Thursday 30 October 2014



Liewe Vriende

Ek het vanoggend aan die skryf geraak en voor ek my kon kry was dit 1 uur en tyd vir Theo om huis toe te kom en Renate te gaan haal.  Ek begin nou eers rigting kry met my boek wat ek wil skryf.  Die navorsing is gedoen en nou lê die harde werk voor.  Om uit daardie inligting in 'n boek te omtower.

Renate-hulle begin more met eksamen.  Hulle skryf Afrikaanse opstelle.  Van moremiddag af sien ons weer vir Renate min soos sy leer.  Die skole sluit eers die 21ste November

Vandmiddag het ek gelees en 4 uur is ek en Theo na die Agentskap wat ons werkspermitte en permanente verblyfreg reël.  Daar moes ons elkeen 3 stelle vingerafdrukke gee.  Jinne, ons hande was vuil.  Toe gee die vrou vir ons Wet Wipes en dit werk soos 'n bom.  Gou-gou was ons hande silwerskoon.  Theo moet aansoek doen vir die verlening van sy werkspermit en ons doen ook nou aansoek vir permanente verblyfreg.  Ons is nou 10 jaar hier en ons is nou geregtig daarop om daarvoor aansoek te doen.

Elfi moet moreoggend  haar vingerafdrukke gaan gee en daarna gaan ons ontbyt eet saam met 'n vriendin by Anchors, 'n plekkie langs die waterfront met sy eiesoortige  karakter.

Verder het ons nie veel gedoen nie.  Elfi het kos gemaak en ons het al klaar geëet.  Ek gaan nou na die nuus Binnelanders kyk en dan weer lees tot dit slapenstyd is.

Groetnis tot more
Theresa

No comments:

Post a Comment