Hier is 'n kor-kort storie vir julle.
'n Bos rose in die middel van die
snelweg
Die vrou met
die donkerbril op kom uitgestap uit die blommewinkel met 'n groot bos rooi rose
in haar arms. Om die bos is 'n kaartjie vasgebind. 'n
Oomblik lank staan sy doodstil asof in 'n trans met haar oë hemelwaarts gerig. Dit
lyk kompleet of sy bid.
Sy plaas die blomme liefderyk op die
passasiersitplek van haar motor neer en loop om na die bestuurderskant toe. Sy
haal haar sonbril af en sit dit in haar handsak, terwyl sy na die motorsleutels
soek.
Dan skielik
is dit asof sy onthou wat sy wil doen.
Sy ruk die bestuurdersdeur oop en klim vinnig in die motor. Sy sit die voertuig in rat en retireer uit
die parkeerplek. Met 'n gesuis van bande
jaag sy oor die parkeerplek totdat sy in die straat kom.
Ek is op pad
van Walvisbaai af Swakopmund toe en is kort agter haar by die parkeerterrein
uit. Deur die stadsverkeer bly ek agter
haar tot ons om die sirkel moet afdraai Swakop toe. Ek sien dat sy ook op pad is soontoe. Sy ry 'n redelike spoed, net so dat ek nie
nodig het om verby te gaan nie. Met
rukke is ek ver agter haar as daar lorries tussen ons kom.
Ek het al
byna van haar vergeet, toe sy skielik voor my op die pad doodstop sonder om 'n
flikkerlig aan te sit, en na die linkerkant van die pad by 'n klein strandjie
afdraai. Aan die linkerkant is die see nogal onstuimig en
is die geraas van branders hoorbaar bo die gedreun van die motors. Regs troon die
duine van die Namib bo ons uit. See en
sand net geskei deur die pad wat daardeur loop. Ek draai ook af - meer van
skrik as van nuuskierigheid. Ek bly in
my motor sit en sien hoe die vrou uitklim, omloop en die bos blomme uit die
motor lig. Daarmee loop sy reguit na die
middel van die teerpad en sit die bos blomme met die kaartjie knielend daar
neer. Sy bly 'n oomblik op haar knieë en
ek kan sien dat sy huil. Dan staan sy op
en loop weer na haar motor waar sy lank koponderstebo bly sit, tot sy laterdie
motor weer aansluit en stadig terug in Walvis se rigting begin ry.
Toe sy weg
is, kry my nuuskierigheid die oorhand.
Ek klim uit en gaan inspekteer die blomme. Op die kaartjie staan: "Aan my
lieflingseuntjie met jou sesde verjaarsdag.
Jy is van ons weggeneem 'n jaar gelede toe jy hier onder die wiele van
'n aankomende motor beland het. Jy het sonder om te kyk oor die pad gehardkoop
om op die duine te gaan speel". Ek
retireer saggies, want dit voel vir my asof ek heiligsgrond betree het...
In my motor
op pad huis toe besef ek opnuut hoe kosbaar die lewe is en dat dit enige oomblik
tot 'n einde kan kom. Ons moet dus elke
oomblik aangryp en voluit lewe. Carpe
diem!
479 woorde
Theresa
Potgieter
Durbanville,
Kaapstad
12 November
2012
Groetnis
Theresa
No comments:
Post a Comment