Wednesday 8 October 2014

Hallo Almal

Vanoggend het ek amper verslaap vir ons afspraak met ons vriendin om Swakop toe te gaan.
Ek is holderstebolder uit die bed uit, vir Elfi probeer wakker maak, want sy't ook verslaap en toe gaan stort.  Ek het so vinnig moontlik gemaak en agtergekom ek kan in 15min stort, aantrek en klaarmaak.  Dit was 'n rekord. Maar ek hou nie van die gevoel van verslaap nie, mens voel so gejaagd en kry nie kans om uit te sien na die dag nie.  Op die ou einde, met petrol ingooi nog vooraf, was ons darem net 7 min laat.  Glad nie sleg nie, nê.

In Swakop aangekom het ons eers by so 'n oulike plekkie, Slo-Jo gaan koffie drink.  Ek het 'n Chai-koffie gedrink en dit was nogal lekker.  Elfi en Jeanine het cuppachino's gedrink.  Daarna is ons troeteldierwinkel toe en Elfi het 'n klomp goed vir ons diere gekoop.  Onder andere 'n hangmat vir die rot.  Wat hulle nie alles deesdae uitdink nie.  Sy het vir die pappagaai ook twee kosbakke en 'n tou gekoop.  Hy byt hulle so vinnig stukkend, mens kan skaars byhou.  Sy't ook 'n klomp viskos gekoop, want hierdie hordes vistenks in my huis het baie visse in.  En dan het sy nog omtrent 20 Siamese fighter visse wat elkeen in sy eie hokkie bly.  Hulle baklei as hulle in dieselfde tenk is.

Daarna het ons toe gaan sushi eet by 'n plek met die naam The Fish Deli.  Ons het al gehoor van hulle lekker sushi en wou graag daarvan gaan probeer.  Behalwe die gewone soorte het hulle ook 'n tempura prawn sushi wat baie lekker was.  Daar het ons lank geëet en gekuier.

Toe is ons na die nuwe kwekery toe .Eintlik is hy nie nuut nie.  Hy het net geskuif maar is nou omtrent 4 keer groter met 'n wonderlike winkel waar jy omtrent enigiets vir plante tot geskenke kan koop.  En hulle is nie baie duur met hulle goed nie.  Elfi het daar vir haar spinnekoppe klein terracota potjies gekry vir haar spinnekoppe om in nes te maak.  Daarna het ons weer gaan koffie drink, hierdie keer by die kwekery se koffiewinkel.

Daarna het ons die rit huis toe aangepak en ons het die hele 30 km aanmekaar gesels.  Dit was ook 'n lieflike dag met net 'n ligte windjie wat gewaai het.

Ons wag nog vir Renate om huis toe toe te kom van Windhoek af.  Hulle is seker darem al halfpad.  Sy sê die Wiskunde was torture. Ek kan nie aflei uit haar sms af hoe sy geskryf het nie.  Sover ek weet is daar matriek wiskunde ook in en 'n olimpiade se vraestelle is maar moeilik.  Verlede jaar het sy en haar maat, sy was in 'n groep van 2, 3de gekom in hulle afdeling.  Hierdie jaar moes sy maar alleeen deur die vraestel worstel.  Maar ons sal seker netnou alles hoor.

Ons het klaar geëet en nuus gekyk en ek sal nou kyk of daar iets op die tv is wat ek wil kyk, anders sal ek Facebook se Scrabble teen my vriendin in Pretoria speel.

Julle moet 'n lekker aand verder hê

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment