd as hul in die nag op die pad is. Die klein babbelbekkie sal seker weer baie hê om te vertel oor die hokkie en waar hul gebly het. Hierdie keer het hulle in 'n redelike "grand" hotel gebly, want hulle het hul koekverkoping se geld gebruik daarvoor. As hulle wen is dit volgende keer weeer 'n koshuis met slaapsakke, maar dan het hulle darem een keer luuks geslaap. Renate het hoeka te vertel daar is 'n buffet vir aandete en vir ontbyt. Vir hulle ouderdom is dit mos die belangrikste.
Jakarandabloeieses val in die voue van die interlocks
Groete van huis tot huis en geniet jul naweek. Die wat op die pad is, ry versigtig en kom veilig tuis
Theresa
No comments:
Post a Comment