Wednesday 31 December 2014

Liewe Vriende

Vandag was weer 'n mooiweersdag sonder 'n wolkie in die lug.

Ons het almal laterig opgestaan behalwe Minos.  Kwart oor ses is sy slapenstyd verby en dan wil hy eet en speel.  Ek het opgestaan en vir hom pap gaan gee (hy eet Wheat Bix) en daarna teruggeklim in die bed en sy speelgoed langs die bed gesit dat hy kan speel.  Ek het gou weer aan die slaap geraak en eers weer teen 9 uur wakker geword.  Dis ook min of meer die tyd wat die kinders opgestaan het.

Verder het ons nie veel gedoen vandag nie.  Ons het die sepies gekyk wat ons die week gemis het en Vallei van sluiers.  Daarna of gedurende dit het Inge aan die slaap geraak, want sy het naar en nie lekker gevoel nie.  Hoop nie sy het 'n kiem opgedoen nie, want ons wil graag oor die naweek gaan piekniek hou en iewers heen ry.  Ons het nog nie besluit waarheen nie.

Minos is 'n baie mooi hondjie en hy vorder elke dag.  Mens kan dit sien.  Hy spring nou al maklik van die stoel af en speel baie lekker met Inge se hondjie. Maar hy het nog nie maats gemaak met ons huisdiere nie.  Ek dink dit sal kom as die groot kinders en hul diere weer teruggaan Kaap toe.  Hy was vir 'n maand by hulle voor hulle hom hierheen kon bring en hy het natuurlik aan hulle diere gewoond geraak.  Maar ek dink darem dis nie 'n probleem nie, hy sal gou genoeg met ons diere ook maats maak.

Ek hoop julle het 'n baie lekker Oujaarsaand en 'n geseende 2015.  Mag die nuwe jaar vir jul als wat mooi en goed is inhou:   Vrede, vreugde, geluk, gesondheid, tonne vol liefde en emmers vol lag.

Groetnis
Theresa

Tuesday 30 December 2014

Liewe Vriende

Vanoggend het ons vroeg opgestaan, die honde kos gegee en op Swakopmund by die Wimpy gaan eet.  Dit was baie lekker vir my saam met die 4 kinders.  Daarna wou Renate gaan Go-carts ry net buite Swakopmund en ons toe soontoe.  Niemand behalwe Boetnjie wou saam met haar ry nie en hulle 2 het maar die 10 rondes aangepak.  Die uitdruk van die wedren uitslae het nogal gewys dat Renate die beste rondte tyd gehad het, maar ek is seker Boetie het nie alles ingesit om haar te wen nie.  Sy was hoog trots  daarop dat sy 'n vinniger rondte as hy gehad het.

Daarna is ons petshop toe om vir die nuwe Minos 'n paar speelgoed  te koop.

Hier is 'n paar van die foto's van vandag

 Boetie
 Renate en Boetie
 Renate
 Boetie en Renate
 Renate op pad

 Theo op pad
Renate na die tyd met die helm nog op

Dis dan al vir vandag
Groetnis
Theresa


Sunday 28 December 2014

Liew Vriende

Dis die laaste dag van die langnaweek en meeste mense moet more weer werk.  Dan is daar die gelukkiges wat nog op vakansie is.  Geniet dit gate uit.  Theo werk ook more weer.  Dis dan een van die tye wat ek dankbaar is ek het nie 'n voltydse werk nie.  Ek ag myself baie gelukkig.

Gister het ons weer rustig deurgebring by die huis en die kinders het vir ons lekker kos gemaak.

Die weer is die laaste tyd so mooi dat mens nie kan glo dat die stof ooit so gewaai het nie.  Ek dink die mense op die strand geniet die lekker warm weer.  Die strand is tjok en blok vol.  Dit lyk asof daar nie 'n plek vir 'n muis  is nie.

'n Baie goeie vriendin van my van Uniondale is die naweek oorlede.  Ek is baie hartseer daaroor.  Ons gesin was nogal heel geheg aan mekaar en het graag oor en weer  gekuier.  Sy was ook die leidster van ons Engelse leeskring.  Sy was voorheen 'n prof by Wits, voor sy op Uniondale kom aftree het.  Sy was 'n besondere mens wat graag ander gehelp het.  Ons gaan haar baie mis.  Sy laat net 1 dogter na.

Ek het vandag  nie so baie nuus nie, dus groet ek maar
Theresa

Friday 26 December 2014

Hallo Julle

Hier is 'n paar foto's van my nuwe hondjie, Minos die Dachshund.  Daar is ook 'n Yorkie wat aan my dogter,  Inge behoort.












Thursday 25 December 2014

Liewe Almal

Geseende Kersfees vir 'n ieder en 'n elkeen.  Mag julle Sy vreugde, vrede en liefde ervaar op hierdie dag en al die dae wat volg.

Ons was maar rustig as gesin saam vandag.  Boetie en Sussie moes kyk na Renate se karatefoto's van Italie en dit het ons die hele middag besig gehou.  Ons het dit sommer op die TV gekyk.  Vanoggend het ons Kersliedere op Kyknet geluister.  Daar was 'n mooi program op met al die bekende Kerswysies.

Boetie is nou besig om vir ons 'n skaapboud gaar te maak vir aandete, saam met pampoen, wortels en rys.  Dis nou amper klaar en sal ons dus nie meer lank te wag voor ons eet nie.  Die hongerte begin al knaag.

Ek hoop julle het ook 'n lekker Kersdag gehad wat julle ook al gedoen het.  Geniet die res van die dag verder.  Moreoggend kan ons almal laat le.

Weereens Geseende Kersfees
Groete
Theresa

Wednesday 24 December 2014

Liewe Vriende

Vandag was ' n heerlike sonskyndag.  Net reg om by die see rond te le.  Maat ons het nie see toe gegaan nie, want Theo het vanoggend nog gewerk.  Hy het etenstyd gesluit vir die Kersgety.  Verder moes ons nog 'n paar goed by die supermark kry wat ons voorheen glad nie in die hande kon kry nie, en raai wat, dit was weer tevergeefs.

Ons het Wortelkoek vir middagete geeet en daarna Pictionary gespeel en heerlik gelag vir almal se tekenkuns, of gebrek daaraan.  Iewers het ons nog op kanaal 198 Die Wonderwerker oor Eugene Marais ook gekyk.

Boetie het my sopas gehelp  om foto's van die nuwe hondjie van hul fone op my rekenaar te laai en ons het my Kindle geupdate

Die hondjie het 'n nuwe naam.  Hy is nie meer Dobby nie, maar Minos. Dit pas vir my mooier by hom en dit is ook vir my 'n mooier naam.

Boetie en Renate is besig om Bobotie en geelrys vir aandete te maak.  Moet se die geure wat van die kombuis hier inwarrel ruik nogal lekker

Na ete sal ons die Kersgeskenke oopmaak en 'n paar Kersliedere sing.  Ons maak altyd op ou Kersaand geskenke oop.  Dis seker my Duitse Agtergrond

Ek wil vir julle 'n Geseende Kersfees toewens vol vrede en vreugde en mag julle mekaar geniet.

Groetnis
Theresa

Tuesday 23 December 2014

Liewe Vriende

Vandag is 'n heerlike dag vir my.  My groot kinders het van die Kaap giestermiddag omtrent om 6 uur hier aangekom met 'n pragtige Dachshund (worshondjie) wat Theo vir my vir Kersfees gekoop het.  Hulle het dit so in die geheim gedoen dat ek nie eerns 'n vermoede gehad het nie.  Die hondjie het al 'n maand by die kinders gebly voor hul hom nou kon saambring.  Hy word die 28ste Desember 3 maande oud.  Hy is swart met bruin merke aan die onderkant en op sy gesiggie en dis 'n langhaarworsie.  Hy sal dus elke dag geborsel moet word.  Hulle haartjies maak vreeslik kroesies wat saampak en dan moet mens die hele stuk uitknip om hom weg te kry.  Ek is uit my vel uit bly oor die hondjie.  Ek het een gehad wat 21 jaar oud geword het en wat aan die begin van die jaar dood is aan ouderdom.  Al haar organe het ingegee.

Verder het nie een van ons vanoggen laat geslaap nie - want dis mos my dag wat ek nie bediendes kry nie.  Want Dobby (vernoem na 'n kaboutertjie in Harry Potter) het ons al vroeg wakker gemaak vir sy toiletbreek en wou daarna nie weer stil le nie en het die hele tyd gehuil as jy hom op die bed sit en ook as jy hom op die grond neersit.  Ek het toe maar opgestaan sodat hy kan speel en kort daarna het die ander 4 ook slaperig aan die gang gekom

Ek  kan nie glo dis al amper Kersfees nie. Nog 1 en 'n halwe dag.  Ek hoop van harte ons het 'n mooi Kersfees hierdie jaar.  Ek weet nog nie wat ons gaan doen  nie.  Sal maar Vrydag besluit of of gaan kook of vleisbraai.  Ons het nie ander familie of vriende wat kom nie.  Hierdie jaar is dit net ons 6.

Ek hoop julle laaste kersfees voorbereiding verloop goed

Groetnis
Theresa

Sunday 21 December 2014

Liewe vriende

Vanaand het ek weer nie baie nuus nie, behalwe dat ons lui was.  Ona groot kinders  is oppad van Kaapstad hiernatoe en ek is altyd 'n bietjie bekommerd as hulle oppad is hierdie tyd van die jaar.  Hulle het 8 uur gery en is darem al deur die SA grens, maar ons het nog nie gehoor of hulle deur die Namibiese grens is nie.  Hulle is baie vol nonsens deesdae daar.

Verder het ek 'n boek van Dean Koontz gelees wat nogal goed was.  Ons het ook kuiermense gehad en die man het vir Elfi 'n terranium gebring.  Sy is baie bly daaroor, want dis baie duur om te koop.

Renate se die Beach Bash waarheen sy gister was, is niks  oor te se nie.  Dit was maar flou

Met dese moet ek nou vir julle se my nuus is op

Lekker aand
Groetnis
Theresa

Saturday 20 December 2014

Liewe Vriende

Vandag is 'n droewige dag hier by ons.  Elfi se Bearded Dragon het die tydelike vir die ewige verlaat en daar is geen salf te smeer aan haar hartseer nie.  Sy het hom gekry toe hy nog gaie klein was, kleiner as haar handpalm en sy het hom met meelwurms gevoer tot hy groot genoeg was om self te eet en te drink.  Hy was nou al meer as 30 cm lank en mooi sterk.  Eergister het hy begin siek word.  Ons het als probeer, maar tevergeefs

Verder is ons maar hier by die huis en doen die sleurtakies wat altyd agterwee bly.  Theo het sy kar se nommerplaat wat afgeval het, weer vasgeplak,  ek vat hier en daar om als vir die kinders se koms voor te berei.  AL wat eintlik nog gedoen moet word is dat die beddens skoon linne oorkry en ek skoon handoeke uithaal.  En dan kan hulle maar kom.  Hulle ry more vroeg uit die Kaap uit weg en slaap in Keetmanshoop oor.  Hopelik is hul Maandagmiddag so 1 uur hier as die diere hulle goed gedra en as dit by die grenspos vinnig gaan.  Daar kom 'n hondjie en 'n katjie saam

Vanaand sal ons 'n fliek of twee kyk en dan gaan slaap.

Rustige dag vir julle verder
Groetnis
Theresa

Thursday 18 December 2014

Hsllo vriende

Ek het gister rondgery en geskenke afgelewer by my vriende, alles klein oedjies wat ons het oorgeengekom om niks groots vir mekaar te gee nie.  Dis tog maar die gedagte wat tel.

My eerste stop was by my vriendin Jeanine.  Ek wou regtig net instap, aflewer en weer ry.  Toe is van haar familie wat lankal uit Walvis getrek het daar en daar loop dit op 'n groot kuier af.  Ek is half 4 eers daar weg, maar dit was lekker.  Die volgende twee was vinnig en maklik, maar toe ek by Hannelore kom, toe sit ek weer.  Ons kan nooit 'n kuier laat verbygaan nie, al belowe ons mekaar dis net 5 minute.
Ek het eers 6 uur by die huis gekom.

Vanoggend moes ek toe nog 3 draaie ry voor alles afgelewer was. Maar dis onmoontlik om in die dorp te probeer winkel toe gaan.  In die eerste plek is daar nie parkeerplek nie en tweedens is die strate nie so gebou dat dit soveel verkeer kan vat nie.  Van nou af vermy ek die dorp.  Net Spar toe en terug en hulle het ook niks op hulle rakke nie.  Ons sukkel om brood en melk te kry en ook vleis, veral hoender.  Ek het nog 'n paar kruideniersgoed wat ek moet koop, maar ek het 'n idee ek gaan dit nie in die hande kry nie.  Ons sal maar daarsonder moet klaarkom.

Ek lees nou weer To kill a Mockingbird, sodat ek net soveel as Renate verstaan wat daar aangaan vir volgende jaar.  Dis haar voorgeskrewe boek en ek weet sy gaan baie vrae vra.

Vandag was die weer mooi en  lekker en Saterdag gaan Renate na 'n Beach Bash toe.  Die kaartjies het nogal r150 gekos.  Hoop hulle het lekker goed vir die kinders om te doen.  Sy en 2 vriendinne gaan saam.

Nou ja, julle moet 'n lekker aan he
Groetnis
Theresa

Tuesday 16 December 2014

Hallo Julle

My hand voel soveel beter dat ek al kan probeer tik, al gaan dit hoe stadig.  Daar is nog 'n lit of 2 wat nog nie beter is nie, maar oor die algemeen gaan dit beter.

Ek het vandag die boks met kersversierings uitgehaal.  Hopelik sal ons darem die boom more versier.

Hulle het vandag 'n vakansiedag. Lekker.  Ons het ook verlede week een gehad maar ek weet nie wat sy naam was nie - in elk geval onuitspreekbaar en onskryflik.

Ons ou nog lekker vakansie en ek lees nog al die pad.  Vandag was lekker stil want hier was nie 'n huishulp nie.  Renate speel PLAYSTATION, want sy moet sokker oefen sodat sy vir Boetjie kan wen.

Die oudstes ry nou Sondag van die Kaap af hiernatoe.  Dan  is hulle so 2/3 uur se  kant hier die 22ste as hul op Keetmanshoop oorslaap.  Ek kan nie meer wag nie.  Die tyd raak nou kort.  Dit was 'n lang jaar asn mens hul nooit sien nie.

Julle moet lekker vakansiedag hou verder

Groetnis
Theresa

Friday 12 December 2014

Liewe vriende

Ek het die laaste paar dae nie geskryf nie omdat hier nie iets noemenswaardig gebeur het nie. Ons het maar rond gele en tv gekyk en gelees, dis eintlik nog steeds so. Ons geniet die vakansie gate uit.

Gister het ek die yskas uitgepak en skoon gemaak en van al die ou goed ontslae geraak. Dis een ding voor kersfees afgemerk. Vandag wou ek die kersboom opslaan, maar ek het eers my hare gaan sny en daar so geval dat my hele linkerhand nou verstuit is. Ek het eers gedink dis gebreek, maar Theo se dis net verstuit. Alhoewel ek moet se my vingers voel of hulle almal verstuit is. Hopelik word dit gou beter.

Vanoggend half 9 is Renate al uit die huis uit om 'n tafel in Probst te gaan versier vir 'n maaitjie se verjaarsdag. Sy't vandag verjaar en hulle wou vir haar 'n verassingspartytjie reel. Dit klink of hulle dit baie geniet het.

Verder het ek nie nog nuus nie en sal weer skryf sodra daar iets is om te vertel.

Groetnis
Theresa

Saturday 6 December 2014

Liewe Vriende

Vandag het ek regtig geen nuus nie.  Ons het almal laat gele vanoggend en  lui teen 10 uur se kant gaan stort en aantrek.

Daarna het ons 'n paar episodes van Masterchef SA gekyk tot nou.  Tussendeur het ons hamburgers geeet, wat nogal baie lekker was.

Theo het ook so 'n rukkie geslaap, want die afgelope week was weer erg met baie na-uurse roepe.  Gelukkig is hy nie die naweek aan diens nie en kan dus lekker rus, maar volgende naweek is dit weer sy naweek wat hy vir die hospitaal werk, en dis baie nagroepe.

Ek sien vreeslik uit na my groot kinders se kuier.  Ek wil hierdie week die kersboom opslaan en kyk of daar dalk 'n tydjie is om Lebkuchen, 'n Duitse koekie, te bak.  My seun is mal daaroor.  Mens kry die speserye vir dit nie maklik in die hande nie, maar 'n Duitse Vriendin van my in Duitsland het vir my daarvan aangestuur.  Dit proe soos 'n gemmerkoekie, net met baie meer speserye in en dis sag.

Julle moet 'n lekker aand he verder

Goedheid en Guns
Theresa

Friday 5 December 2014

Liewe Vrinne

Ek het nie gisteraand geskryf nie, want ons het eers half elf van ons ete af gekom, en toe is ek te moeg.

Ek, Hannelore en Lola het heerlik gekuier en land en sand  aanmekaar gesels.  Toe ons sien is dit al so laat.  Dit was voorwaar 'n lekker kuier met ou vriende.  Ons het besluit ons gaan dit nou meermale doen sodra Lola van London terugkeer.  Sy gaan vir haar seun kuier en ook haar kleindogter.  Op die foto's lyk dit soos die oulikste ou dingetjie.  Ons sal seker nog meer foto's moet kyk as sy terugkom.

Vanoggend het ek, Elfi en Renate ons laaste kersinkopies gaan doen en kersfeespapier gekoop. Nou kry jy my nie gou weer in die middeldorp nie.  Dis net mense en taksi's waar jy kyk en van parkeerplek is daar nie sprake nie.  Maaar gelukkig is ons geskenke gekoop en sommer vanoggend toegedraai ook.

Dis vandag 'n jaar terug wat Hannelore se man oorlede is en ek het haar gaan haal om saam met my koffie te gaan drink.  Net dat sy nie so alleen die hele middag sit nie.  Ons was tot 4 uur weg, waarna sy 'n ent gaan stap het en vanaand kom haar ander vriendinne met wyn en eetgoed kuier.  So sal hierdie hartseerdag vir haar ook verbygaan.

Dis vanaand pizza-aand hier by ons en Theo en Elfi het gou gery om vir ons pizza's te gaan kry.

Mag julle almal 'n lekker aan verder he

Groetnis
Theresa

Wednesday 3 December 2014

Hallo Vriende

Vandag was 'n heerlike dag met net genoeg wolke om die son 'n bietjie te verdof.

Ek en Hannelore het vroeg iets by Probst gaan een vir ontbyt en toe ander besigheid gedoen.  Sy soek
'n telefoonboek en kan jy glo, in die hele Walvisbaai se poskantoor en Telecom is daar nie een te vinde nie.  Dis blykbaar weggesluit in 'n stoor.  Ek wonder of hulle die sleutel verloor het?  Maar sy sit nog steeds sonder 'n telefoonboek.

Verder het ons gou by die plaaslike koerant se kantore gister se koerant gaan koop want daar was 'n foto van Renate in en gister het ek die koerant misgeloop by die verkeersligte.  Ek dink ek was te laat.  Hier is deesdae soveel mense dat as jy nie vroeg spring nie, is jy dit kwyt.  Dit werk in die winkels ook so.  Hulle pak elke dag voorraad uit, maar as jy middagtyd daar kom is die rakke leeg.Ek dink ons het nog 'n Spar of Pick 'n Pay nodig.  Die winkels wat ons hier het, kan nie meer aan die inwoners se behoeftes voorsien nie.  Dis uiters ongemaklik.  Jy moet letterlik al 8 uur in die winkel wees en dan is die brood en broodrolletjies nog nie klaar gebak nie en moet jy later nog 'n keer gaan.

More gaan ek en Hannelore met ons Spaanse vriendin uiteet by een van die beste restaurante op die dorp.  Ek sien baie daarna uit.  Sy was nou vir 2 maande in Spanje en het seker baie om ons te vertel.  Volgende week gaan sy al weer Engeland toe om by haar seun en sy gesin te gaan kuier.  On moes dus mooi kyk om 'n datum  vir die ete te kry wat ons al 3 pas.

Julle moet 'n lekker aand he

Groetnis
Theresa

Tuesday 2 December 2014

Goeiemiddag Almal

Ek dink ek het verkoue of griep onder lede.  My spiere is seer, so ook my kop en my sinusse.  Ek is ook lam en tam en dis aaof vandag nie aan die gang kan kom nie. Sal maar vanaand vir Theo iets vra.

Die kinders het vanoggend 7.30 Renate se Rapport by die skool gaan haal.  Sy het baie goed gedoen en 'n gemiddeld vir die jaar van 88%.  Ons is baie bly en baie trots of haar.  Su het vir 4 van haar vakke bo 90% gekry, vir Afrikaans EErste Taal HG 82 en vir Engels 1ste Taal Hg 70%

Daarna het hulle Playstation gespeel en doen nou nog.  Renate se sy is uitgehonger vir playstation speel want in die kwartaal speel sy dit nooit nie.  Net in die vakansies.

Verder ek het maar gelees - het nie veel gedoen nie.  My bediendes was ook nie vandag hier nie.  Dus het hier nie veel aangegaan nie.  More kom hulle darem weer.

Ek gaan nou eers vir julle totsien se

Lekker dag verder
Theresa

Monday 1 December 2014

Hallo Almla

Ek het nie gisteraand geskryf nie, want ons het te laat van die Kerssangdiens by die huis gekom.

Mensig daar was baie mense.  Die Gemeenskapskerk, die grootste kerk op ons dorp, was 6 uur al volgepak.  Die diens sou 7 uur begin, maar toe ons half 7 daar kom, was net  nog 'n paar plekker in die moederskamer leeg.  Ons kon gelukkig nog genoeg sitplekke daar kry.

Die aand was 'n belewenis en Renate het in die orkes gespeel, maar van waar ek gesit het kon ek haar nie sien nie.  Die moederskamer het net 2 vensters en mens kan nie die linkerkant of regterkant van die verhoog daarvandaan sien nie en die orkes en begeleidster het heel links gesit.  Ek het darem haar fluit se klank herken, want sy was die enigste een wat met so 'n fluit gespeel het en ook sekere stukke.  Die atmosfeer in die kerk was asemrowend alhoewel ons in die moerderkamer die meeste daarvan gemis het.  4 Gemeentes was betrokke.  Volgende keer neem ek my sit plek al 5 uur in, om seker te maak ek het 'n plek.  Al moet ek daai 2 ure wag. Die diens is afgesluit met al die deelnemers op die verhoog met kerse wat brand en die gemeente ook.  Dit was 'n gepaste einde vir 'n wonderlike diens.

Vanoggend het ons nie veel gedoen nie.  Ek was ook ni lus nie, dit het gevoel of die slaap  my wou oorval.  Seker die gevolg  van gisteraan se laat aand.  Ek is nie gewoond om so laat te gaan slaap nie en dan nog boonop 7 uur wakker te word nie, sonder dat ek weer aan die slaap geraak het nie.  Vanmiddag voel ek net dof, maar darem wakker.  Ek het darem al gelees en saam met die kinders TV gekyk.

Elfi gaan seker netnou begin kos maak en dan is Theo amper hier.  Hy werk nie so laat vandat dit vakansie is nie.  Dis of die pasiente al op vakansie begin gaan het.  Maar hy kla nie, hy het die rus ook nodig.

Ek heg vir julle 'n paar foto's aan.

Groetnis
Theresa

 Hier laai ek foto's op die blog


Renate leer Rekeningkunde
Die items wat by die Weinachtsmarkte te koop was ne hoe die mense dit geniet het


Knuspelhauschen










Karin en Klara bo en onder 'n kantprofiel van Hannelore

Saturday 29 November 2014

Hi

Vandag het ek nie veel om te se nie.  Ons was maar hier by die huis rond het nie nie eintlik iets gedoen nie.

Renate hulle het 'n 3 uur lange oefening vir hul orkessie gehad vanmiddag en ons ander het die  rugby gekyk.  Wat 'n uiterste verleentheid. Die Bokke het al hul kanse verspeel en daarom het Wallis gewen.  Mens moet darem toegee dat beide spanne baie goed verdedig het.  Renate-hulle se orkessie speel moreaand by ons Gemeenskapskerk as deel van 'n Kerskonsert.

Hier is foto's van gister se stemming.  By van die lokale was die rye 'n kilometer of langer en nie almal het die geleentheid gehad om te stem nie.  Die tyd het uitgeloop.





Groetnis
Theresa

Friday 28 November 2014

Hallo Almal

En toe was dit stemdag en die mense het gaan stem.  By die munisipaliteit alleen was die tou meer as 'n kilometer lank.  Ek het foto's daarvan geneem wat ek more of so sal opsit.  Ons het gelukkig nie nodig gehad om te gaan stem nie, want ons is net op 'n werkspermit in die land en net gebore Namibiers kan stem.  Maar die dorp was vir 'n slag stil - doodstil.  Dit was soos 'n spookdorp met geen winkels oop nie.

Vanmiddag het ek, Hannelore en Klara Weinachtsmarkt, Duitse Kersmark, toe gegaan. Daar is allerhande stalletjies wat verskillende goed verkoop en mens kry nogal oulike kersgeskenke daar te koop.  Ek het al my vriende se Kersgeskenke vanmiddag gekoop.  Verder is daar lekker Duitse kos. soos Bratwurst en Aartappelslaai te koop en ons het lekker geeet ook.  Ek het tot vir Theo hulle gebel om vir hulle te kom haal, dan hoef ons nie vanaand te sukkel met kos nie.  Ons het ons ou vriende wat van Pretoria teruggekom het ook daar ontmoet en ons het ure om 'n tafel, saam met ander ou vriende, gekuier terwyl ons geeet en gedrink het.  Dit was baie lekker. Ons het baie langer gebly as wat ons wou en is later huis toe.  Toe ons gaan, toe sien ons die ander maak ook aanstaltes om huis toe te gaan.

Ek is vanaand baie moeg.  Dit was 'n uitputtende middag waartydens ek my beste Duits moes uithaal.

Julle moet lekker slaap
Theresa

Thursday 27 November 2014

Goeiemiddag

Vanoggend was die weer lekker, maar hier teeen die middag het die sand weer 'n bietjie kom amok maak,  Maar dut was nie so doodwarm nie.

Elfie het vanoggend 8 uur 'n afspraak by die tandarts gehad waarna sy sou Spar toe gaan om inkopies vir die naweek te doen.  By die tandarts het die ontvangsdame haar heeltemal geignoreer en sy is eers twintig voor 11 in, waarin sy binne 2 min gehoor het hy sal 'n kwotasie uitwerk vir 'n brug en dit aan die mediese fons voorlĂȘ.  En sy het 'n uur en 'n halfafspraak by hom gehad.  Sulke goed maak my so kwaad.  Sy is daarna Spar toe en was so 12 uur terug by die huis.

Renate was ook besig vandag met die Junior Ciry Council.  Hulle het 'n groep agtergeblewe leerders lughawe toe gevat.  Daar het hulle die beheertoring besoek en die kinders is ook in die vliegtuig geneem en hulle kon na al die apparate wat die loods gebruik .  Hulle kon baie vrae vra en het ook.

Renate was so 1 uur by die huis.  Doodmoeg na die episode, want dit was gr4 kinders en elkeen het 'n groep gekry om op te pas.  Sy het dus die hele middag op die bank geslaap.  Elfi en ek het vanmiddag gelees - Sy die Huisgenoot en ek eers my boek en toe ook die Huisgenoot.

Theo het nounet van die werk af gekom.  Heelwat vroeer as gewoonlik.  Hulle was blykbaar vanmiddag nie so besig nie.

More is 'n staatsvakansiedag want dit is stemdag.  More sal die drop weer vol rye wees want stempunte is by baie plekke opgerig.  Ons gaan blykbaar ook e-stemming gebruik, maar ek is nie so seker dat dit vinniger sal gaan nie, want ek dink van die mense gaan nie verstaan wat aangaan nie.

Julle moet 'n lekker aand verder he
Rustig slaap
Theresa

Wednesday 26 November 2014

Hi

Vandag was weer 'n lekker dag.  Ons het vreeslik laat gaan slaap gisteraand, toe le ek en die kinders lekker in vanoggend.   Toe ons uiteindelik wakker word, het ons ontbyt geeet en TV Series gekyk.  Ons volgende episode van Grays Anatomy kom eers weer Maandagaand.  Dus ons moes iets anders vind om te kyk.

Verder het my vriendin, Karin, die een wat in Pretoria was, by my kom koffie drink en vir my boeke wat sy klaar gelees het, gebring.  Sy het nou al vir my soveel boeke gebring dat ek genoeg het vir die hele Desember vakansie en dan het ek natuurlik nog die Kindle waarop daar ook omtrent 600 boeke op is.  Dus sal ek aan leesstof nie 'n tekort he nie

Ons groot kinders kom al amper.  Hulle behoort so teen die 22ste Desember hier te wees vir 3 weke.  Ek kan nie wag om hulle te sien nie.  Ons het hulle Februarie laas gesien en ek net vir 4 ure want ek was in ICU in Swakop se hospitaal, en hulle kon een keer op 'n dag vir 2 ure kom kuier.  Hulle was toe net vir die naweek hier.

Vanmiddag het ek gelees, Renate het met haar voeltjie gespeel en TV gekyk en Elfi het vir ons 'n lekker aandete voorberei.  Theo het glad nie te laat van die spreekkamer af gekom nie.  Vir 'n slag.

Nou gaan ek Binnelanders kyk en wat ook al daarna kom, voor ek gaan slaap

Groetnis tot more
Theresa

Tuesday 25 November 2014

Hi

Ons het vandag 'n baie lekker en besige dag gehad.  Die weer was heerlik en dit het tot gemotreen vanoggend. Die res van die dag se weer het ook lekker gebly.

Vanoggend is ek en die kinders Probst toe om die vakansie en Renate se karate prestasies te vier.  Hulle het Toasted Ham, Cheese en Tomato broodjies met tjips geeet, terwyl ek 'n hamburger bestel het.  Ons wou dit gisteroggend al gedoen het, maar toe gaan werk Renate vrywilliglik by die skool om die laboratorium skoon te maak.

Ons was skaars terug van ons ekskursie af, toe bel Hannelore dat sy my kwart voor 2 kom oplaai vir tee.  Ek was natuurlik nog vol van die hamburger, en het toe net 'n stukkie Swartwoudkoek en 'n bottel water bestel.  Daarna het ons langs die lagoon gaan ry om te kyk of daar nog flaminke is, maar hulle is amper almal weg.  Net hier en daar is een te sien.  Ons het lekker gesels en dit was naby aan 5 uur toe sy my weer by die huis afgelaai het.

Renate was intuseen by 'n Junior City Council vergadering en sy was glo 4 uur terug vandaar af.

Nou gaan ek 'n bietjie lees, TV kyk, eet en dan slaap (nie noodwendig in daardie volgorde nie)

Mag ieder en elk van julle 'n lekker aan he

Groetnis
Theresa

Monday 24 November 2014

Hi

Hier is die foto's van Renateseprysuitdeling






 Renate ontvang haar buin Belt


 Trofee wenners
 Renate - beste senior vir 20014



 trofeewenners
Renate met haar Sensei