Thursday, 7 August 2014

'n Gedig vir julle:



GESTOLDE TYD


Jare, maande, dae loop met reuse treë oor ons lewens.

Stadig maar seker tik die horlosie egalig en eentonig

die ure, minute, sekondes van ons jeugdigheid af.


Met elke slag van die ghong word ons ouer

Magteloos in ons stryd om die loop van die tyd te keer,

probeer ons paniekerig om dit te stol –

gebruik ons roompies en olietjies  

om die spore van Vader Tyd te verbloem.


Dis detox en diëte,

Botox, facelifts, boob jobs,

tummy tucks, facial reconstructions.

So kry ons dit reg om die gang van die tyd tydelik te stol,

en word dit die credo van ‘n Prozacgenerasie. 

  
Tóg help dit alles niks...

Interim* kan ons sy gang stuit –

laat hy dit gedweë toe.

Uiteindelik moet ons almal tog maar

die knie buig voor Vadertjie Tyd.  


In die groot omvang van die heelal

word ons dae een vir een afgetel

op die telraam van die tyd;

loop ons almal,

in extenso*,

dieselfde afdraand pad

van is

na wees

na was.


Terwyl die uurglas stadig leegloop, word ons en passant*

               wyser

                    slimmer

                         swakker

en as Vader Tyd

  ons uiteindelik inhaal,

       word lyf en siel

           afgetakel en ouer

                 tot ons uiteindelik

                       in aeternum*

                           terugkeer tot stof.



NOTAS:
Interim - voorlopig
In extenso - volledig
In aeternum - sterwend
En passant - in die verbygaan

No comments:

Post a Comment