Tuesday 7 October 2014

Liewe Vriende

Vandag het ons 'n stil  dag gehad.  My bediende was nie hier nie en dit was 'n lekker stil dag.
Behalwe dat Elfi se rot gisteraand uit sy hok gekom het.  Hoe weet ons nie, maar die hok staan in 'n oorvol garage en toe moes sy hom soek.  Dit het haar die hele oggend geneem om hom te kry.  Sy moes alles heen en weer skuif in die soektog en sy was pê na sy dit gedoen het.  Toe moes alles mos nou weer terug gepak word. Ek is net bly sy het hom gekry en dat hy niks oorgekom het nie.  Dit is nogal 'n oulike ou dingetjie en ek verstaan hoekom sy vanoggend so ontsteld was toe sy agterkom hy's weg.  Ons garagedeur het onder 'n gleuf en ek was baie bang dat hy dalk daardeur uit is buite toe, in welke geval sy hom nie weer sou gekry het nie.  En dit was ons opwinding vir die oggend.

Ek het my boek Salmon Fishing in Yemen vanoggend klaar gelees en soek nou na iets nuuts om te lees.  More gaan ek, Elfi en 'n vriendin Swakopmund toe om sushi te gaan eet en dan sal ek daar by die boekwinkel vir 'n nuwe boek kyk.  Ek is verlore as ek nie kan lees nie. Ek het ook 'n Kindle wat baie boeke op het ,maar op die oomblik gebruik Renate hom om haar Engelse voorgeskrewe boek, To kill a mockingbird daarop te lees.  En ek weet nie hoe om 2 boeke op die ding te bookmark nie.  Nou gebruik ek hom liewers nie totdat sy klaar gelees het nie.

Vanaand het hulle 'n Big Bragg gehad by die karate en Renate moes al haar medaljes saamvat.  Hulle sou foto's neem en dit sal in Vrydag se koerant verskyn.  Ek moet tog net onthou om Vrydag een te koop.  Die karate is seker nou klaar vir die trimester want hulle begin al amper met eksamen. Sy is juis nou besig om te leer vir 'n toets more en Vrydag.  Moreoggend na die toets ry hulle Windhoek toe om Wiskunde Olipiade te gaan skryf.  Hulle kan alleen of in groepe van 2,3 of 4 deelneem, maar sy skryf alleen.  Ek hoop dit gaan goed met haar.  Sy hou gelukkig baie van Wiskunde.  Hulle gaan seker laat moreaand eers terug wees, want Winhoek is 400km ver en dan die aand weer terug.

Ek en Elfi gaan nou Binneland kyk.  Met Kyk-net se herskedulering van programme weet ek nie eers watter program kom daarna nie.  Sal maar sien en dan besluit of ek gaan kyk of eerder gaan slaap.

Julle moet 'n lekker aand hê

Groetnis
Theresa


No comments:

Post a Comment