Friday 25 July 2014

Ekke

Hallo
By ons is dit 'n  heerlike  bewolkte dag en lekker matig warm. Net die regte tyd om aan die blog te werk, of om langs die see te gaan ry, maar nou skryf my jongste Renate, of Tati, soos ons haar noem, eksamen en sy moet Biologie leer.  Dks blykbaaar 'n magdom werk en in die tussenstyd skryf hulle nog Afrikaanse Grammatika ook.  Ons bly dus maar liewer by die huis.

Wie is ek?  Wat is ek?
Dit kan die beste bewoord word in 'n skets wat ek eendag oor myself moes skryf.  Hier is hy:



Wie is ek?  Wat is ek?  Hoe is ek? 

Ek is baie dinge in een pakkie.  Ek het bruin oë en donkerbruin hare.  Nie heeltemal so donker as wat dit was nie.  Grys maak dit deesdae effe ligter.  O ja, ek het bakore wat ek as kind teen my kop probeer vasplak het met Plibond.  Ek dink dit het gewerk, want deesdae lyk hulle, dis nou die ore, nie meer heeltemal so erg soos toe nie….Ek is kort....baie kort....skaars ’n vingerhoed hoog en..ek is rond.  Ek wil my amper verstout deur te sê ek is so lank as wat ek breed is.  My man sê as ek tennis speel, lyk ek soos nog ‘n tennisballetjie op die baan, darem een met voete.

Ek was ’n vet baba, ’n vet kleuter, ’n vet tiener, ’n vet grootmens.  Soms ’n bietjie maerder en partykeer bietjie dikker.  Maar vet, all the same.  Soos julle kan agterkom het ek agter in die ry rondgeploeter toe “looks“ uitgedeel is.  Op 46 het ek egter lankal vrede gemaak daarmee.  Die maer “ek“, glo iewers verskuil in my, het na jare se gewroeg en ontelbare diete, geweier om haar verskyning te maak.  Ek het besluit om haar te los waar sy is en nou is ek net ek en mense moet my so aanvaar of los. 

“Sy’t g’n vrede daarmee gemaak nie.  Kyk hoe hamer sy daarop”, hoor ek julle fluister.  Maar glo my, ek het.  As dit nie vir hierdie opdrag was wat my beveel om myself te beskryf nie, het ek daardie brokkie nuus vir myself gehou.  Nou moet ek julle egter met my woorde laat sien en dit sou onregverdig wees om julle onder ‘n wanindruk te laat. 

Gelukkig is ek darem nie net vet nie.  Die “looks-ry“ was darem die enigste een waar ek agterlangs gestaan het.  Wag, nou jok ek, daar’s nog een, maar meer daaroor later.  By die ander was ek darem in die middel en selfs by ’n paar voorlangs.  Ek is vriendelik.  Kry te maklik lief.  Daarmee saam kom noodwendig die seerkry.  Ek is vasberade...as ek eers vasgebyt het, los ek nie sommer nie.  Ek is lief vir mense en kinders.  Ek is lojaal.  Ek lag baie.  Ek gesels graag.  Ek praat
ALTYD te veel.  Ek kan nie teken nie, maar ek kan kuns waardeer.  Ek is lief vir musiek.  Ek sing graag, al sê my kinders dis vals.  Ek speel klavier.  Ek is slimmerig.  Ek is “witty“ en skerp en het altyd ’n antwoord gereed op alles.  Ek het ’n onversadigbare lus vir leer en is ’n kompulsiewe leser.  Ek is optimisties en sien graag die mooi in die lewe raak.  Ek kan foto’s neem.  Ek dink graag stories uit.  Ek skryf.   

Ek is vrou en ma.  Ek is nie ’n konvensionele vrou of ma nie, maar ’n goeie een, dink ek.  Ek het nooit die kind in my ontgroei nie.  Dit maak van my ’n snaakse vrou en lekker ma.  Ek laat my man en kinders lag.  Ek is onbeskryflik lief vir hulle.  Ek kleur in, teken, lees vir en speel met my kinders en is bekend daarvoor dat ek die mooiste Lego-modelle bou, die beste raaisels en rympies uitdink, die snaakste stories vertel...Ek kan die vinnigste lees en die vinnigste skryf...  (Laat ek liewer niks sê oor die onregverdige voorsprong wat ouderdom my gee nie!)

Toe my kinders klein was het hulle geen roetine gehad nie. ’n Paar reëls was daar wel, maar nie te veel nie.  Reëls is tog net daar om gebreek te word.  Ek wou hê my kinders moes ontdek en groei deur wat hulle ervaar.  Slaaptyd was in ons huis nooit ’n nagmerrie nie.  Elkeen het aan die slaap geraak waar hy laas gespeel het en is dan liefderik bed toe gedra en toegemaak.  En as die drake en spoke snags te veel kom lol het, het hulle by ons kom inkruip en dan was die Kaap weer Hollands.  Opstaantyd was presies die tyd wanneer elkeen wakker word.  En as daar die vorige aand nie tyd was vir bad nie, is dit gou gedoen...hetsy in die bad of ’n dip in die swembad.  Ek het vroeg geleer ’n kind kom niks daarvan oor as hy vuil gaan slaap nie.  Solank hy een keer op ’n dag skoon kom, is als reg.  Teen skoolgaande ouderdom het elkeen se binne-horlosies ingeskop en het badtyd, slaaptyd en opstaantyd vanself georden geraak.   

Speel het altyd voorkeur geniet bo kosmaak en ander onbelangrike goed.  Hulle het dus al vier vroeg geleer hoe die yskas werk, hoe om ’n toebroodjie te maak en ’n eier te bak.  Gelukkig is my man nie vol fiemies nie en is eiers en brood vir hom ’n koningsmaal.  Ek het dae saam met my kinders in die sandput omgespeel....gate gegrawe, damme en paaie gebou, sandkastele gebou, plaas-plaas gespeel, in die boomhuis pop-pop gespeel en geswaai en gegly op die Jungle Gym.  En as dit buite te warm was of reënerig, het ons die sandput binne toe geskuif op ’n groot stuk seil en verder gespeel.   Ek het vir hulle stories gelees en baie sommer opgemaak.  Ons het getel en somme gemaak.  Ek het my verbeelding vrye teuels gegee en hulle geleer om dieselfde te doen...

My kinders dra winkelklere en eet tuisnywerheid- of winkelkoek.  Ek kan bak, maar hou nie daarvan nie.  Naalwerk gee my paniekaanvalle.  Ek kry hart- en maagkrampe, my hele lyf gaan aan die bewe en ek slaan van kop tot tone uit in yskoue sweet.  Ek koop dus wat ek kan en laat herstelwerk en some insit vir mense vir wie naaldwerk ’n godgegewe talent(gawe) is.  Ek het baie ander talente en het nie tyd om te wroeg oor die een waar ek heel agter in die ry gestaan het nie...

Dis dan ek - in ’n neutedop...
Onkonvensioneel? Dalk...
Verbeeldingloos?  Nee…
Vervelig?  NOOIT…


13 Januarie 2008
Walvisbaai
Namibia

Ek het dit in 2008 geskryf, maar alles is nog dieselfde behalwe dat ek ouer, wyser en gryser is. Die stokperdjies fotografie, skryf en kuns het bygekom, maar verder bly dit hoe ek myself sien.

 My lessenaar van die regtekant
 My lessenaar van die linkerkant
 My pers liggie en kersie
 
 Ek werk op my lessenaar


Dis dan ek.  Ek hoop julle het dit geniet,Ek sluit af met 'n mooi versie wat ek eenkeer raakgelees het, en aangesien ek op 'n stadium oor my kinders gaan skryf, heel gepas. 

Monday's child is fair of face;
Tuesday's child is full of grace;
Wednesday's child is full of woe;
Thursdats's child has far to go;
Friday's child is loving and giving
Saturday's child works hard for its living
And a child that's born on the Sabbath day
is fair and wise and good and gay
        (Traditions of Devon, Bray)

Dis dan genoeg vir vandag

Blessings
Theresa

No comments:

Post a Comment