Monday 28 July 2014

Liewe vriende

Goeie more aan almal  op hierdie heerlike sonnige oggend met geen sweempie van gisteraand se koue nie,
Ek sou veel eerder langs die see wou gaan ry, 'n paar mossels uitduik om 'n mosselpotjie mee te maak, selfgs swem want die water is op 'n warm dag nie heelgtemal so koud nie,  Net koue genoeg om jou lekker koud te maak,foto's gaan neem en nog vele ander dinge waaraan ek kan dink.  Nou is dit Maandagoggend en almal weet wat dit vir 'n huisvrou beteken:  Die wasgoed staan hemelhoog. die beddens moet skoon oorgetrek word en die huis moet vir 'n slag van bo tot kant skoongemaak word.  Met al ons diere moet ons dit in elk geval elke dag doen, maar oor 'n naweek lê ons bietjie sleg en dan is Maandae erger.  Renate skryf nog eksamen vir die volgennde 2 weke, maar die week darem net Afrikaans vandag en Biologie Donderdag.  Sy het soos 'n besetene oor die naweek vir Biologie geleer want dis hordes werk.  Vandag se skool is nie meer soos toe ons skool toe gegaan het nie.  Die werk en die druk het 10x erger geword.

Ek was vanoggend by die bakkery om gou brood te koop, toe bedien die ou bakker my self.  Met sy meelbestrooide klere en chefhoed het hy my reg tot in my kinderjare gevat.  Ons was Duitsers en my ouers was met die duitse bakker bevriend.  Ons  het altyd op 'n Sondag na kerk by hulle aufsnitt (koue Vleise) gaan eet en dan mog ons in die kombuis speel en aan al die lekker dinge  vir die koekies proe.  Daarna het ons of gebly vir middagete of hulle het na ons toe op die plaas gekom vir die middag maal.  Die bakker het elke strooptyd vir my en my sussie 'n streepsakkie vol koring gevra want hy wou vir ons elkeen 'n broodjie bak.  Klokslag 2 dae daarna was hy altyyd daar met die broodjies en het ons alte lekker geëet.  Ek was al 'n groottmens toe ek besef het, hy het die koringkorrels  vir sy hoenders gevoer en gekoopgte meel gebruik om 2 broodjies te bak om 2 dogtertjies se harte bly te maak.  En die laat my nou aan 'n storie dink wat oor die spesifieke Duitsers handel.  Dit het op 'n Kersoggend gebeur.



Sonde met die Duitsers

Toe ek klein was, was daar 'n duitse bakkery op die dorp.  Die  tante het 'n broer gehad.  Ons het hom as Herr Lintner leer ken en dis ook hoe ons hom aangespreek het.  Ek kan nie onthou wat hy vir 'n lewe gedoen het nie, maar wel dat hy viool gespeel het. Nogal goed ook.   In Duitsland was hy in 'n orkes voor hulle SA toe geëmigreer het. Soms het die Lintners kom kuier vir 'n naweek en is ons dan op die mooiste vioolmusiek getrakteer.  So besluit Herr Lintner een Kersoggend net voor ons kerk toe ry, dat hy sy viool gaan saamvat om die diens betjie op te kikker.  Dit was maar 'n klein ou gemeentetjie en ons het op daardie oomblik vir jare reeds nie 'n orrelis gehad nie en het gedink dis 'n goeie plan.

Aangekom by die kerk , het hy sy boekstaander staangemaak met 'n spul boeke daarop en begin  speel. In sy sak was sy silwerflessie vol schnapps wat ek hom daar sien inglip het net voor ons by die huis weggery het.

Die eerste paar goed wat hy gespeel het was gewyde- en Kersliedere.  Iewers onthou ek, het ek die "Ave Maria" en "Kom herwaarts getroues" herken. Die priester was die oggend laat en soos die tyd aangestap het, hoe lekkerder het Herr Lintner begin speel. Vioolspeel is egter harde werk en natuurlik het die arme man dors geword ook.  Eers was die slukkies uit die flessie ver uitmekaar, maat hoe later hoe kwater.  Die slukke het met kleiner frekwensies begin kom en so ook die musiek beïnvloed. Hoe meer Herr Lintner  van die schnapps gedrink het, hoe vroliker het die musiek geword.  Toe die priester uiteindelik opdaag en met die diens wil begin, is ons vioolspeler egter op 'n roll. Die klanke van "Die Wolgalied", "Gern hab ich die Frauen geküsst" en ander operette gunstelinge  vloei uit die strykstok en dawer deur die klein kerkie.  Op hierdie stadium het 'n paar mense , onder andere my pa al vir hom gaan sê dat hy nou  moet ophou. Die diens gaan begin. 

Die Schnapps het natuurlik sy werk gedoen en hy het eenvoudig geweier en voortgespeel. Teen dié tyd het my ma al begin lag, nie hardop nie, maar daardie binnelag wat jou hele lyf laat skud en jou oë laat traan.  Ek vra hoekom sy so lag?  Sy kry egter nie 'n woord uit nie en beduie net ek moet na die priester kyk.  Op sy gesig kon jy die donderweer sien, maar soos hy homself probeer inhou, hoe rooier raak sy gesig.  Maar toe Herr Lindner lostrek met "Finiculi Finicula", was dit vir hom te veel en die bom bars.
"Kry daardie man uit my kerk uit", bulder hy van voor af in die kerk . Herr Lindler stop waragtig vir 'n paar sekondes en vra 'aber warum doch" (maar hoekom dan) en speel onmiddelik lustig voort. Teen dié tyd lag almal al openlik en dit maak Vader Ludwig net nog kwater.

Weer bulder hy, "Gooi hom uit. Ek wil hom nie in my kerk hê nie".  Ek onthou my pa en die eienaar van die kafee het opgestaan en na Herr Lindner geloop en saggies met hom gepraat.  Elkeen het hom aan 'n arm beet gekry en hom na die deur se rigting probeer lei. Toe hy egter agterkom wat aan die gebeur is, ruk hy los en strompel met die paadjie af kansel toe. Hy gaan staan voor die priester, steek sy vinger amper in die vader se oog en sê:  " Hierdie idioot!  Wat weet hy van goeie musiek?".

Toe strompel hy terug, gryp sy viool, staander en boeke en storm die kerk uit terwyl hy aanhoudend in Duits swets.  Nou js, teen hierdie tyd het almal geskater van die lag, die arme priester het uitgestorm,  sy toga al halfpad konsistorie toe uitgepluk, en nie weer te voorskyn gekom nie.  Een vir een het die laggende gemeentelede begin opstaan en uitgeloop.

Buite het almal op die kerk se stoepie nog vir 'n halfuur of so gesels en gelag  voor almal die tog terug huis toe aangepak het.  Al het ons nie daardie dag die Woord van God gehoor nie, was ons harte nog steeds gevul met die Heilige Gees. En soos een ou oom daardie oggend op die kerk se stoep opgemerk het:  " laughter and music are as good for the soul as a million preaches" . En as God nie wou hê ons moet lag nie, sou hy ons nie die vermoë gegee het om dit te doen nie.  Buitendien, waar in die Bybel staan dat jy nie in die kerk mag lag nie.

Ons almal is daardie dag huis toe sonder 'n Kersdiens, maar met 'n lied in die hart en 'n glimlag om die mond.


Mooi bly tot more en 'n lekker werksdag vir more.  More le diewasgoed nie meer soos 'n berg waaroor moet kom nie en is van dit al gestryk ,

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment