Monday 27 October 2014



Liewe Vriende

Ek het vandag 'n kort dag gehad.  Ek kon gisteraand glad nie slaap nie.  Ek het als probeer tot warm melk met heuning in probeer, maar Klaas Vakie het my heeltemal vergeet.  Toe Theo 6 uur opstaan om te gaan stort,het ek uiteindelik aan die slaap geraak.  Maar dis nie hy wat my uit die slaap gehou het nie.  Hy le doodstil.  Dis ek wat die heelaand rondgerol het.  Ek het 10 uur eers wakker geword toe Elfi instorm om te kyk hoekom ek nie uit die kamer kom nie en om geld te kom haal om kruideniersware te koop.

Daarna het ek gelees, maar sonder veel aandag.  Mens bly mos maar moeg.

Na ete, het my vriendin van die Tuisnywerheid gebel en gesë ons moet gou by haar kom stop, sy wil vir ons elkeen 'n roomys gee.  Sy het 'n roomysmaker gekry.  Ons toe soontoe en ek moet sê die roomys het heerlik gesmaak.  Net reg vir hierdie hitte.  Toe ons by die huis kom was die Alluminium-mense voor die deur om ons skuif gaasdeur te kom aansit.  Hulle het ongelukkig nie gesê toe hulle loop nie, en die deur werk nie.  Jy moet al jou krag gebruik om hom 'n paar sentimeters te stoot.  So sal hy ook nie lank hou nie.  Nou sal hulle maar more moet terugkom om dit te kom regmaak en ook die blindings terugsit wat hul afgehaal het.  Theo sal dit nooit regkry nie.  Hy het 10 duime as dit by sulke goed kom.

Die res van die middag het ek vir Renate haar kortvrae uit Siener uit die Suburbs gevra en dit het ons goed omtrent 2 ure besig gehou.  Gelukkig was ons net klaar toe Theo van die werk af kom.
Vanaand skryf sy weer aan haar Engelse werkstuk van 1000 woorde oor die werking van 'n sonnet.  Ek het nou die dag daarna gekyk en dit lyk vir my maar vreeslik moeilik.  Ek verstaan daarvan niks nie, en ek het Engels 3 op Universiteit gehad.  Skool raak al moeiliker.  Dis in elk geval baie moeiliker as toe ek op skool was.

Julle moet 'n lekker aand hê

Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment