Thursday, 18 May 2017
Thursday, 4 May 2017
RAMPE EN BLAPSE EN WAT EK DAARUIT GELEER HET!
Ek was lank van die lug af, maar my rekenaar se MS Word is nou uitgesorteer en kan ek weer blog.
Vandag heg ek vir julle 'n stukkie aan wat ek geskryf het. Hoop julle geniet dit.
Groete tot volgende keer
Ek dra hierdie griffel van my op aan al my oud VLV vriendinne van Danielskuil.
By die VLV het ek dus nie net geleer broodbak, brei, hekel en naaldwerk doen nie. Wat ek wel geleer het, is die waarde van samehorigheid, liefde vir en aanvaarding van mekaar en die self, maar veral die waarde van vriendskap. Toe my dogter eenkeer in 'n Afrikaanse eksamenvraestel moes aandui waarvoor die afkorting VLV staan, het sy vol selfvertroue geskryf dit is die ”Vereniging van Lewenslustige Vroue”. Sy het 'n punt vir oorspronklikheid gekry by die onderwyser wie se vrou self 'n VLV-lid was.
Tuesday, 27 December 2016
Sjoe, die Oujaar se uurglas is besig om uit te loop en ons vat nie grond nie. Hoop julle almal het 'n Geseende Kersfees gehad en dat julle 'n lekker tydjie met julle geliefdes gehad het. Nou nog net die laaste stukke Nuwe Jaar toe.
Ons het 'n verskriklike besige tyd gehad. Renate se eindeksamenpunte het die 21ste uitgekom. Ons was die 20ste genooi vir die Departement van Onderwys se perskonferensie in Windhoek vir die bekendmaking van die uitslae. Die beste 5 kandidate in die Higher vakke en die beste 10 in Lower vakke. Ek en Renate is toe met die shuttle wat van hier af Windhoek toe ry en terug gery en vir 2 aande in 'n gastehuis gebly. Ons het met dieselfde shuttle weer teruggekom Walvis toe.
Ons het geweet Renate gaan goed doen in die eksamen, want sy is 'n harde werker, maar sy het ons sprakeloos gehad. Sy is deur die Minister van Onderys aangewys as nr 1 in Namibie. Ons is so trots op ons ou laatlammetjie. Na die bekendmaking van die uitslae het die pers en NBC (Televisie) haar gepeper met vra en onderhoude. Sy was uit haar vel van geluk en het aanhoudend geglimlag. By my het die trane van dankbaarheid en trots gevloei. Mens kan nie vir 'n ander beskryf hoe dit voel om so trots te wees nie.
Nou wag ons om die uitslag van die Mediese keuring te hoor. Dis senutergend, dié gewagtery. Sy is by al die universiteite wat Medies aanbied op 'n waglys. Die uitslag van die keuring word eers in die nuwe jaar bekendgemaak. Hou tog asb vir haar ook duimvas.
Ons oudste kinders het nie vir Kersfees huis toe gekom nie, dus was dit net ek en Theo met Elfi en Renate. Theo is nog in Turkeye, maar hy het 'n kersete gemaak het vir hom en sy meisie. Inge het saam met haar geliefde en sy ouers Kersfees gehou in die Kaap. Ons het hierdie jaar nie geskenke uitgeruil nie, maar het 'n regte Christusfees gehou.
Ek wens julle almal 'n Voorspoedige Nuwe jaar toe. Mag 2017 vir julle inhou als wat mooi en goed is, vrede, vreugde, gesondheid, blydskap, emmers vol lag en tonne liefde.
Ek groet vir eers.
Mooi bly
Theresa
Sunday, 25 September 2016
Hierdie jaar is vinnig besig om ons verby te steek en eerste by die laaste dag van 2016 aan te kom. Hoekom vlieg die tyd deesdae so vinnig? Voel dit dalk net so omdat ons ouer word en nie meer die pas kan volhou nie.. Hoe dit ook al sy, Kersfees is minder as 3 maande weg en daar was so baie goed wat ek nog wou doen, maar nou het die tyd my ingehaal
Renate is besig met eindeksamen. Sy het darem al die Afrikaanse en Engelse mondelinge gedoen en Donderdag skryf sy haar eerste vak, Biologie. Sy werk hard en ek vertrou dat dit goed sal gaan.
Ons het Donderdag aand Walvisbaai Privaat Hoerskool se senior prysuitdeling bygewoon. Ons het woordeloos en dankbaar gestaan teenoor ons kind wat elke moontlike prys ontvang het. Hierdie is 'n lys van haar prestasies.
Thursday, 8 September 2016
Ons het 'n besige laaste 2 weke gehad, met die reelings vir
Renate se Matriekafskeid hierdie gewese Vrydagaand. Die rok was darem al 3 maande terug bestel. Hare en naels en grimering geboek en gedoen. Op die ou einde het die Rolls Royce waarmee sy sou gaan, die gees gegee. Ons het toe by vriende 'n Range Rover gekry. 'n 2006 model. Nou nie vintage soos sy wou he, maar sy was tevrede. Ons het vir hulle nommerplate met hulle name en Matreks 2016 op laat maak en dit op die kar gesit. Die kleur van die nommerplate was die kleur van haar rok
Renate het die oggend van die groot dag, eers gaan ontbyt eet met hulle groep. Twaalf uur moes ons vir die hare by die Salon wees. Renate se hare het stunning gelyk. Daarna is ons na die Hotelkamer wat ons vir die dag bespreek het waar ons haar met Sushi bederf het. 3 uur het sy vir die grimering gegaan. Die meisie wat dit gedoen het, het 'n goeie job daarvan gemaak. Sy het beeldskoon gelyk.
Daarna weer terug hotel toe om aan te trek. Renate het 'n donker perske-kleur rok laat maak en sy het prentjiemooi gelyk, saam met die hare en die grimering. Die skoene wat ons die hele Windhoek plat gesoek het na, was perfek by die rok. Die date het betyds opgedaag en ons kon nog self 'n paar foto's neem. Daarna is hulle na 'n professionele fotograaf vir nog foto's, Renate het eers laat ingestap by die saal en na die foto's het ons terug gegaan na die hotel waar ons saam met haar en haar metgeself Hot Chocolate gedrink het. Daarna is hulle in die Range Rover weg saal toe. Ons was baie trots op hoe mooi ons jongste gelyk het.
Vandag was ook 'n dag van laastes. Valedictory Day en Renate se laaste skooldag. Ons het eers saam met die ander ouers en kinders tee en eetgoed genuttig. Ons is daarna na buite vir die Ankerseremonie en waar die kinders toesprake gehou het oor hulle onderwysers. Die matrieks het mooi en goed van hul onderwysers gepraat. Dis 'n tradisie van die skool dat as jy by die skool aansluit, hetsy as leerder of onderwyser, moet jy onder die anker deurstap en die anker slaan. Al die matrieks het die kans gekry om die anker te slaan. Menige onder ons het 'n traan of twee afgevee. Die kinders self was ook baie hartseer. Maar dit was 'n mooi dag en mens voel trots dat jou kind deel van so 'n tradisie en skool kon wees.
Nou le die geswoeg en leerdery vir die eindeksamen voor die deur. Ek weet dit sal goed gaan met Renate.
Ek groet nou vir eers.
Mooi bly
Groete
Theresa
Friday, 12 August 2016
Ek weet nie van julle nie, maar ek geniet dit so om na die Atletiek by die Olympics te kyk, dat al my ander werk agterwee laat. Ek was veral beindruk met die Ethiopiese meisie wat die 10 000meter gewen het. Die 2de slag wat sy daardie afstand hardloop en daar wen sy die goue medalje en verbeter die wereldrekord. Dit wil gedoen wees.
Ons het 'n besige naweek wat voorle. More ontmoet ons Theo se broer en gesin in Swakop om bietjie te kuier. Hoop net die weer is lekker en nie vol wind en stof nie. Ons sal seker die aand gaan eet iewers.
Sondagoggend ry ek en Renate met kennisse van ons Windhoek toe vir 'n funksie waar die wenners van 'n Science Olimpiad bekend gemaak gaan word. Net die top 10 is uitgenooi vanuit die hele land. Ons moet al Sondagaand daar wees, maar die funksie vind eers Maandagaand plaas. Dinsdagoggend draai ons weer terug huis toe, sodat die 2 kinders hulle laaste vak, Engels, kan skryf Woensdag.
Die skool sluit ook Woensdag en die rapporte kan Vrydagoggend afgehaal word by die skool.
Ons is redelik haastig om die rapport te kry, want die Universiteite waar sy aansoek gedoen het, soek die Junie-eksamen punte. Ons het hulle al hoeveel keer laat weet dat ons termyne het en nie kwartale nie, en dat ons kinders nie 'n Julie-eksamenpunt het nie. En kort-kort kom daar 'n e-pos aan wat dit vra. Oor en oor van dieselfde universiteite af. Maar elke keer wat ek bel, kry ek iemand andeers om mee te praat en dié weet natuurlik nie waarvan ek praat nie. Party van die telefoonnommers lui en lui net sonder dat iemand dit antwoord. Hoekom gee hulle telefoonnommers as kontaknommers uit, as hulle weet daar is niemand wat daardie foon gaan antwoord nie. Ek is al skoon geirriteerd.
Ek groet nou maar weer
Tot volgende keer
Theresa
theresa@afol.com.na
Thursday, 11 August 2016
En daar begin die Olimpiese spele met 'n openingseremonie wat ver agter die voriges staan. Ek weet nie of dit net ek is nie, maar die Opening was afgewater en ek het my dood verveel. En toe ons amper by Namibie kom, besluit die dekodeerder om te reset. Woerts en als was weg.
Renate het vandag Science geskryf en doen more die prakties. Dan is daar net nog Engels oor volgende Woensdag, en dan 'n kort vakansie, voor die eindeksamen begin. Ek het egter 'n idee dat Renate deur die vakansietjie gaan leer.
Die Matriekafskeid is die 2de September en die rok begin vorm kry. Ons gaan more vir die 4de keer pas. Die snit en kleur pas haar baie goed.
Theo se broer en vrou en 1 dogter is op die oomblik in Swakopmund. Ons sal hul seker Saterdag sien. Sondagoggend vertrek ek en Renate Windhoek toe. Sy moet 'n prysuitdelingsfunksie bywoon vir die Accounting olimpiade (ek dink dis wat dit is) waar sy een van die finaliste is. Ons moet Sondag al daar wees, al is die funksie eers Maandagaand. Hulle is 2 kinders van ons skool wat in die die top is, en hulle moet self teenwoordig wees. Ek en die ander meisie se ma het besluit om saam te ry. En sy ken Windhoek beter as ek. Sal tien teen een verdwaal en nie weet waar om heen te gaan nie. Ons ry dan Dinsdagoggend weer terug.
Die weer by is so tussen koud en warm. Baie bewolk, maar niks reenwolke nie.
Lekker dag vir julle almal verder
Totsiens
Theresa
Saturday, 30 July 2016
Ons het die laaste paar dae baie koud gekry. Vanoggend was dit vriesend koud, maar nou al bietjie warmer. Renate het hokkie gespeel vanoggend teen Windhoek Gimnasium. Hulle het 1-4 verloor. Daarna het ons en vriende na 'n nuwe koffieplek gegaan en iets geeet. Die plekkie is baie oulik en behoort aan 'n vriendin van my. Hulle kos was uit die boonste rakke. Ons sal defnitief weer soontoe gaan.
Die grootste drywende biblioteek is in ons hawe al vir 2 weke, die LOGOS HOPE Woensdagmiddag het ek en Renate besluit om self te gaan kyk, want almal vertel hoe groot en goedkoop die boeke daar is. Ons moes omtrent 'n kilometer ver parkeer en stap tot by die boot. Maar dit was die moeite werd. Ek het nog nooit so 'n groot boekwinkel gesien nie en met derduisende boeke. Die boeke word in units geprys en 30 units is N$100-00. Boeke wat gewoonlik om en by die 500 rand kos, koop jy vir 150N$. Daar is ook baie spesiale aanbiedinge. Ek en Renate is met 2 groot sakke daar uit. As die LOGOS HOPE iewers in 'n hawe naby julle te lande kom, gaan maak defnitief daar 'n draai. Dis is asemberowend!!
Renate het griep en moet leer, want dis al die 2de week van haar eksamen. Sy sê haar kop voel soos 'n sif. Maandag skryf sy Afr Opstelle en Dinsdag en ek dink Woensdag ook, Wiskunde. Die res van haar rooster weet ek nog nie, maar die Afr 1ste vraestel en mondeling en die Biologie 2 vraestelle is darem al verby.
Tussendeur is dit Matriekafskeid reelings. Skoene soek is nou op ons prioriteitslys. Die rok is darem al aan die gang en sy moet more vir die tweede keer gaan pas. Die haar, naels en grimering afsprake is al gemaak. Ons moet net iewers 'n proeflopie inpas vir die hare en grimering.
Ek gaan nou soos 'n dassie in die son sit en bak en na Luciano Pavarotti luister. Ek groet julle dus vir eers.
Lekker dag
Theresa
Sunday, 24 July 2016
Ek het die laaste ruk regtig my blog verwaarloos. Toe ek nou wil ingaan op die blad kom ek agter ek het my wagwoord vergeet. Ek weet ek het dit iewers neergeskryf, maar kan nie onthou waar nie. Ek moes toe deur 'n hele proses gaan om 'n nuwe wagwoord te registreer. Ek Het nogal gesukkel, maar toe vra ek vir Elfi om my te help. Binne 3 minute was ek terug op die lug. Die jongklomp is darem baie handiger met hierdie elektronies goed as wat ons is.
Die jaar stap met vaste tred aan, en hier by ons in Namibia is dit amper die einde van die 2de trimester. Die eksamen begin more en Renate is al weke besig met die voorbereiding. Tussendeur is dit universiteits- en beursaansoeke en stawende bewyse vir haar prestasies wat gefotostateer en gewaarmerk moet word. Sy wil graag volgende jaar gaan medies swot. Die keuring is baie streng en sy doen nou aansoek by elke Universiteit wat medies aanbied. Wits en Uni van Kaapstad, het klaar laat weet hulle keur net studente van kleur. Sy is al as student op Maties aanvaar, maar die keuring vir medies vind eers later plaas. Dan is daar nog Bloemfontein, Pretoria en UNAM (Universiteit van Namibie) Hou asb tog maar duim vas dat sy wel gekeur gaan word
Voor verlede week het die skool 'n toneelstuk opgevoer. Renate het die hoofrol vertolk en sy het ons almal stom en in trane gelaat met haar toneelspel. Sy het haar rol baie oortuigend gespeel. Die rol was dié van 'n Matriekmeisie wat al vandat sy klein was, kanker het. Sy was in remissie en die toneelstuk begin waar sy uitvind dat sy weer kanker het. Sy beplan met haar vriende 'n roadtrip, terwyl sy nog sterk genoeg is. Eers wil sy nie voortgaan met haar behandeling nie, maar sy kry nuwe insig in die lewe op die roadtrip en besluit om voort te gaan met behandeling. Dis 'n baie "sad" storie, en sy het haar rol baie oortuigend gespeel.
Dieselfde week was die 8ste JSKA Karate Wereldkampioenskappe in Swakopmund. Dit was van Maandag tot Saterdagaand. Renate het in die Kata en Freefighting deelgeneem en 2 vierde plekke gekry. Sy het ook 'n skeidsregter kursus voltooi. Namibie het die meeste goue medaljes (49) gewen en oor die algeheel die meese medaljes (92) gewen, Suid-Afrika was 2de en Skotland. Ander lande wat deelgeneem het was onder andere Duitsland, Switserland. Brittanje. Moet se, ons was almal moeg na so 'n besige week. Bedags die karate en saans die opvoering van die toneel.
Theo is al die hele naweek in en uit hospitaal toe. Meeste mense het griep. Ek hoop nie hy steek aan nie. Mens sukkel om van die gogga ontslae te raak. Ek was 2 weke lank regtig siek.
Ek gaan vir eers totsiens sê..
Tot ons weer ontmoet
Theresa
Monday, 6 June 2016
Liewe Lesers
Ek was baie lank terug op die blog. Ek vra om verskoning daarvoor. Hierdie jaar is besig om met ons weg te vlieg.
Dis Renate se laaste skooljaar en daar is so baie goed wat gedoen moet word. Die Matriekafskeidrok se kleur en snit is uitgesorteer en die lap is gekoop En was dit n stryd om die regte kleur te kry Nou net die skoene en die hare. Ek dink sy gaan baie mooi lyk.
Hìerdie naweek wat Donderdag al begin het met 2 skoolbusse vol op pad Keetmanshoop toe vir die jaarlikse Privaatskole Sportnaweek. Renate speel hokkie en het huĺle 4 wedstryde gewen en 2 gelykop gespeel. Vanaand sal hul terug by die huis wees, en more is dit weer skool. Renate spring weg met n Afrikaanse Olimpiade more.
Theo en Elfi is besig om hokke vir hulle pappegaaie te bou . Hulle het n hele paar broeipare gekry. Hulle wil met die voels teel.
Theo jnr het einde Maart verhuis na Turkye. Hy gee klas by n instituut vir tale in Instanboel. Engels en Spaans. Hy geniet dit baie, met Wattsapp kan mens hom elke dag kontak sonder dat dit baie kos. Hy kry gratis verblyf, vervoer, hy kan dus lekker
Ek gaan nou afsluit. Hoop julle het n lekker week.
Groetnis
Theresa Potgieter
Sunday, 20 March 2016
Ons het gister Swakopmund toe gery vir die Coca Cola Privaatskole Atletiekbyeenkoms. Renate het aan die spiesgooi dogters o/19 deelgeneem en haar afstand was ver genoeg om vir die Namibiese Atletiekkampioenskappe te kwalifiseer. Sy en ons is vreeslik trots dat sy so goed gedoen het. Sy het 'n paar jaar terug opgehou met spiesgooi toe die atletiek te veel tyd van haar Karate-oefeninge gevat het. By die interhuis hierdie jaar egter byeenkomshierdie jaar egter, gooi sy toe per ongeluk 'n afstand wat haar in die streekspan kry.
Ons het al van Vrydag af 'n langnaweek. Maandag is dit by ons Indepedence day (afhanklikheidsdag) soos hulle dit hier noem en dus het ons 'n ekstra vakansiedag. Volgende naweek is Paasnaweek en die drie dae tussenin het ons skool se kinders 'n midterm break tot na Paasmaandag. Renate is baie bly oor die afdae, want nou kan sy al haar werk inhaal, Theo is ook bly oor die paar dae, dan kry hy kans om sy batterye weer te laai.
Basil, ons rescue Maccaw is nou darem oor al haar vrese. Sy het vir Elfi aangeneem en verdra ons darem al naby haar. Vandat sy reg eet,het sy ook gegroei en is nou 'n mooi groot voel. Sy praat 'n hond uit 'n bos uit en so leer ons nuwe baba African Gray en Rooi Maccaw baie woorde by haar.
Theo het vir hom 'n wit Maltese poedel gekoop. Hy is versot op haar. Toe ons haar gekry het, kon sy skaars eet en toe het hy met puppy milk wat ons by die veearts gekry het, met 'n bottel gevoer 4 na 5 keer per dag. Die hondjie se naam is Billa.
Ek self het verlede naweek op 'n kat haarbal gegly en my regter knie bitterlik seer gemaak. Dit vat glo weke om beter te word, intussen klop die pyn deur my hele been. Ek bid maar dat die pyn gou draaglik word.
Ek wens julle 'n lekker naweek toe en vir die wat vir die Paasnaweek wegglip, voorspoedige reis.
Groete
Theresa
Monday, 14 March 2016
Ek was lank afwesig van my blog, maar ek sal nou probeer om meer kere iets te kom neerpen hier.
Desember was, seker soos julle s'n, ook bedrywig. Die dorp was so besig dat mens jou inkopies al voor die 16de moes doen as jy sane wou bly. Hordes mense wat jou vasdryk en vorentoe druk, is nie een van my gunsteling bedrywighede nie. Ek was hierdie jaar die early bird en was vroeg in Des klaar gekoop wat nodig is. Geskenkies ook. Ons koop elkeen net een geskenk vir die persoon wie se naam jy uit die hoed getrek het .
My ver Kaapkinders, Inge en Theo, kon ook net vir 'n week kom. Jinne, ek verlang so baie. Hierdie jaar gaan ek def Kaap toe vir 'n behoorlike kuier.
Toe die skole weer heropen het, was dinge al weer rustig, net reg vir die dolle gejaag van 'n onder hoofdogter se ma. Daar moes kaartjies gemaak word vir elke onderwyser, vir die wat verjaar en klomp ander goed en die al ewige boeke oortrek. Jippie dis my laaste jaar. Moet darem se Renate het self baie van haat boeke oorgetrek.
Renate het by die Kleure atletiek 2de gekom met die spiesgooi en so gekwalifiseer vir die Nationals. Hierdie naweek wat kom neem sy deel aan die Coca Cola Uitnodigings byeenkoms in Swakopmund. Die Nationals is ook in Swakop die jaar. 'n eerste, groot byeenkomste word gewoonlik in Windhoek gehou, maar daar is blykbaar restourasie wat gedoen moet werk.
Verder gaan dit maar soos dit gaan as jy 'n kind op skool het. Rondry, gaan haal, wag, ens. Maar ek doen dit met graagte. Renate werk so verskriklik baie en haar akademie is ook tops. Ons is baie trits op haar.
Intesen het ons drie nuwe diere gekry, Basil, 'n blou en goud Maccaw, 'n African Gray en 'n Malteserhondtjie. Hulle is baie woelig en hou ons heeltyd aan die gang.
Ekgroet eers vir vandag
Groete
Theresa
Wednesday, 4 November 2015
Hi aann almal van julle
Vandag het ek gebruik om meer vertroud te raak met my tablet Ek het nogal baie goed geleer, soos om te google en op facebook te werk. Ek is skoon poegaai.
Renate was half siekerig en het nie skòol toe gegaan nie. Ek wil nie dat sy nou griep kry nie. Die eksamen begin Donderdag met mondelinge oor hhul voorgeskrewe boekre en Vrydag skryf hulle Afrikaanse opstel vir die eksamen. Hoop sy voel more heelwat beter ek hou styf duim vas.
Elfi het vir vanaand heerlike macaroniven kaas gemaak.
Ek lees nou n baie snaakse boek? The hundred year old man who climbed out of the window and disappered deur Jonas Jonasson. Dis werklik baie snaaks. Kyk of jy dit dalk kan kry in n boekwinkel of dalk in die biblioteek kan kry.
Groete
Theresa
Tuesday, 3 November 2015
Hallo
Hallo Almal
Ek het tegnologies verder gevorder. Manlief het vir my n Samsung galaxy tablet gegee. Dit het my nogal n rukkie gevat voor ek en die tablet mekaar gevind het. Ek is darem nou al so ver dat ek vandag my blog op hom kan tik.
Veel nuus het ek nie. Ek is na my hospitalisasie steeds huisgebonde. Dit voel vir my of dit die keer langer neem om weer sterk te word. Maar byggese, dit raak elke dag bietjie beter. Hopelik is ek oor n week of twee weer my ou self.
Ons het hierdie week ook uitgevind dat Kai, ons greenwing macaw heeltemal blind is.. sy is so gebore. Theo vermoed al n ruk dat hy nie kan sien nie . Ons veearts reel toe dat ons iemaand sien wat spesialiseer in voels. Sy het bevestig dat Kai totaal blind is. Dàar is geen bloedvate in sy oe nie. Hy is dus so gebore. Gelukkig het hy nie mettertyd blind geword nie. Nou is hy goed aangepas by sy omstandighede en ken nie n lewe met sig nie.
Hy is nogals more presies 3 jaar oud. Elfi het tot vir hom n geskenk gekoop.
Nou ja,my nuus vir vandag is op.
Groete t,ot ons weer gesels
Theresa
theresa@afol.com.na
Sunday, 25 October 2015
Ek was weer vir lank stil, want ek het al weer in die hospitaal belad met 'n Superkiem in die niere en boonop longontsteking waarvan ek glad nie bewus was nie. Ek het nie eers verkoue gehad nie en niks gehoes nie. Ek was 12 dae in intensief en is so 'n week gelede ontslaan. Dis lekker om by die huis te wees, al is ek nog swakkerig en onvas opmy bene. Dit voel so asof ek nooit voorheen kon loop nie, en nou vir die eerste keer dit moet aanleer. Ek is egter baie dankbaar dat dit elke dag 'n bietjie beter gaan.
Ons was die afgelope week baie besig. Maandag was dit eers Renate se Prysuitdelingsfunksie vir kultuur en vir akademie. Sy het ons as ouers baie trots gemaak. By die Kultuur het sy 2 toekennings gekry. Ster kreatiewe skryfster en vir ster Fotograaf van die jaar. Nog 'n klompie ander kinders het ook toekennings gekry vir hulle bydrae op kultuurgebied. Na die kultuurtoekennings klaar was, was dit die Akademiese Prysuitdeling se beurt. Daar was seker nie trotse ouers as ons in daardie saal nie. Renate het met amper elke trofee vir haar graad rn vakke weggeloop. Sy het die volgende toekennings gekry:
Sunday, 5 July 2015
Lanklaas gesels
Dit lyk asof ek darem nou aan die gesond word is. Vandat ek laas met julle gesels het, het ek 2 bloedklonte deur my longe gehad. Die gevolg is dat ek nou Warfarin moet drink wat die klonte wat nog in die are is, oplos en ook die bloed dun maak. Vir my maak dit ook duiselig en ek slaan sommer op enige plek flou neer. En waar ek voorheen nooit koud gekry het nie, is ek nou so koulik dat ek byna gedurig met 'n trui of baadjie sit.
So staan ek een aand met bakke oorskietkos in die waskamer voor die yskas om dit daar te bêre. Ek het net die deur oopgemaak toe ek voel my kop begin draai. Voor ek kon vasgryp aan iets om my staande te hou, slaan ek reg op my regterskouer en sy op die teelvloer neer. Dit was onuithoudbaar seer en ek het gedink ek het iets gebreek. My skouer of my arm. Gelukkig is daar toe niks gebreek nie, maar toe sit ek met daardie pyn in my skouer en arm. Ek het gehuil van pyn so groot as wat ek is. Agv van die Warfarin mag ek geen spierverslappers of pynpille van enige aard drink nie en die arm mag ook nie gips of 'n stywe verband omkry nie. Ek het 'n sling gekry wat nie eintlik veel gehelp het vir die pyn nie. Ek het letterlik 'n week doodstil gesit en so min as moontlik beweeg om die pyn te verminder en letterlik aanmekaar gehuil van die pyn. Mens kan dit aan niemand beskryf nie. Na so 3 weke het die pyn draagliker geword en was dit nie meer so onuithoudbaar as ek beweeg nie. Dit is nou al amper 10 weke of meer, ek is ook nie eintlik seker nie, maar my skouer is nog steeds seer as ek beweeg of iets swaars optel. Tik is ook moeilik want ek moet my arm oplig. Die pyn gaan tot in my hande en vingers. Dit is die bicepspier wat so seer gekry het, maar die nagevolge is erg. Ek tik nog meeste van die tyd met my linkerhand en hier en daar 'n woord met my regterhand. Maar hy word te gou seer en lam. Ek kan darem al redelik met die muis op 'n plat oppervlak werk sonder dat dit te seer word. Nou edit ek maar al my ou foto's. Wou dit al lankal doen, maar dis 'n tydsame werk en nou het ek die tyd.
Renate-hulle se prefekondervraging en toesprake is hierdie week. Ek weet nie wanneer die verkiesing is nie, want die eksamen begin al oor 'n week. Ek verstaan nie hierdie skool se eksamenskrywery so in die middel van 'n termyn nie, want daar is amper 'n maand nog skool na die eksamen verby is. Ek is gewoond aan eksamen skryf aan die einde van 'n kwartaal of termyn. En hier gaan die sportoefeninge dwarsdeur die eksamen aan en selfs ligawedstryde word tydens die eksamen gespeel. In my tyd het alle sport voor die eksamen gestop en daar was nie sprake van wedstryde teen ander skole of tussen swkoolspanne nie. Hou maar styf duim vas vir Renate vir hierdie eksamen asseblief. Sy wil graag haar goeie punte van verlede termyn verbeter
Dit was die 2de Julie ons 32ste huweliksherdenking. As mens daaraan dink is dit al 'n leeftyd lank en het ons 'n hele paar sakke sout in dié tyd opgeeet. But still going strong. Ons hoop vir nog 32 jaar. Ek het vir Theo 'n koffietafekboek oor die soogdiere van Suider-Afrika en hul beskrywings persent gegee en hy het vir my Photoshop Elements 13 bestel, maar dit het ongelukkig nie betyds gekom nie. Nou het ek darem iets om na uit te sien hierdie week, want dit sal seker darem nie langer as 'n week vat om hier uit te kom nie. Ek edit nou maar stadig aan die ou foto's want ek wag vir die nuwe program Ek werk nog al die jare met Photoshop Elements 2 en gebruik Picasa saam met dit om reguit te maak en rooi oe uit te haal. Picasa doen dit vinnig en pynloos terwyl dit met Photoshop 'n hele operasie is en dit kom nie altyd so goed uit nie. Moet sê dis vir my lekker om my foto's te edit en 'n lekker stokperdjie. Die flaminke kom ook nou weer stadig terug en een van die dae kan ek weer by die lagoon gaan sit en foto's van hulle neem. Ek kamp partykeer sommer 'n hele oggend daar uit met my 600mm lens en driepoot en kry soms die mooiste foto's.
My arm raak nou seer van die getikkery en gaan ek julle eers weer groet.
Tot ons weer gesels, lekker bly
Groete
Theresa
Sunday, 17 May 2015
verskoon asb die gebrek aan hoofletters en spelfoute. Ek het geval en my regterskouer in sy kanon in geval. Die senings is geskeur en gerek en dit is vreeslik pynlik. As ek my arm beweeg, skiet daar 'n steekpyn van my skouer af tot in my vingerpunte. vrekseer. Ek het voor die yskas gestaan om iets terug daarin te sit, toe ek flou word en reg op my regterkant val. dit is vandag al 3 weke en ek kan geen veranderingvoel nie, ek dra 'n sling waarin my arm leen met elkebeweging voek ek hom, veral hier bolangs by die bo-armspiere en my skouer. die dokters se dit kan tot 8 weke vat om te herstel - nie gesond wees nie, maar so dat ek die arm makliker kan beweeg. Sal seker sodra ek my arm weer vryelik kan beweeg, moet gaan vir fisio. ek mag agv die bloedverdunningspille wat ek vir die bloedklonte trek nie gips kry nie, ook nie 'n verband wat styf sit nie en geen pynpille, spierverslappers of salwe nie. maar nou het ek klaar gekla
Renate hulle gaan hierdie week die Visrivier canyon stap en sy het nou net haar rugsak klaar gepak. ek het nie besef daar is so baie beplanning daarby betrokke nie. hul werk 'n spyskaart uit vir elke ete en die klere moet lig wees. omdat daar so baie rotse en hierdie jaar water in die rivier is, het hulle ook 'n hikingstok nodig, dit vou klein op soos 'n kaneradriepoot. dis om hul balans te behou en om die diepte van die water te toets. hulle vertyrek moreoggend metdie bus Hobas toe van waar hulle dan Dinsdag gaan afdaal na die rivier. Dit is nogal moeilik en neem so 3 na 4 ure, dan stap hulle nog 'n ent voor hulle kamp opslaan So 7 km. Die volgende 2 dae stap hul elke dag 25 km ev Vrydag is hulle 12 uur die middag by Ai-Ais waar hulle weer lekker kan stort en 'n ordentlike bord kos eet. Renate is baie klein gebou enons is bang die rugsak is dalk te swaar gepak. maar hulle gaan met 'n skoolgroep en die leier is 'n onderwyser wat dit al 20 keer gestap het. hy het belowe om hul rugsakke deur te gaan enreg te pak en ook uit te gooi watEk hoop net nie sy kty te veel blase op haar voete nie. dis pynlik en moet elke dag verbind word. die grootste deel van haar noodhulpkassie bestaan uit pleisters en medikasie vir blase.
Die skoolvakansie eindig vandag en van more af is die kinders weer in die tuig en begin al die buitemuurse bedrywighede ook weer. Dit gaan 'n besige kwartaal wees, met amper elke naweek hokkie. renate gaan juis die week na die Visrivier WINDHOEK TOE VIR 'n groot hokkietoernooi. Ek hoop dat haar voete teen daardie tyd al weer gesond en blaasvry sal wees, sodat hulle lekker kan speel.
my arm is nou moeg getik so met die een vinger saam. ek gaan dus eers groet. Ek skryf weer so gou as wat ek irys het om te vertel
Groete tot ons weer gesels
Hopelik sal dit al beter gaan met die getikkery en kan ek my ander hand oook al weer gebrtuikal is dit net om tehelp tik
Theresa
Monday, 4 May 2015
Af Arm
Ek was al weer "af siek", Hierdie keer het ek flou geword en op my regterarm geval. Die arm het van bo van my skouer af seergekry tot in my hande, Die sening in my skouer is geskeur of gerek af tot in my elmboog, waar ook iets fout is. Dit voel die hele tyd of iets girts-girts maak. Die deel van die arm onder die elmboog gee sulke steekpyne tot in my gewrigte. En my hande is ook seer. Ek was nie vir x-strale nie, want Theo se daar is g'n nut in nie, Al is die skouer en elmboog gebreek of gekraak, kan daar niks aan gedoen word nie. Dit is die gevolg van die bloedverdunningspille, die Warfarin. Die sening bloei binne in agv die dun bloed en as daar 'n breuk is of iets is uit potjie, moet ek geopereer wod, en met die Warfarin, wat my bloed dun maak, sal ek my tydens 'n operasie dood bloei. Daar is wel stollings medikasie wat ek vir 'n week of 2 kan vooraf gebruik, maar dan sit ons weer van voor af met die klonte en die dikte van die bloed is nou eers, verlede week weer laat toets, vir die eerste keer vandat ek siek geword het, net reg. Nou is my arm in een van daai blou slingers en hel-uit seer, maar daar is geen ander heenkome nie vir 7 tot 8 weke nie. Ek kry pynpille maar mag ook nie anti-inflannatoriese middels gebruik nie, Dit is glo ook nie goed saam met die bloedverdunningspille nie. Ek moet my dus so stil as moontlik gedra en die pyn verduur en mag uit en aantrek as ek bad en in die sling my arm gebruik as ek eet. Ek sit-le in my gemakstoel voor die tv met my laptop op my bors en maag gebalanseer en met die linkerhand tik ek lettertjie vir lettertjie nou aan die blok. Ek is seker al 'n driekwartuur besig,Namibiese All Tean Karatespan gekies wat plaasvind sodra ons skole weer hier begin, die 17de Mei. Dit vind in Johannesburg plaas en hul oefen elke aand 2 weke in Swakop, so 30 km ver, Daar is 3 kinders van Walvis en ons neem elke 3 dae beurte om te ry.
My hand is nou lam getik en daarom gaan ek nou koebaai se. Ek wil nog van die Visrivier stap vertel, maar sal more. Die groot dilemma is dat Renate moet kies, want dit en die karate oorvleuel. O ja, ek sien hier is nie regtig plek vir julle om kommentaar te lewer of terug te skryf nie. Hier is my e-pos as jy dalk graag sou wou: theresa@afol.com.na Skryf gerus vir my ook. Ek sal dit baie waardeer as ek van julle ook ietsie kan hoor
Lekker dag verder
Groete
Theresa
theresa@afol.com.na
Thursday, 16 April 2015
Ons het 'n baie besige paar weke agter die rug.
Eers het ons heerlik langnaweek gehou - van Goeie Vrydag tot Paasmaandag. Ons as gesin, het die tyd gebruik om saam in die duine te gaan ry en weer 'n slag te soek en te kyk na al die klein diertjies in die woestyn. Mens het permitte nodig om daar te ry, maar ons was verstom om toergroepe met honderde toeriste raak te loop waar die toeriste die ekosisteem van die woestyn verniel. Hulle het selfs van die duine uitgeklim, al is daar spesifieke areas gemerk waar mens wel kan duine klim. Dit lyk vir my asof die toeriste nie omgee hoeveel hulle van die land kan vernietig nie. Wat my verstand te bowe gaan is dat die toerleiers almal Namibiërs is. Kan hulle dan nie die mense beter inlig en keer as hul wil uitklim op plekke waar dit verbode is nie. Ons het Saterdag en Sondag vir 'n slag weer die omgewing verken deur die hele Duinegordel van Walvisbaai af tot in Swakopmund en terug Walvis toe te ry. Vrydag en Maandag was ons maar net rustig en het gerus.
Verlede Dinsdag, na die langnaweek, het ons skool, Walvisbaai Privaat Hoerskool, 'n Woestynfees aangebied. Die 1ste spanne van Hokkie en al die ander rugbyspanne en netbalspanne was betrokke. Daar is omtrent gesport dwarsdeur tot Saterdagmiddag. Ons 1ste Hokkie Dogtersspan het 2 wedstryde gewen en 2 gelykop gespeel. Een van dié waar hulle gelykop gespeel het, was nogal 'n Suid-Afrikaanse skool, Alberton Hoërskool. Ons het goed vergelyk met hulle en die wedstryd het met 1 elk geëindig. Die ander drie wedstryde wat hul gespeel het was teen plaaslike spanne van hier en Swakopmund. Een was gelykop en die ander twee 4-0 en 11-0. Dit was ook die eerste keer die seisoen dat die dogters kans gekry het om as 'n span saam te speel. Die seunshokkie het ook goed gevaar.
Hier was verskeie skole uit die Republiek wat teen Namibiese skole kom rugby en netbal speel het. Met party het dit goed gegaan en met ander minder goed. Maar alles gesien, dink ek nie ons Namibiërs hoef ver terug te staan vir die Suid-Afrikaanse skole nie. Nie in netbal nie en ook nie by die rugby nie. Saterdagmiddag toe alles afsluit, was almal vodde. Die kinders wat deelgeneem het, die toeskouers en al die ouers wat by die verskillende stalletjies en kosstalletjies moes werk. Daarna dink ek nie het enige iemand veel gedoen, behalwe om die rugby op TV te kyk en 'n vleisie te braai nie, en ek het al voor dit aan die slaap geraak. Ek het natuurlik weeroorboord gegaan met foto's neem en het die hele week daaraan gewerk en edit.
Hierdie week het die kinders hul eksamenvraestelle begin terugkry en daardeur gewerk. Ons weet nog nie wanneer die rapporte beskikbaar sal wees nie. Die skool sluit more om 10 uur. Dalk kry hulle dit dan. Ons is nogal nuuskierig oor Renate se rapportpunt, want dit klink of dit baie goed gegaan het. Sy het bv vir haar 1ste Biologie Hoër vraestel 100% gekry. Die onderwyser het glo gesê dat toe hy aan die einde van die vraestel kom, hy moes teruggaan om 'n fout of foute te gaan soek. Hy kon egter niks kry nie. Hy was verstom dat die kind vir 'n Hoër vraestel volpunte kry, want dit gebeur nie maklik nie. In sy 28 jaar van skoolhou was dit die eerste keer wat dit gebeur. Saam met haar kwartaalpunt van 100% en die prakties en 2de vraestel waar sy saam 6 punte verloor het, is haar Rapportpunt nou 98%. Vir Science Hoër is haar rapportpunt 92%. Sy het ook in Afrikaans en Engels, albei eerste taal Hoër opgekom, maar daardie punte, sowel as die Wiskunde en Accounting het sy nog nie die totale punt nie. Ons voel baie trots.
Ek gaan nou eers weer groet tot 'n volgende keer
Mooi bly
Theresa
Tuesday, 31 March 2015
Die afgelope naweek was 'n besige paar dae vir ons.
Saterdagoggend het ons al dou voor dag (5 uur) opgestaan om vir Renate Karate toe te vat in Swakopmund. Dis eintlik nie so ver nie, 35 km, maar mens moet altyd die digte mis op die pad in gedagte hou. Dit neem in die mis tot 'n uur of langer om die afstand te ry. As dit mooi weer is, net 'n halfuur. Maar jy kan nooit vooraf voorspel nie. Die weer was toe mooi en ons was lank voor half 8 daar. Gelukkig kon ons toe darem heel voor sitplekke kry in die nuwe sportkompleks. Dit het goed gegaan met haar. Dit was die Swakopmund Shotokan Open Champioenships. Sy het die goue medalje gewen in die kumute afdeling en brons by die Kata. Ons het seker so 1 uur daar weggekom en het toe gaan pizzas koop om te eet. Teen half 3 was ons by die huis en het ons maar net rondgesit, behalwe Renate wat nog vir eksamen moes leer en ek wat my 666 foto's wou aflaai op die rekenaar en hulle edit. Sjoe, dit was harde werk en ek was eers Sondagaand klaar en kon ek dit op facebook pos
Saterdagnag het ons bietjie reen gehad waaroor ek baie bly was. Toe hoef ons nie die grote tuin Maandag nat maak nie. Sal dit maar weer more moet doen.
Sondag het lekker rustig aangebreek. Ons was die heel dag rustig hier by die huis rond en Theo en Elfi het met hulle Macaws gespeel en gesels. Theo is ook nie eenkeer deur 'n siek pasient uitgeroep nie. Vyf uur kry hy toe 'n oproep van ons Sekuriteitsmaatskappy. Daar is by sy spreekkamer ingebreek. Hulle haal elke keer die venster uit sy spreekkamertjie se raam omdat dit agter is. Dit is die 4de keer wat dit die jaar gebeur. Nog nooit voorheen is iets gesteel nie. Hulle soek laptops en kameras en sulke goed wat hul weer maklik kan verkwansel. Die keer egter het hulle die plek omtrent leeggedra. Die 3 desktop rekenaars is weg, 'n digitale fotoraam, calculaters en allerhande ander goed. Dit moes al Saterdagnag na die reen gebeur het, want oral was modderspore en die merke van 'n voertuig in die modder buite die venster wat hul uitgehaal het en netjies teen 'n muur staangemaak is. Die alarm was aan, maar die sekuriteitsmaatskappy se hul het geen sein ontvang dat die alarm afgegaan het nie. Ons vermoed dis 'n inside job, want dit lyk of die inbreker presies geweet het waar al die ogies is. Die hospitaalwag wat rondtes doen, het die uit venster gesien en die sekuriteit gebel Sondagmiddag. Theo moes lank daar wag vir sekuriteit en die polisie om op te daag en ook om vas te stel wat alles weg is. Mens kom mos altyd na die tyd agter wat nog weg is. Gelukkig het ons darem versekering, maar ek is bang hulle begin weier om uit te betaal omdat dit so gereeld gebeur.Theo moes toe nog 'n nagwag ook huur om die oop spreekkamer deur die nag op te pas.
Gister het hulle darem die venster kom terugsit en het ons kwotasies vir die gesteelde goed begin aanvra. Ons moet ook 'n kwotasie kry vir die Mediese program waarop die hele stelsel, rekeninge en pasient inligting, loop en dis nogal 'n duur storie So om en by N$20 000 en dalk nog meer, want die ouens wat dit moet kom instaleer en die netwerke weer opstel, vra ook 'n aardige bedraggie. Ons sukkel egter so om kwotasies in die hande te kry. Dit lyk asof niemand hier iets wil verkoop en geld maak nie. En dis van die uiterste belang dat ons die rekenaars en program so vinnig as moontlik weer aan die gang kry. Dalk as Theo vanaand by die huis kom, het hy al beter nuus.
Renate hou more op met eksamen skryf. Nogal is Wiskunde haar laaaste vak. Gister het sy Engels geskryf. Vandag sit sy al amper sonder ophou voor die boeke om seker te maak sy gaan deur al die Wiskunde. Gelukkig is Wiskunde haar beste vak en kry sy gewoonlik volpunte daarvoor. Ek sal tog bly wees as die eksamen verby is, want dit was 'n besige tyd. Die eksamen het in die middel van die 1ste termyn geval en het alle buitemuurse aktiwiteite soos normaal voortgegaan. Dit was nie vir my reg nie. Hulle het selfs 'n groot sporttoernooi in die middel van die eksamen in Windhoek gehad waarvoor hulle 5 dae weg was. 5 dae waarin daar nie studeer kon word nie. Toe reen dit boonop en Renate wat vir die 1ste span hokkie daar was en 10 wedstryde moes speel. AGV die reen het die hokkiebaan verspoel en kon hulle net die eerste dag se 2 wedstryde speel. Sy kon liewer by die huis gebly het en geleer het. Daar is ook aan hulle studietyd daar belowe, wat natuurlik nie gerealiseer het nie. Sy moes dus dubbeld so hard werk toe sy teruggekom het.
Theo het nou net tuis gekom en Elfi is besig met aandete. Ek gaan julle dus eers groet.
Ons praat gou weer
Groete
Theresa