Friday 31 October 2014



Hallo

Vandag het ek nie baie om te vertel nie.  Dit was 'n rustige dag sonder enige drama of opwinding.

Vanoggend het Elfi haar vingerafdrukke by die agentskap gaan gee en die nodige vorms voltooi.  Dit het nie eers 20 minute geduur nie.  Ons vriendin het vroeg al gekanselleer vir ontbyt want sy het nie lekker gevoel nie.  Ons is daarna Tuisnywerheid toe om vir Renate 'n Pepperment tert en ander soetighede te koop, en toe huis toe.

Hier het ons tv gekyk en bietjie op FB rondgespeeel.  Renate het vandag 12 uur uit die skool gekom en Elfi het haar gaan  haal. Sy sê sy het baie lekker opstel gekryf.

Vanmiddag het sy ook bietjie gerus op die bank voor die TV en toe 'n bietjie wiskunde gedoen en aan haar Engelse taak oor sonnette gewerk.  Nou is sy en haar pa besig om van die wiskunde  wat sy so bietjie vergeet het van die eerste semester, deur te gaan.  Elfi gee haar diere kos.  Dit is 'n hele operasie wat haar omtrent 2 ure besig hou.  Ek sit en lees en wag vir Binnelanders om te begin.

Moreoggend gaan ons nou by ons vriendin koffiedrink omdat die ontbytetery nie uitgewerk het nie. Haar ma het gesê sy sal vir ons lekker vars appeltert bak.  Sien baie daarna uit want ons het mekaar lanklaas gesien.

My beste vriendin en haar man wat aan die begin van die jaar Pretoria toe getrek het, het gisteraand ook hier aangekom.  Vanmiddag het ek haar gebel en dit was heerlik om te gesels, maar ek is verstom hoe my Duits verswak het vandat ek haar laas gesien het.  Dis 'n skande.  Ek sal iets daaromtrent moet doen.  Volgende week kan ons darem weer kuier.  Sy moet net eers klaar trek.  Hulle treklorrie kom Maandag of Dinsdag.   Lyk my met 'n taal moet jy aanhoudend dit praat om dit vlot te praat, anders verleer mens  vinnig.  Tog het ek as klein kind op 'n Vrystaatse plaas Sotho leer praat en ek kan dit tot vandag toe nog vlot praat.

Julle moet 'n lekker aand hê
Groetnis
Theresa

Thursday 30 October 2014



Liewe Vriende

Ek het vanoggend aan die skryf geraak en voor ek my kon kry was dit 1 uur en tyd vir Theo om huis toe te kom en Renate te gaan haal.  Ek begin nou eers rigting kry met my boek wat ek wil skryf.  Die navorsing is gedoen en nou lê die harde werk voor.  Om uit daardie inligting in 'n boek te omtower.

Renate-hulle begin more met eksamen.  Hulle skryf Afrikaanse opstelle.  Van moremiddag af sien ons weer vir Renate min soos sy leer.  Die skole sluit eers die 21ste November

Vandmiddag het ek gelees en 4 uur is ek en Theo na die Agentskap wat ons werkspermitte en permanente verblyfreg reël.  Daar moes ons elkeen 3 stelle vingerafdrukke gee.  Jinne, ons hande was vuil.  Toe gee die vrou vir ons Wet Wipes en dit werk soos 'n bom.  Gou-gou was ons hande silwerskoon.  Theo moet aansoek doen vir die verlening van sy werkspermit en ons doen ook nou aansoek vir permanente verblyfreg.  Ons is nou 10 jaar hier en ons is nou geregtig daarop om daarvoor aansoek te doen.

Elfi moet moreoggend  haar vingerafdrukke gaan gee en daarna gaan ons ontbyt eet saam met 'n vriendin by Anchors, 'n plekkie langs die waterfront met sy eiesoortige  karakter.

Verder het ons nie veel gedoen nie.  Elfi het kos gemaak en ons het al klaar geëet.  Ek gaan nou na die nuus Binnelanders kyk en dan weer lees tot dit slapenstyd is.

Groetnis tot more
Theresa

Wednesday 29 October 2014



Liewe  Vriende

Ek het lekker maaggriep gehad gisternag...  Ek het so lekker rondgehol ek kon myself nie keer nie.  Gelukkig het Theo vir my vanoggend pille gegee wat dit darem tot bedaring gebring het.  Renate se mangels pla ook nog, maar sy is vanoggend skool toe om haar toetse te gaan skryf.  Dit het darem nie sleg gegaan nie, sê sy.

Half 2 het ek by die tuisnywerheid gaan kuier.  Dit was heel lekker want ek wou net 'n bietjie wegkom uit die huis uit.  Terwyl ek daar was bel my ander vriendin en vra of ek nie bietjie by haar wil kom Scrabble speel nie.  Ek koop toe vir ons twee broodjies, want ek het toe nog niks die hele oggend geët nie, en is toe soontoe.  Eers het sy koffie gemaak en ons het ons broodjies geëet.  Toe het ons begin Scrabble speel.  Ons kon twee potte inpas tussen half 3 en half 7.  Toe's ons altwee opgedink.  Ons het die snaakste letterkombinasies getrek dat dit met tye onmoontlik was om selfs net een woord te bou.  Ons het lank gesukkel, by altwee potte, om al die teeltjies   op te gebruik.

Iets snaaks het vandag met my gebeur.  Ek wou voor die tuisnuwerhuid stop en daar was toe swaar 'n parkeerplek.  Agter die parkeer plek was daar 'n swart motor. My motor is wit.  ek het lekker ingery en reggetrek toe 'n Kleurlingman vir my së ek het sopas voor teen sy motor vasgery.  Ek kon dit nie glo nie, want ek het niks gevoel of gehoor nie.  Toe ek uitklim wys hy vir my wit merke wat aan sy motor se "bumper" is en wat nou glo deur my veroorsaak is.  Ek  kyk toe na my kar, maar daar was nie 'n merkie op nie.  Ek gee hom toe my besonderhede en my telnr (Posadres nie straatadres) nie en ek belowe ek sal dit by my versekering aanmeld.  Terwyl ons Scrabble speel kry ek 'n oproep van hom dat ek my nie verder hoef te bekommer nie.  Hy het die merke met rubbing compound (is daar so iets)afgekry en hy gaan nie eis nie.  Maar ek kon sweer dit was nie ek wat daardie merke aan sy motor besorg het nie.  Ek wonder nou nog wat hy eintlik wou gehad het  en of hy dalk sy kar verniet wou laat regmaak, want dit was gestamp ook.  Maar hy het nie vir my die skuld vir die stampe gegee nie.  Snaaks nê,

Julle moet 'n lekker aand verder hê en hou duim vas dat ek vannag darem mag slaap

Groetnis
Theresa

Tuesday 28 October 2014



Liewe Vriende

Vandag was weer Dinsdag en dan het ek mos nie 'n bediende nie.  Ek en Efli het so bietjie aan die kant gemaak , maar verder het ons net gecill.  Hoeveel kan 2 mense nou in 'n oggend, en 3 in die middag nou  deurmekaar maak.

Ek het darem vanoggend weer 'n bevlieging gekry om te dig en 'n paar gediggies het daaruit voortgevloei.  Daar moet egter nog baie geskaaf word,voor dit publiseerbaar is.  Vanmiddag het ek gelees en so tussendeur na 'n fliek gekyk wat Elfi eintlik besig was om te kyk.  Renate het geleer, maar die ame kind het mangelontsteking en sy is koorsig en voel regtig nie lekker nie.  Hoop dit gaan more goed  haar Wiskunde toets en die Afrikaanse toets wat hulle gister geskryf het.  As hulle afwesig was vir 'n toets moet hulle dit eenvoudig op 'n later dag skryf.  Dis ook goed as jy dalk in die eksamen 'n glipsie kry,  dan het jy darem die kwartaalpunt.

Nou het ek nie verder nuus nie.

Lekker aand vir almla

Theresa

Monday 27 October 2014



Liewe Vriende

Ek het vandag 'n kort dag gehad.  Ek kon gisteraand glad nie slaap nie.  Ek het als probeer tot warm melk met heuning in probeer, maar Klaas Vakie het my heeltemal vergeet.  Toe Theo 6 uur opstaan om te gaan stort,het ek uiteindelik aan die slaap geraak.  Maar dis nie hy wat my uit die slaap gehou het nie.  Hy le doodstil.  Dis ek wat die heelaand rondgerol het.  Ek het 10 uur eers wakker geword toe Elfi instorm om te kyk hoekom ek nie uit die kamer kom nie en om geld te kom haal om kruideniersware te koop.

Daarna het ek gelees, maar sonder veel aandag.  Mens bly mos maar moeg.

Na ete, het my vriendin van die Tuisnywerheid gebel en gesë ons moet gou by haar kom stop, sy wil vir ons elkeen 'n roomys gee.  Sy het 'n roomysmaker gekry.  Ons toe soontoe en ek moet sê die roomys het heerlik gesmaak.  Net reg vir hierdie hitte.  Toe ons by die huis kom was die Alluminium-mense voor die deur om ons skuif gaasdeur te kom aansit.  Hulle het ongelukkig nie gesê toe hulle loop nie, en die deur werk nie.  Jy moet al jou krag gebruik om hom 'n paar sentimeters te stoot.  So sal hy ook nie lank hou nie.  Nou sal hulle maar more moet terugkom om dit te kom regmaak en ook die blindings terugsit wat hul afgehaal het.  Theo sal dit nooit regkry nie.  Hy het 10 duime as dit by sulke goed kom.

Die res van die middag het ek vir Renate haar kortvrae uit Siener uit die Suburbs gevra en dit het ons goed omtrent 2 ure besig gehou.  Gelukkig was ons net klaar toe Theo van die werk af kom.
Vanaand skryf sy weer aan haar Engelse werkstuk van 1000 woorde oor die werking van 'n sonnet.  Ek het nou die dag daarna gekyk en dit lyk vir my maar vreeslik moeilik.  Ek verstaan daarvan niks nie, en ek het Engels 3 op Universiteit gehad.  Skool raak al moeiliker.  Dis in elk geval baie moeiliker as toe ek op skool was.

Julle moet 'n lekker aand hê

Groetnis
Theresa