Monday 13 October 2014

Hallo liewe Vriende

Ek moet tot my skaamte erken ek het weer nie vanaand nuus nie.  Vandag was 'n gewone Maandag met niks om te vertel nie.

Ek het wel baie gelees en so 'n bietjie op FB gespeel, maar verder niks.  Elfi was heeldag met haar visse en spinnekoppe besig.

Ek plaas maar vanaand 'n storie vir julle wat ek 'n rukkie terug geskryf het;



Sonde met die Duitsers

Toe ek klein was, was daar 'n duitse bakkery op die dorp.  Die  tante het 'n broer gehad.  Ons het hom as Herr Lintner leer ken en dis ook hoe ons hom aangespreek het.  Ek kan nie onthou wat hy vir 'n lewe gedoen het nie, maar wel dat hy viool gespeel het. Nogal goed ook.   In Duitsland was hy in 'n orkes voor hulle SA toe geëmigreer het. Soms het die Lintners kom kuier vir 'n naweek en is ons dan op die mooiste vioolmusiek getrakteer.  So besluit Herr Lintner een Kersoggend net voor ons kerk toe ry, dat hy sy viool gaan saamvat om die diens betjie op te kikker.  Dit was maar 'n klein ou gemeentetjie en ons het op daardie oomblik vir jare reeds nie 'n orrelis gehad nie en het gedink dis 'n goeie plan.

Aangekom by die kerk , het hy sy boekstaander staangemaak met 'n spul boeke daarop en begin  speel. In sy sak was sy silwerflessie vol schnapps wat ek hom daar sien inglip het net voor ons by die huis weggery het.

Die eerste paar goed wat hy gespeel het was gewyde- en Kersliedere.  Iewers onthou ek, het ek die "Ave Maria" en "Kom herwaarts getroues" herken. Die priester was die oggend laat en soos die tyd aangestap het, hoe lekkerder het Herr Lintner begin speel. Vioolspeel is egter harde werk en natuurlik het die arme man dors geword ook.  Eers was die slukkies uit die flessie ver uitmekaar, maat hoe later hoe kwater.  Die slukke het met kleiner frekwensies begin kom en so ook die musiek beïnvloed. Hoe meer Herr Lintner  van die schnapps gedrink het, hoe vroliker het die musiek geword.  Toe die priester uiteindelik opdaag en met die diens wil begin, is ons vioolspeler egter op 'n roll. Die klanke van "Die Wolgalied", "Gern hab ich die Frauen geküsst" en ander operette gunstelinge  vloei uit die strykstok en dawer deur die klein kerkie.  Op hierdie stadium het 'n paar mense , onder andere my pa al vir hom gaan sê dat hy nou  moet ophou. Die diens gaan begin. 

Die Schnapps het natuurlik sy werk gedoen en hy het eenvoudig geweier en voortgespeel. Teen dié tyd het my ma al begin lag, nie hardop nie, maar daardie binnelag wat jou hele lyf laat skud en jou oë laat traan.  Ek vra hoekom sy so lag?  Sy kry egter nie 'n woord uit nie en beduie net ek moet na die priester kyk.  Op sy gesig kon jy die donderweer sien, maar soos hy homself probeer inhou, hoe rooier raak sy gesig.  Maar toe Herr Lindner lostrek met "Finiculi Finicula", was dit vir hom te veel en die bom bars.
"Kry daardie man uit my kerk uit", bulder hy van voor af in die kerk . Herr Lindler stop waragtig vir 'n paar sekondes en vra 'aber warum doch" (maar hoekom dan) en speel onmiddelik lustig voort. Teen dié tyd lag almal al openlik en dit maak Vader Ludwig net nog kwater.

Weer bulder hy, "Gooi hom uit. Ek wil hom nie in my kerk hê nie".  Ek onthou my pa en die eienaar van die kafee het opgestaan en na Herr Lindner geloop en saggies met hom gepraat.  Elkeen het hom aan 'n arm beet gekry en hom na die deur se rigting probeer lei. Toe hy egter agterkom wat aan die gebeur is, ruk hy los en strompel met die paadjie af kansel toe. Hy gaan staan voor die priester, steek sy vinger amper in die vader se oog en sê:  " Hierdie idioot!  Wat weet hy van goeie musiek?".

Toe strompel hy terug, gryp sy viool, staander en boeke en storm die kerk uit terwyl hy aanhoudend in Duits swets.  Nou js, teen hierdie tyd het almal geskater van die lag, die arme priester het uitgestorm,  sy toga al halfpad konsistorie toe uitgepluk, en nie weer te voorskyn gekom nie.  Een vir een het die laggende gemeentelede begin opstaan en uitgeloop.

Buite het almal op die kerk se stoepie nog vir 'n halfuur of so gesels en gelag  voor almal die tog terug huis toe aangepak het.  Al het ons nie daardie dag die Woord van God gehoor nie, was ons harte nog steeds gevul met die Heilige Gees. En soos een ou oom daardie oggend op die kerk se stoep opgemerk het:  " laughter and music are as good for the soul as a million preaches" . En as God nie wou hê ons moet lag nie, sou hy ons nie die vermoë gegee het om dit te doen nie.  Buitendien, waar in die Bybel staan dat jy nie in die kerk mag lag nie.

Ons almal is daardie dag huis toe sonder 'n Kersdiens, maar met 'n lied in die hart en 'n glimlag om die mond.


Lekker aand vir julle verder
Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment