By ons is dit 'n heerlike rustige vakansiedag en niemand doen iets nie. More bars mens weer as jy alles moet inhaal way jy nie vandag gedoen het nie. Maar dis more se probleme. Uiteraard is hier nie eintlik nuus nie, behalwe dat Theo vir ons middagtyd enorme T-Bone steaks met 'n sampioensous gebraai het. Mens was net lus om daarna te gaan lê en lekker te dut.
Vandag sit ek 'n ou skets op wat ek al in 2005 geskryf het, maar nog net so van toepassing is vandag;
Dit was net nadat ons in Walvisbaai aangeland het.
Die saak met die bank
Wat het geword van Bank/kliënt vertroulikheid. Of is ek verkeerd as ek
nie wil hê my finansiële toestand, of eerder die gebrek
daaraan, moet die hele dorp vol lê nie. Solank
ek my skuld betaal en my verpligtinge nakom, kan ek nie insien met wie dit
enigsins iets uit te waai het nie.
So
doen ons aansoek by 'n groot finansiële instelling vir 'n huislening. Die bankverteenwoordiger kom sien ons nogal by die huis
om die aansoekvorms vir ons te voltooi..
Ons is kwansuis sulke geëerde kliënte - bank ak 25 jaar by hulle en nog
'n klomp ander snert waarmee hulle ons heuning om die mond wil smeer. Ek moet darem
erken dat dit soms lekker en baie handig is. Hulle sal glo nie daarvan droom om ons te laat inkom bank
toe om sulke gewone goed soos aansoekvorms vir 'n lening in te vul nie.
Een middag kom daar toe 'n bank-vrou, “gecollar en getaai”,
by ons aan huis. Ons praat oor die weer
en al die ander niksseggende goed waarvan mens praat as jy 'n gesprek aan die gang wil kry en
aan die gang wil hou. Ons is mos geleer
dis nie goeie maniere om met die intrapslag oor geld te praat nie. Sy waarskynlik ook, want sy praat ewe lekker
saam.
Dis egter nie lank nie, toe móét ons daaroor praat. Dis dan die hele doel van haar besoek. "How can we help
you" is mos hulle slagspreek.
En
ons praat oor geld, al het ons ma's ons geleer dat dit baie "common"
is om daarooor te praat. "Sorry, Ma", sê jy hier in jou binneste, en
praat maar aan.
Uiteindelik kom ons ooreen op 'n bedrag, maar die
hulpverlenende hand wil net doodseker maak ons vra vir genoeg, en skuif uit
haar eie die bedrag waarvoor aansoek gedoen word, met so driehonderd duisend
op. Ons weet voor ons heilige siele dat
ons nie die paaiemente op die verhoogde bedrag kan bekostig nie. Ons noem dit vir haar. "Ag," sê sy, "dis nie 'n
probleem nie. Julle gebruik maar net
soveel van die lening as waarmee julle gemaklik voel en kan bekostig om terug
te betaal".
Nou wonder ek net, hoeveel hulp is daar in ‘n wortel wat
so reg voor jou neus gehang word. Agt
uit elke tien mense sal waarskynlik dink: "wat de hel, as hulle dink my kredietwaardigheid
is soveel, hoekom dit nie maar gebruik nie". En wanneer die "paw-paw" dan die
"fan strike", word daardie helpende hand die hand wat jou hulpvraende
bak hande, wegklap. Hulle het jou mos
reeds gehelp, al dan nie. Wat dan?......
Ewenwel, so vra ons baie mooi en ordentlik dat dit
asseblief maar stil gehou moet word.
"Dis vanselfsprekend", word ons gerus gestel. Ons wil nie hê die huisagente moet ons oorval
nie, verduidelik ons verskonend, en veral moet hulle nie weet waarvoor die
lening goedgekeur word nie. Dan is dit
bykans onmoontlik om 'n laer aanbod as die gevraagde prys te maak, en nog
moeiker om te onderhandel. Want watter
agent gaan nou sy kliënt aanmoedig om te "settle" vir minder, as hy
weet waarvoor die koper deur die bank as kredietwaardig verklaar is.
Verstaan nou mooi, dis nie asof ons daarop uit is om 'n
"bargain te strike" nie, maar as ons in die proses 'n paar rand kan spaar, hoekom nie? Almal doen dit en niemand is op die ou einde
slegter daaraan toe nie .
Kry ek vanoggend die oproep. "Mevrou, die lening is toegestaan. Baie geluk".
"Dankie", sê ek beleef en baie dankbaar. "Mevrou, wat moet ons vir die huisagente
sê. Hulle bel aanmekaar om te hoor of die
lening al goedgekeur is". Ek is
stom-verbaas, om net daarna te wil ontplof.
"Hoe weet hulle van die lening", wil ek beheersd weet. Want ek weet, sowaar as wat ek ek is, dat ek
vir niemand iets daarvan gesê het nie.
En ek weet dat Manlief nooit iets sou gesê het nie. Die kans is normaalweg baie groter dat ek
iets sal uitlap, maar hierdie keer is ek onskuldig. "Nee Mevrou, ek weet regtig nie", word
ek opreg meegedeel.
Ons beëindig die gesprek en ek plaas die gehoorstuk baie
ordentlik (en sag) op die mikkie terug.
Moet egter nie dat die uiterlike beheersdheid jou mislei nie, want binne
kook dit so dat ek voel of ek enige oomblik kan ontplof.
Ek sit voor die lessenaar en tel tot 10. Toe tot 20 en daarna 30, maar dit help net
mooi niks nie. Die storm in my wil nie
bedaar nie. Ek tel en tel en tel (glo
my, nie seëninge nie), en na 'n paar honderd, begin ek effe kalmeer.
Ek besluit om die wyse ding te doen. Ek sal daaroor slaap. Ek weet dat as ek nou enige huisagent in die
hande kry, is sy haar voortbestaan nie seker nie. En wie weet wat anders ek haar nog kan aandoen of toesnou .... Nee, ek sal wag tot more.
Dinge
werk egter nie altyd uit soos ons hulle beplan nie. Net voor vyf lui die telefoon en dis niemand anders as `n
huisagent nie. Dié wil ewe weet wat ons
nou gaan doen (dis nou oor 'n huis waarna ons gaan kyk het, maar nog nie oor
kan besluit nie, omdat daar vir ons doeleindes 'n kamer kort). Ek vermoed (nee, weet) dis hulle agentskap
wat die sondebok is met die bellery na die bank, en ek antwoord ewe sarkasties
dat ek nie meer seker is of ons enige iets met hulle of die huis gaan doen
nie. Die arme vrou is skoon verboureerd
en weet nie wat aangaan nie. Ek laat nie
op my wag nie en lig haar summier in. Sy
weet van niks nie, sê sy, maar sal met
haar baas daaroor praat.
Dis nie lank nie en die foon lui weer. Hierdie keer weet ek dis die skuldige - die
eienaar van die agentskap by wie die huis in die mark is. Ek is reg hoor ek, toe ek antwoord. 'n Baie verskonende
stem groet my terug. "Ek
is so jammer, maar verstaan nie wat aangaan nie." Ek stip die punte van my misnoë aan haar uit. "Nee,"
sê sy, "ek het nog nooit die bank gebel oor jou aansoek om 'n lening
nie". Uitgevang!! "O, maar jy weet van die aansoek. Wie't vir jou gesê," bombardeer ek haar.
Sy's
vas. Ek kan dit hoor. Stilte. Nog
stilte. Ek weet nou moet sy haar
antwoord baie versigtig benader en baie goed formuleer.. Die verteenwoordiger van die bank kom soms
daar by hulle, en omdat sy weet ons is kliënte van daardie bank, het sy toevallig teenoor haar genoem
dat sy vir ons huise wys en dat daar 'n moontlikheid is dat ons in een van die
huise belangstel. Die bankvrou noem
toe, natuurlik ook heel toevallig, dat sy besig is om met ons
aansoek te werk. Maar, sê sy wat die
agente-vrou is, die bank het sy nooi gebel nie. Die heel toevalligste natuurlik, die bankvrou is niemand anders as ons
helpende hand nie.
Nou toe nou. Wie
glo 'n mens? Die bankvrou wat sê sy word
geterroriseer met oproepe, of die agente-vrou wat sê sy't nooit gebel nie. Eintlik maak dit nie saak nie. Hulle moet maar onder meaar uitbaklei wie wat
gesê of gedoen het.
Hoe dit ookal sy, die vertrouensverhouding tussen 'n bank
en sy kliënt, kan net deur die bank of
een van sy verteenwoordigers geskend word en ons kan vir niemand anders as die
bankvrou kwaad wees nie. Al die ander, die
agente, die bankvrou se werkgewers en ons, is onskuldige slagoffers van haar
los mond.
Nou
wonder ek …Hoeveel mense weet wat is ons bankbalans? Hoeveel weet hoeveel ons maandeliks op wat
ook al spandeer of nie spandeer nie? Wonder
jy nie ook nie?...
Theresa Potgieter
Walvisbaai
4 Oktober 2005
Groetnis
Theresa
Penfed Credit Union gee tans lenings uit, Penfed Credit Union is 'n tuiste en 'n plek van finansiële oplossing vir u. As u wil hê dat al u finansiële probleme iets van die verlede is en u ook al u staande skulde wil konsolideer, moet u kontak met: https://www.facebook.com/Katherine.Hernandez.017/ Bemarkingsbestuurder by Penfed Credit Union.
ReplyDeleteE -pos: penfed_creditunion@yahoo.com
Hulle gee 'n persoonlike lening van tot R450,000 of 'n Direct Plus -lening van tot R15,000,000, afhangende van watter besigheidslening u versoek. Ek is 'n begunstigde, en u staan ook 'n kans om 'n wenner te wees.
Kontak: https: //www.facebook.com/Katherine.Hernandez.017//