Wednesday, 20 August 2014

Hallo Julle

'n Nuwe dag met 'n klomp nuwe  dinge.Ek het vanoggend mybelofte aan myself gebreek deur die hoop skottelgoed te was wat hier opgestapel gestaan het. My bediende is met verlof, dus word daar nou deur niemand anders iets aan die skottel goed gedoen nie.  Maar na ontbyt vanoggend toe ek die kombuis darem so sien, besluit ek toe tog om maar om in te spring. Dis net vir die een keer het belowe.  Van vandag af was en spoel jy jou eie koppie en bord uit as jy iets gedrink of geeet het.  Ek was nie weer skottelgoed nie.  Julle lei dus af ek het nog steeds nie 'n skottelgoed wasser nie.  My tyd, dit  raak nou hoog tyd.  Veral met die bediende wat met verlof is,en my kinders is maar bederf.  Maar hulle sal maar hul handjies uit die moue moet steek en iets begin doen.  Ek is nie 'n slaaf nie en het ook honderde goed om te doen.Dit het vanoggend meer as 'n uur gevat om die skottelgoed te was en die potte en panne het ek in die stoof gesit om die weg te steek.  Dit moet eers in water geweek word voor ek hulle aanpak.

Vandag  is 'n lekker warm dag met baie buite om te doen.  Ek en die  tuinjong maak beddings vir 'n vale.  Voor gaan ek 'n kruietuin maak met 'n algemene bedding in die hoek, agter wil ons 2 beddings groente plant en 'n paar vrugtebome aanplant.  Vrugte groei nogal goed hier,  Piesangs, Appelkose en perskes.  Maar ons is nog ver van klaar,  Ek wil 'n rabarber plant ook insit, maar ek het net saad.  Ek hoop dit groei van diesaad, want ek ek dit net dat dit van 'n afgespitte stiggie af groei.  Ek gaan def probeer.

Dis stil en rustig in die huis, sonder die gesels en lag van klomp kinders en ek kan vir 'n slag iets doen wa ek wil, al is dit om met my bene omhoog te sit op my stoel en leees.  Daar is nog baie boeke op my kindle om te lees,  Goeiemore Mnr Mandela moet egter nog eers klaar en dis my voorneme vir die dag.  Miskien nog die helfte van more.

Elfi het ingedagte om clams te maak vir middagete.  Min skottelgoed, sien, hulle leer. 

Ekgaan vandag vir julle 'n sorie aanheg van 'n ou Tata wat op die plaas so slange gevnag en doodgemaak het.  Ek het dit met my eie oe aanskou.

Groetnis
Theresa




DIE SLANGDANSER


Om op 'n plaas in die hartjie van die Vrystaat te kon grootword was 'n groot

voorreg.  Ons het 'n sorgvrye kindertyd gehad, met baie vars lug, die oop ruimtes

van die Vrystaat en veiligheid.


Natuurlik lewer die plaaslewe ook sy kwota gevaar op.  Slange, veral rinkhalse,

was nogal volop op die plaas.  Toe ek so ongeveer  ses jaar oud  was, het ek 'n

noue ontkoming met een gehad.  Hierdie ondervinding het my met 'n   

lewenslange fobie  vir slange gelaat. 


Agter die rondawels en die hoenderhokke was die kampie waar die graanskuur

was.  In daardie kampie was  ook 'n hele laning bloekombome.  Toe een van die

bome dood is, het my pa die boom laat afkap as brandhout.  Al wat van die boom

oorgebly het, was 'n stomp wat ongeveer so vyftig sentimeter breed en ongeveer

sewentig sentimenter hoog  was.  Presies in  die middel van daardie boomstomp

was 'n ronde gat.  Op die oppervlak was die gat ongeveer handbreedte,  maar as

jy jou hand ingedruk het, kon jy voel dat dit breër raak ondertoe, amper soos 'n

bottel.  Hoe groot die gat aan die onderkant was, het ek egter nie geweet nie.


Die holte in die stam was dan ook die geheime bêreplek vir my kosbaarste 

besittings.  'n Readers Digest, 'n plastieksakkie vol prente en artikels  wat ek uit

tydskrifte en koerante geknip het en 'n paar tekeninge en versies..  Daar was 'n

paar mooi klippies van versteende hout en 'n groen dennebolletjies wat ek


opgetel het en geglo het my gelukbringer was.


Een spesifieke oggend, na ek vir 'n rukkie nie daar was nie, het ek toe ses jaar

oud, en my vyfjarige sussie met ons oppaster, Tsibidi, in daardie rigting gestap.

Ek onthou dat ek vir hulle die een of ander prentjie wat daar versteek was, wou

 gaan wys.


Ek het nou al lankal vergeet watter prent dit was.  By die boomstomp aangekom,

het ek hoogs opgewonde vooruit gedraf.   My hand was al uitgestrek, net reg om

in die holte te steek, terwyl ek al babbelende agtertoe gesels het. Ek was omtrent

teen die boomstam toe ek oor my eie voete struikel.  Met dié wat ek vorentoe val,

kyk ek vorentoe en vas in die oë van 'n rinkhals wat halflyf uit die gat in die

middel van die boomstomp oprys.  Ek was yskoud geskrik en lam van vrees,

want op daardie oomblik het ek besef dat ek óf bo-op die slang gaan val, óf naby

genoeg dat hy my sal kan raak pik. Vir die eerste keer in my kort lewetjie het ek

gewéét dat ek op daardie spesifieke oomblik, die dood in die oë staar.



Maar ek het nie op die slang geval nie en hy het my ook nie gepik nie.  Tsibidi

het soos 'n pyl uit 'n boog vorentoe geskiet , my aan die arm beetgekry en

agtertoe geruk.  Saam het ons omtrent vier meter weg van die stomp geval. 

Sussie het van pure skok doodstil bly staan terwyl sy die een na die ander

bloedstollende gil oor die werf laat weergalm het. 



Dit was dan ook nie lank nie, 'n kwessie van 'n minuut of drie, toe is almal wat op

die werf was, daar.  Slang se kind het teen daardie tyd reeds weer in my

heiligdom in verdwyn, en niemand kon verstaan waaroor die bohaai gaan nie. 

Tsibidi, met my styf in haar arms, het die hele relaas in Sotho afgerammel.


Die plaaswerkers was almal Sotho's. Een, wat ons Tate Hans genoem het, was

al ouerig, maar wyd en syd bekend vir sy gevegte met slange.  Hy het almal, my

ouers inkluis, beveel om terug te staan en nader geloop.  Van een van die ander

bloekombome het hy 'n tak afgebreek , die blare afgestroop en dit met sy

knipmes skerp gemaak.  Daardie stok het hy in die gat gedruk en begin steek,

terwyl hy teen die stomp geskop het.   Hy het verduidelik dat hy die slang wou

kwaadmaak sodat hy moet uitkom.  Na 'rukkie het die slang jou wrintiewaar sy

verskyning gemaak.  Tate Hans was egter reg vir hom!  Die slang was al meer as 

halflyf uitgeseil, toe gooi hy die stok weg en begin al om die stomp dans. Dan

hiernatoe, dan agterom, dan dié kant toe, so al in die rondte.  Teen dié tyd was

die slang se hele lyf al uit die gat en het hy soos 'n koning op my troon gelê.  Met

sy kop plat getrek, het hy halflyf,  omtrent 'n halwe meter hoog gestaan.  Die wit

band om sy swart nek was duidelik sigbaar.  Met dié dat Tate Hans so heen en

weer dans, pik die slang elke keer in sy rigting. En hy spoeg!  Ons kon die gif

deur die lug sien trek.  'n Rinkhals mik vir die oë en is gewoonlik baie akkuraat.

Die gif brand glo soos vuur en die oë moet dadelik, met melk  (so is vertel)

uitgespoel word om skade te voorkom. Tate Hans het egter geweet om net buite

die slang se tref- en  reikwydte te bly. 



Ek was versteen. Hoe kon hy dit doen?  Sê nou die slang pik of spoeg hom raak

en hy gaan dood.  Destyds was serum nie altyd geredelik beskikbaar op die klein

dorpies nie, en het ons reeds 'n paar honde as gevolg van slangbyte verloor.  

Tate Hans kon die mooiste stories vertel en hy was nooit te besig om een van sy

vele staaltjies met ons te deel nie.  Ek was baie lief vir hom.  Ek wou my gesig in

Tsibidi se skouer druk om nie te sien as hy raak gepik word nie, maar

dit was asof 'n vreemde soort magiese krag my getrek het, en ek het vasgenael

bly kyk...


Hierdie gedansery het vir wat vir my soos 'n ewigheid gevoel het, aangehou.  In

werklikheid kon dit nie langer as vyf of sewe minute gewees het nie. Teen dié tyd

was rinkhals se kind al moeg en het sy pikbewegings al stadiger en stadiger

geraak.  Hy kon ook na elke probeerslag nie meer heeltemal regop  kom nie. 


Hans het aanhou dans tot  die slang poegaai was.  Die oomblik wat die slang nie

meer sy kop kon optel nie, het Tate Hans soos 'n vetgesmeerde blits vorentoe

geskiet, die rinkhals aan sy stert gegryp, hom opgetel en met 'n geweldige

sweepslag teen die grond geslaan,  voor hy met sy voet die kop verbrysel het.


Ons het almal spontaan begin hande klap.  Triomfantlik het hy die slang oor die

doringdraad gaan hang.  Amper soos ‘n Laksmanvoëltjie wat sy prooi  aan ‘n

pendoring inryg.   Die Sotho’s het geglo  dat dit die maat sou lok, veral indien dit

'n broeipaar was.   Dan kon dié ook van kant gemaak word.



Theresa Potgieter
Walvisbaai












No comments:

Post a Comment