Friday 3 October 2014

Hallo  Almal

Hier was dit 'n wonderlike sonskyndag sonder enige wind of sand.  Mens was net lus om heeldag buite te wees.

Ek het vandag nogal 'n vol program gehad.  'n Vriendin wat vanoggend sou kom kuier, het uitgestel na vanmiddag en toe neem ek die kans waar om gou 'n koek by my vriendin by Kokkedoor in die mall te gaan koop.  Dit was toe nie so gou nie en ek het 'n hele rukkie daar gekuier, terwyl sy oor en weer mense help.  Dit was nogal lekker,want vandat sy nou voltyds besig is met Kokkedoor het ons nie meer so baie tyd om te kuier nie.  Maar toe die koekafleweringsmense kom met hulle koekies en groot koeke het ek maar die hasepad gekies.  Dit was te besig en ook naby etensuur.

Vanmiddag het 'n ander liewe vriendin vir ons kom kuier en dit was heerlik.  Ons het land en sand gesels, seker ook oor ons mekaar so lanklaas gesien het.  Ons het daar en dan besluit ons gaan Woensdag Swakopmund toe ry om sushi te gaan eet en bietjie in die dorp rond te loop.  Ons het juis op Woensdag besluit omdat Renate dan in Windhoek sal wees vir die Wiskunde Olimpiade en nie na skool gehaal hoef te word nie.  Ons het dus heeldag vir onsself.

Verder het hier niks gebeur nie.  Renate het vanmiddag gaan help om die saal vir more se internasionale karate kompetisie tussen Namibie en SA reg te maak en sy was skaars daarvan terug toe is sy na een van haar maats wat 'n braai hou.

Theo, ek en Elfi het Kentucky geeet en darem so ook vol gekom.  Ek moet sê Kentucky se diens is nie van die beste nie, veral as jy deur die Drive-Thru gaan nie.  Daar is altyd iets wat of verkeerd ingesit is, of iets wat jy bestel het is nie in die pakkie nie.  En as mens by die huis kom is jy tog nie lus om terug te ry en te gaan kla nie.  Hulle sal jou in elk geval nie glo nie.  Mens behoort die bestelling daar en dan deur te gaan en hulle op hulle foute wys, maar dis glad nie so maklik as daar 'n tou ongeduldige bestuurders agter jou in die tou is nie.

Ek groet tot more.  Lekker aand vir julle

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment