Sunday 5 October 2014

Hallo Almal

Dit lyk of die wind en sand uiteindelik besluit het om 'n ruk te gaan slaap, want ons het nou al 'n paar windlose en sandlose dae.  Vandag was weer 'n mooiweersdag hier by ons.

Renate het in gister se National Development Tournament vir karate baie goed gevaar.  Dit was teen Suid-Afrika.  In die kata het sy silwer gekry en in die kumite (vegkuns) 'n brons.  Ons was moeg toe ons van daar af teruggekom het.

Vandag het Renate heeldag geleer en vir haarself 'n leerrooster vir die eksamen uitgewerk.  Ons het ook gewerk aan haar Afrikaanse voorgeskrewe boek se vrae wat sy moet uitwerk.  Ons is darem nou al meer as halfpad klaar daarmee.  Dit is ontsaglik baie werk en hul moet dit voor die 16de ken en ingee.
Skool is darem baie anders as wat dit was in ons tyd.  Dit lyk my dit raak elke jaar nog moeliker as die vorige jaar.  En meer ook.  Die hoeveelhede werk wat die kinders moet leer laat mens rillings kry.

Verder was daar nie tyd om enige iets anders te doen nie.  Theo het vir ons gebraai vanmiddag en  ons het heerlik geeet.  Daarna het hy n bietjie skuins gaan le, Elfi het TV gekyk en op haar rekenaar gewerk en ek en Renate was besig met Siener in die Suburbs.

Julle moet 'n mooi aand verder he

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment